Die regering is na bewering besig om belangrike inligting van die publiek te weerhou oor die invoer van Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika. Altesaam 24 Kubaanse ingenieurs is verlede maand deur die regering na die land gebring om die Departement van Water en Sanitasie (DWS) te help om die land se haglike waterinfrastruktuur te probeer regruk.
Die vakbond Solidariteit glo egter die regering speel nie oop kaarte met die publiek oor waarom Suid-Afrikaners kwansuis nie die werk kan doen nie.
Solidariteit het Woensdag (19 Mei) hofstukke op die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, beteken oor haar omstrede besluit om Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika te bring om die werk te doen.
Die regsproses sluit in die bekendmaking van inligting, ’n interdik om die ontplooiingsproses stop te sit, asook ’n aansoek vir die hersiening van die regering se besluit.
Die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Hermann, sê hulle het besluit om met die regsproses voort te gaan nadat daar vergeefs probeer is om antwoorde uit die Minister te kry waarom Suid-Afrikaners nie die werk kan doen nie.
#InDieNuus
Solidariteit sal Woensdag om 10:00 hofstukke op Lindiwe Sisulu beteken oor haar omstrede besluit om Kubaanse ingenieurs na SA te bring om die land se waterkrisis op te los.@Netwerk24 https://t.co/EvFSELQgqy @SolidariDirk #BankJouKennis: https://t.co/V9lOo2wbES— Solidariteit (@solidariteit) May 19, 2021
Hermann sê in ’n verklaring Solidariteit begin sy regstappe deur met ’n proses vir openbaarmaking van inligting te begin. “Ons moet die geheimhouding rondom die Kubane se koms, wat hulle gaan doen, hoe die geld bestee gaan word en of die Kubaanse ingenieurs geregistreer is, verbreek,” het Hermann gesê.
Die regsgeding volg nadat die Minister nie by die spertyd gehou het om ’n voorstel te maak om die dispuut tussen Solidariteit en die regering te ontlont nie. Solidariteit sê hoewel hulle regstappe voortgaan, hoef verdere gesprekke met die regering nie uitgesluit te word nie.
“Ons is teleurgesteld in die minister. Daar was ’n versoek van die regering om ’n voorstel aan ons voor te lê en ons het die spertyd vir so ’n voorstel twee keer uitgestel. Buiten dat die regering nie by die spertyd gehou het nie, het die minister ook nie op wesenlike regsvrae wat Solidariteit gestel het, geantwoord nie. Daar is belangrike inligting wat steeds van die publiek weerhou word. Dit behoort nie so moeilik te wees om inligting oor die aanwending van belastinggeld te kry nie,” het Hermann gesê.
Solidariteit het ook ’n aansoek gebring dat die ontplooiingsproses stopgesit word hangende die hersieningsaansoek wat gaan volg.
In die hersieningsaansoek gaan Solidariteit vra dat die regering se besluit om die Kubane in te voer ongeldig verklaar word.
Solidariteit se aansoek berus op twee betoë. In die eerste plek word aangevoer dat die besluit om Kubane in te voer terwyl Suid-Afrikaanse vaardighede beskikbaar is, nie rasioneel is nie. Hulle voer ook aan dat dit onwettig is vir die Kubane om professionele ingenieurswerk te doen en af te teken, omdat hulle nie aan die Suid-Afrikaanse registrasie- en akkreditasievereistes voldoen nie.
“Indien die Kubane bloot hier is om ’n mentorskaprol te speel en R64 miljoen daarvoor betaal word, sal dit die duurste mentorskapprogram in Suid-Afrika se geskiedenis wees. Indien hulle nie hier by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (IRSA) geregistreer is nie, beteken dit ook dat hulle onder die toesig van Suid-Afrikaanse ingenieurs moet werk en dat hulle net basiese werk sal kan doen. Dit sal alles bydra tot die totaal onlogiese besluit om die Kubane in te voer,” het Hermann afgesluit.
Die regering is uit verskeie oorde daarvan beskuldig dat hy behep is met sogenaamde Kubaanse kundigheid. Politieke partye wat ook sterk kapsie gemaak het teen hierdie besluit, is onder andere die DA, die Vryheidsfront Plus en Action SA.
Solidariteit het reeds verlede maand ’n prokureursbrief aan Sisulu gestuur waarin hulle vra dat die Kubaanse ingenieursprogram onmiddellik opgeskort word en dat sekerheid verskaf moet word oor die wettigheid van die Kubane se lisensiëring en registrasie.