Die vakbond Solidariteit gaan die hof vra om president Cyril Ramaphosa, as staatshoof, skuldig te bevind aan minagting van die hof. Dit volg nadat die regering glo ’n skikkingsooreenkoms tussen Solidariteit en die regering oor rassewetgewing verbreek het.
Solidariteit se voorgenome hofsaak teen Ramaphosa word gesien as deel van ’n breër internasionale en plaaslike strategie van Solidariteit om druk op die ANC-regering uit te oefen.
Die ooreenkoms is volgens ’n verklaring van Solidariteit op 28 Junie 2023, onder toesig van die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gesluit en deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in Suid-Afrika gefasiliteer. Die ooreenkoms is ook ’n bevel van die hof gemaak.
𝗠𝗘𝗗𝗜𝗔𝗩𝗘𝗥𝗞𝗟𝗔𝗥𝗜𝗡𝗚
Solidariteit gaan die hof vra om president Ramaphosa, as staatshoof, skuldig te bevind aan minagting van die hof.Lees die verklaring hier:https://t.co/PnisYjUFq0 pic.twitter.com/PykNbmvHFY
— Solidariteit (@solidariteit) April 23, 2025
Die regering het egter nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer wat volgens Solidariteit nie alle bepalings van die ooreenkoms insluit nie. Hulle beskou dit as ’n duidelike verbreking van die hofbevel.
Volgens Solidariteit is die ooreenkoms wel in sy geheel in die konsepregulasies gepubliseer. Met die publisering van die finale regulasies is groot dele van die ooreenkoms, ten spyte van die hofbevel, egter uitgelaat.
Ingevolge die hofbevel moes die ooreenkoms saam met die regulasies van die Wet op Billike Indiensneming, wat reeds in 2023 ontwikkel is, gepubliseer word. Die finale regulasies is op 15 April 2025 gepubliseer, maar bevat glo net enkele bepalings van die ooreenkoms.
Solidariteit se prokureurs het gister (Woensdag) ’n aanmaningsbrief aan Ramaphosa gestuur waarin geëis word dat hy die ooreenkoms moet implementeer om regstappe te vermy.
Lees die aanmaning hier: pic.twitter.com/5X78GlYyKI
— Solidariteit (@solidariteit) April 23, 2025
Solidariteit beplan ook om ’n klag by die IAO in te dien weens die verbreking van die 2023-ooreenkoms. Dit onderstreep die vakbond se gebruik van internasionale forums om druk op die ANC te plaas.
Die hofsaak kan die gespanne verhoudings tussen Amerika en Suid-Afrika en die Trump-administrasie se druk op Suid-Afrika verder vererger, veral in die lig van Trump se uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025, wat Suid-Afrika se grond- en rassebeleid as “menseregteskendings” bestempel het.
Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering is volgens die vakbond tydens ’n openbare geleentheid deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, en die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, onderteken. Die Minister van Indiensneming en Arbeid gaan as tweede respondent in Solidariteit se saak gevoeg word.
Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, beskuldig die regering daarvan dat sekere dele van die ooreenkoms doelbewus uitgelaat is. “Ons is diep teleurgesteld dat die regering nie hou by ooreenkomste wat bereik is nie. President Ramaphosa sê gereeld dat Suid-Afrikaanse probleme in Suid-Afrika opgelos moet word, maar dit is onmoontlik as die regering nie ’n betroubare vennoot is nie. Hierdie verbreking van die ooreenkoms volg nadat die regering ’n ooreenkoms met Solidariteit, by Nedlac, oor die Bela-wet, ook verbreek het,” sê Hermann.
Hy sê dit is kommerwekkend dat die dele wat uitgelaat is, onder andere bepaal dat niemand op grond van raswette afgedank mag word nie, dat raswette tydelik moet wees, en dat vaardighede en die inherente vereistes van ’n pos in ag geneem moet word. Die regering wil duidelik die rassebedeling in Suid-Afrika verskerp, het Hermann gesê.
Benewens die minagtingsaak gaan Solidariteit ook die rasionaliteit en wettigheid van die regulasies in die hof uitdaag.
Solidariteit se jongste aksie teen die regering is waarskynlik bedoel om die ANC se geloofwaardigheid verder te ondermyn, hul rasbeleid te betwis, en steun van invloedryke internasionale akteurs te kry.
Hoewel die saak Solidariteit se posisie onder hul ondersteuners kan versterk, is daar volgens sommige waarnemers ook ’n groot risiko dat Suid-Afrika in sy geheel, insluitend Afrikaners, die meeste sal ly as gevolg van moontlike ekonomiese sanksies, sosiale verdeeldheid en diplomatieke skade indien Amerika sy rug verder op Suid-Afrika sou draai. Dit kan ook die reeds brose diplomatieke verhouding met die VSA verder verswak.
- Solidariteit se aanmaning deur hulle prokureurs aan Ramaphosa kan hier gelees word