Solidariteit neem die wapen op teen Denel

  • 0

Die vakbond Solidariteit het weer die spreekwoordelike wapen opgeneem teen die wapenvervaardiger Denel en ’n aansoek in die Arbeidshof ingedien omdat Denel nie werknemers se volle salarisse betaal het nie.

Die sukkelende staatsbeheerde maatskappy is van regeringshulp afhanklik. RSG het Donderdag berig Denel wag nog vir die R576 miljoen-hulppakket wat in Februarie tydens die begrotingsrede beloof is.

Dit sal nie die eerste keer wees dat Solidariteit en Denel in die hof swaarde kruis nie. Volgens Netwerk24 het die vakbond in Augustus verlede jaar ’n hofsaak gewen toe Denel deur die hof gedwing is om derdepartybetalings te doen nadat dit ook vir ’n ruk opgeskort was.

Solidariteit sê in ’n mediaverklaring hulle sal “op 30 Junie in die Arbeidshof wees vir die saak teen Denel oor sy versuim om sy werknemers se salarisse ten volle te betaal. Dit volg nadat Solidariteit die hof op 19 Junie genader het om oor die saak te beslis.”

Werknemers se salarisse vir Mei 2020 is volgens die vakbond slegs gedeeltelik betaal met sommige personeellede wat tot so min as 20% van hul salarisse ontvang het. Denel het volgens Solidariteit “aangedui dat salarisse vir Junie en Julie ook in die gedrang is en het voorgestel dat werknemers vanaf Junie tot Augustus gedeeltes van hul salarisse moet opoffer.”

“Sedert April het Denel ook versuim om sy statutêre verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom deur nie inkomstebelastingaftrekkings en ander aftrekkings aan derde partye oor te betaal nie,” lui die verklaring.

“Dit is belaglik om te dink dat ’n maatskappy sy werknemers so sal verarm deur die versuim van sy finansiële verpligting teenoor hulle,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit. “Dit is nog meer verregaande om van hierdie werknemers te verwag om hulself te verarm om die werkgewer, en by uitstek die staat wat die aandeelhouer is, te help deur salarisse ten koste van hulself en hul gesinne op te offer.”

Die staat van inperking wat vanaf einde Maart ingestel is, is volgens Solidariteit se verklaring “nie alleen verantwoordelik vir die huidige finansiële dilemma waarin Denel hom bevind nie.” Hulle sê die staat het vermoedelik ’n onmiskenbare aandeel daarin gehad deur vermeende korrupte raadslede in die verlede aan te stel en deur toe te laat dat staatskaping en korrupsie, na bewering, onder hul neuse plaasvind. “Nou moet eerlike werknemers instaan vir die staat se onbevoegdheid deurdat hulle net gedeeltelik of glad nie salarisse ontvang nie en daar selfs ’n verwagting is dat hulle hul salarisse sal opoffer,” voer Cronjé aan.

Solidariteit sê in hulle verklaring “[v]olgens Denel se bestuur ondersteun die staat die omkeerplan wat opgestel is om homself uit die penarie te red, maar anders as [in die geval van SAL] stel die staat klaarblyklik nie belang om Denel by wyse van die verlangde finansiële bystand uit sy verknorsing te help nie.”

“In die hofstukke wat teen Denel voorberei is, eis Solidariteit dat Denel alle uitstaande salarisse en betalings aan derde partye, soos vervat in wetgewing en indiensnemingskontrakte, teen nie later nie as 3 Julie moet betaal,” luidens die verklaring.

“Die staat se onvermoë om hierdie skip te stuur het ons met geen ander keuse gelaat as om weer die hof te nader nie. Die staat het die kans om ’n tweede SAL en Eskom te vermy, maar hul huiwering om werklik die omkeerplanne te ondersteun deur dit te finansier is stadig maar seker besig om Denel in dieselfde rigting as die ander staatsbeheerde instellings te stuur. Die staat moet verantwoordelikheid vir sy foute aanvaar en dit nie op werknemers afskuif nie,” het Cronjé gesê.

Volgens hom sal Solidariteit “aanhou om standpunt in te neem teen werkgewers soos Denel en die staat wat Solidariteit se lede misbruik en hulle uitbuit.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top