Solidariteit wil Kubaanse ingenieurs uit die land hê

  • 0

Die vakbond Solidariteit het met ’n regsproses begin om die invoer van Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika onwettig en onregmatig te verklaar. Hulle eis dat die ingenieurs wat verlede week in die land aangekom het, teruggestuur word Kuba toe.

Altesaam 24 Kubaanse ingenieurs is verlede week deur die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, in die land verwelkom. Die ingenieurs is na Suid-Afrika laat kom om die Departement van Water en Sanitasie (DWS) te help om probleme met waterinfrastruktuur op te los en om hulle kennis te deel.

Die regering is uit verskeie oorde daarvan beskuldig dat hy behep is met sogenaamde Kubaanse kundigheid.

Solidariteit het Maandag 26 April ’n prokureursbrief aan Sisulu gestuur waarin hulle vra dat die Kubaanse ingenieursprogram onmiddellik opgeskort word en dat sekerheid verskaf moet word oor die wettigheid van die Kubane se lisensiëring en registrasie.

Solidariteit sê in ’n verklaring dit blyk dat die besluit van die Minister om Kubaanse ingenieurs in te voer nie net dwaas en immoreel is nie, maar ook onregmatig. Op sigwaarde voldoen hierdie ingenieurs volgens Solidariteit nie aan die registrasievereistes van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) wat hulle in staat sou stel om ten volle te kan praktiseer nie.

Indien die Kubaanse ingenieurs nie aan die nodige registrasievereiste voldoen nie, sal dit volgens Solidariteit beteken dat die groep geweldig baie geld betaal word, maar beperk sal wees ten opsigte van die werk wat hulle mag doen, en dat hulle in sekere gevalle slegs onder toesig sal mag werk. “Ons gee die regering nou die geleentheid om te verduidelik. Suid-Afrika verdien ’n antwoord,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die vraag oor of die Kubaanse ingenieurs aan die nodige wetlike vereistes voldoen, is verswarend, maar dit bepaal steeds nie of dit reg is dat hulle hier is nie. Solidariteit het ’n lys van 132 plaaslike ingenieurs en ander spesialisvaardighede aan die Minister beskikbaar gestel wat die werk teen ’n baie laer koste as die Kubane kan doen. Daarbenewens is Kuba se eie water-infrastruktuur in chaos. Daar is dus geen rede waarom die Kubane in Suid-Afrika moet wees nie,” het Hermann gesê.

Volgens Solidariteit se skrywe is daar groot kommer rakende die wettigheid van die Kubaanse ingenieurs en spesifiek of hulle geregistreer en gelisensieer is ingevolge die Wet op die Ingenieursweseprofessie van 2000. Solidariteit vra ook onder andere dat die regering moet bevestig of alle wetlike vereistes nagekom is vir die Kubaanse ingenieurs om in Suid-Afrika te mag werk.

In sy skrywe vra Solidariteit verder of die advies en die aanbevelings van ECSA ingewin is en of daar aan al die vereistes van die raamwerk van die professie voldoen is. Hulle vra ook dat alle inligting rakende die regsbasis van die besluit geopenbaar word.

Die invoer van die Kubane vloei klaarblyklik uit ’n bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Kuba wat in 2014 onderteken is.

Die Minister het tot Vrydag 30 April om te antwoord, waarna die inhoud van haar antwoord sal bepaal of Solidariteit ’n aansoek om ’n interdik teen die Minister sal beteken.

Solidariteit se regsbrief volg nadat ECSA in ’n skrywe geïmpliseer het dat die Kubaanse ingenieurs nie aan die registrasievereistes voldoen nie. Die skrywe bevestig volgens Solidariteit dat die Kubaanse ingenieurs aan die registrasieraamwerk van ECSA moet voldoen, en dit is onder die Minister se aandag gebring dat Kuba nie lid van die Internasionale Ingenieursalliansie (IEA) is nie.

Solidariteit beplan om ook met die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese te kommunikeer.

Politieke partye wat reeds sterk kapsie gemaak het teen hierdie besluit, is onder andere die DA, die Vryheidsfront Plus en Action SA.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top