Die regering se besluit om Kubaanse ingenieurs Suid-Afrika toe te laat kom om die land se waterinfrastruktuur te help herstel, het tot ’n volskaalse bekgeveg tussen die regering en die vakbond Solidariteit gelei wat waarskynlik in die hof beslis sal word.
Solidariteit beskuldig die regering daarvan dat die Kubane die werk uit Suid-Afrikaners se hande neem terwyl die regering sê Solidariteit se kritiek kom neer op vreemdelinghaat of xenofobie.
Solidariteit sê die ooreenkoms met Kuba is enig in sy soort en verskil aansienlik van soortgelyke ooreenkomste met byvoorbeeld Nederland en ander lande.
“Ons het verskeie ooreenkomste deurgewerk – met Nederland, Hongarye, Denemarke, Japan en Italië. Bo en behalwe die feit dat hierdie ooreenkomste telkens sowat helfte van die lengte van ons ooreenkoms met Kuba is, is die aard daarvan ook totaal en al anders,” sê Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann.
“Waar ons ooreenkomste met ander lande hoofsaaklik handel oor die uitruil van tegnologie en idees, is die ooreenkoms met Kuba die enigste een wat in baie fyn besonderhede elke liewe punt betreffende indiensname van die ander land se burgers bespreek.”
Solidariteit het die afgelope week nuwe inligting oor die invoer van Kubaanse ingenieurs bekendgemaak. Van die inligting wys dat die Kubaanse ingenieurs wel werkskontrakte het en tot R300 000 per jaar méér as Suid-Afrikaanse ingenieurs betaal word, sê Solidariteit in ’n verklaring.
“Dit is 'n SKANDE!” het Soliditeit Dinsdag op Twitter gesê. “SA voer Kubane in om jóú werk te doen en jy betaal R75 miljoen vir hulle salarisse. Dit moet STOP! Solidariteit sleep die departement hof toe om hierdie onreg te stuit.”
🔴 Dit is 'n SKANDE! SA voer Kubane in om jóú werk te doen en jy betaal R75 miljoen vir hulle salarisse. Dit moet STOP! Solidariteit sleep die departement hof toe om hierdie onreg te stuit. Deel hierdie boodskap wyd. https://t.co/OSCYqf0D2G pic.twitter.com/Nv9FCHK8UT
— Solidariteit (@solidariteit) June 1, 2021
Die Departement van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie het in ’n verklaring teruggekap en gesê hulle betreur dit dat Solidariteit hulle hof toe wil sleep. Volgens minister Lindiwe Sisulu is Solidariteit se kritiek onnodig, uit bitterheid gebore en dui dit op haat teenoor die Kubane.
Hermann sê egter die regering laat sy eie mense in die steek ter wille van die Kubane. “Daar is nou geen twyfel nie dat Kubaanse ingenieurs wel die werk van Suid-Afrikaanse ingenieurs gevat het en meer daarvoor betaal word, en dat belastingbetalers meer moet betaal as wat aanvanklik gesê is.”
Volgens Hermann dui die inligting van die departement daarop dat hulle die publiek deurlopend mislei het met betrekking tot die aard, omvang en koste van die projek.
Deel van die Kubaanse ingenieus se vergoeding is volgens Solidariteit omvattende byvoordele wat insluit vlugkaartjies vir vakansie na Kuba, gemeubileerde verblyf, kos, en telefoonkoste. Dit is ten spyte van die feit dat Sisulu in die openbaar gesê het dat die Kubaanse ingenieurs nie werknemers is nie en nie ’n salaris gaan ontvang nie.
Solidariteit het ook tydens ’n mediakonferensie gesê dat hy nou voldoende inligting het om voort te gaan met sy hersieningsaansoek om die besluit van die Minister ongeldig te laat verklaar. Die hofstryd gaan dus nou na ’n nuwe vlak geneem word.
Solidariteit het ook die Kubane se kontrakte bekendgemaak wat wys dat hulle wel ingenieurswerk gaan doen en nie bloot, soos die Minister gesê het, as mentors gaan optree nie. Solidariteit sê hulle het ook bewys dat die Kubaanse ingenieurs nie voldoen aan die Suid-Afrikaanse vereistes vir registrasie en lisensiëring nie.
Volgens Solidariteit sal die belastingbetaler ongeveer R75 miljoen vir die projek moet opdok en nie R64 miljoen soos aanvanklik gesê is nie.
“Dit is verregaande dat die minister oral in die openbaar aangekondig het dat die Kubane nie hier is om te werk of as werkers sal optree nie. Sy het selfs by geleentheid verduidelik dat die Kubaanse ingenieurs nie ’n salaris sal ontvang nie.”
Hermann sê die feit is dat hulle nou oor ’n dienskontrak beskik wat met elkeen van hierdie ingenieurs gesluit is. “Dit, tesame met die bilaterale ooreenkoms, dui salarisse, verlofdae, posvlak en ’n ongekende lys van voordele aan wat die ingenieurs sal geniet terwyl hulle hier is.”