Solidariteit kap regering oor intimidasie van onderwysers

  • 0

Die vakbond Solidariteit sê hulle gaan nie die regering se intimidasie van onderwysers oor taalbeleid en toelating duld nie.

Die reaksie volg ná uitsprake van die adjunkminister van basiese onderwys, Reginah Mhaule, waarin sy aanvoer dat Afrikaanse onderwysers ook in Engels móét klasgee wanneer Engelse leerders by hul skool skoolgaan.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk sê in ’n verklaring hulle sal moedertaalonderrig, sowel as Afrikaanse skole en onderwysers teen hierdie aanslag beskerm en sal nie skroom om die Bela-wetgewing in die hof te beveg nie.

Mhaule se uitspraak volg na aanleiding van die gesprekvoering rondom die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela), wat tans aan die gang is. Hierdie wette beoog om, onder meer, besluitneming oor skole se taal- en toelatingsbeleid van beheerliggame na regeringsdepartemente oor te dra.

Die departement van basiese onderwys (DBO) het vroeër die week sy kommer uitgespreek oor wat hulle bestempel as misleidende inligting rakende die bedoelings van die Bela-wetsontwerp.

Ná ’n besluit deur die Nasionale Vergadering se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys om nagenoeg 10 000 uitstaande voorleggings te verwerk, het die DA dit as ’n oorwinning geëis ná herhaalde oproepe om uitstaande kommentaar te oorweeg.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het gesê dit is onbehoorlik van die DA om oorwinning te eis vir ’n proses waaroor alle partye ooreengekom het.

“Die Bela-wetsontwerp poog in wese om bestuur in skole te versterk deur sekere afdelings te verskerp wat uitdagings vir die sektor geskep het. Die departement se eie moniteringsuitkomste het aanleiding gegee tot die behoefte om dele van die verskillende stukke wetgewing te wysig om administrasie van die sektor te verbeter,” hy het gesê.

Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se onderwysernetwerk, is die ware doel van uitsprake soos die van Mhaule egter om vyandigheid teenoor Afrikaans in die samelewing te kweek, en om Afrikaans as onderrigtaal uit die onderwysstelsel te verwyder.

Botha glo die regering maak van Afrikaans ’n sondebok om sy eie mislukkings in die onderwys toe te smeer én om potensiële kiesers deur die kaping van skole te probeer werf.

“Die adjunkminister se uitsprake is uiters onverantwoordelik. Sy skep die verwagting by leerders dat hulle net by Afrikaanse skole kan opdaag en dan hul onderrig in Engels kan ontvang.

“Dit is ’n blatante ondermyning van moedertaalonderrig en van die reg wat skoolbeheerliggame het om ’n enkelmediumtaalbeleid vir skole te aanvaar en te handhaaf,” sê Botha.

Botha glo die adjunkminister poog om onderwysers in Afrikaanse skole vanuit ’n magsposisie met die uitsprake te intimideer.

“Om aan te dring op klasgee in Engels terwyl die skool ’n Afrikaanse skool is, is onredelik en aanduidend van ’n regering wat onderwysers wil boelie om sy ideologieë te verwesenlik. Die adjunkminister is doelbewus besig om die onderwyslandskap téén Afrikaans op te sweep.

“Mhaule plaas Afrikaanse onderwysers onnodig in die spervuur. Sy kan haar veel eerder daarop toespits om onderwysers van meer hulpbronne en groter kapasiteit te voorsien,” voer Botha aan.

Volgens Solidariteit is die onderwysdepartement in der waarheid die een wat taal wil gebruik om mense uit te sluit. Mhaule se uitsprake dat die regering wél moedertaalonderrig na waarde skat, is volgens Botha net lippediens.

“Die regering se visier is veel eerder daarop ingestel om Afrikaans as onderrigtaal by openbare skole uit te wis,” sê hy.

Johnell van Vollenhoven, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die adjunkminister was wél in die kol met haar waarneming dat daar groepe is wat skole wil beskerm.

“Die waarheid is dat openbare skole aan skoolgemeenskappe behoort. Dit is elke gemeenskap se reg, en in hierdie geval selfs ’n plig, om hulle skool teen ’n magsbehepte regering te verdedig.”

“Die regering bou nie skole nie en hulle gee nie aandag aan moedertaalonderrig nie. Pleks van om na gehalte-onderrig te strewe, probeer hulle skole kaap en word verdeeldheid deur middel van blaam gesaai om so in die beste belang van niemand anders nie as die ANC op te tree,” het Van Vollenhoven gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top