Solidariteit staak oor diskriminasie by Sasol

  • 0

Bron: https://af.m.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Sasol_Garage_in_Boksburg.jpg

Die vakbond Solidariteit het met ’n grootskaalse staking by Sasol begin omdat wit werknemers op grond van hul ras uitgesluit word by Sasol se nuutste personeelaandeelskema.

Solidariteit het op hulle webwerf ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om eerskomende Woensdag nie Sasol-petrol in te gooi nie ter ondersteuning van die Sasol-werknemers. Mense word aangemoedig om dié dag blou aan te trek.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat wit werknemers oor rasse-uitsluiting staak. 89% van die Sasol-werkers van Sasolburg en Secunda het verlede week ten gunste van die staking gestem.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann sê hulle beplan om Secunda Donderdag toe te maak.

“Ons het reeds vir drie weke se aksie beplan. Ons gaan egter slim staak. Ons 6 300 lede is hoogs opgeleide werknemers wat strategies vir Sasol van groot belang is. Ons beplan om daagliks ’n ander deel van Sasol af te skakel. Ons beplanning is strategies en baie fyn gedoen. Ons het die kennis en invloed om dit te doen,” sê Hermann.

Hermann het op hulle webwerf gesê Solidariteit kry oorweldigende steun uit die gemeenskap vir hulle aksie. “Ons verwag dat honderde mense uit die gemeenskap saam met die Sasol-werkers gaan deelneem aan ’n massasaamtrek. Daar is selfs besighede wat gesê het hulle gaan toemaak sodat hulle kan deelneem.”

Sasol het onlangs ’n nuwe personeelaandeelskema, Khanyisa, bekend gemaak. Ingevolge die skema is wit werknemers asook buitelanders van dié tienjaarskema uitgesluit. Khanyisa volg op ’n vorige skema, Inzalo, wat wel wit werknemers ingesluit het. Inzalo word nou in die eerste fase van Khanyisa afgesluit. In die tweede fase, wat die nuwe skema vir die volgende 10 jaar gaan wees, word wit mense egter uitgesluit.

Solidariteit sê Sasol het dus ’n geskiedenis van insluiting gehad, maar het nou ’n toekoms van uitsluiting.

Volgens Hermann beteken die nuwe skema in praktyk dat ’n Sasol-werker wat 30 jaar by Sasol werk, niks kry nie en iemand wat drie maande by Sasol werk, kry aandeelwaarde van R500 000. Die konsep-mynbouhandves bepaal ook dat wit werknemers nie uitgesluit mag word van ’n personeelaandeelskema nie. Hermann sê Sasol se skema druis dus selfs lynreg in teen die mynbou-bemagtigingshandves en die algemene praktyk by myne.

Die staking wat Maandag met verskeie protesaksies begin het, sal na Woensdag opbou wanneer ’n nasionale dag van steun vir die Sasol-werkers gehou sal word.  ’n Volledige staking begin Donderdag met ’n massasaamtrek van die gemeenskap by die Secunda-aanleg en die Sasol-steenkoolmyne. Die fokus gaan dan na Sasolburg verskuif en later gaan beide aanlegte en die Sasol-steenkoolmyne gesamentlike aksies hou.

Solidariteit gaan Woensdag honderde memorandums van steun vir die Sasol-werknemers by verskeie maatskappye oorhandig. Werknemers by onder andere Eskom, Telkom, Denel, verskeie myne, ArcelorMittal, die SAPD, landboukoöperasies, lugvaartmaatskappye en vele meer gaan Woensdag memorandums oorhandig. Een van die grootste oorhandigings gaan by Sasol se aanleg in Sasolburg wees.

Intussen het Solidariteit by Nedlac aansoek gedoen sodat al sy lede in solidariteit met die Sasol-werknemers op een dag wettige protes by honderde werkgewers in Suid-Afrika kan aanteken. Nedlac het egter geweier om toestemming te gee en Solidariteit beplan om volgende week hof toe te gaan om die besluit van Nedlac te laat hersien.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top