Solidariteit wil ramptoestand in hof beëindig

  • 0

Die vakbond Solidariteit het hom by opposisiepartye soos die DA en die Vryheidsfront Plus aangesluit in hulle oproep tot die regering om die ramptoestand in sy geheel te skrap.

Solidariteit sê daar bestaan nie meer regverdiging vir die voortsetting van ’n ramptoestand nie. Die verskuiwing na vlak 1 van die nasionale inperking is volgens die vakbond te min te laat. Solidariteit het Donderdag in ’n verklaring met regstappe gedreig indien die regering die ramptoestand op 15 Oktober verder wil verleng.

Die land is reeds ses maande lank in ’n ramptoestand vasgevang. Die President het Woensdag aangekondig dat die inperkingsmaatreëls verslap word van die huidige vlak 2 na vlak 1, wat komende Maandag in werking tree. Dit beteken dat die groter ekonomie ná maande hervat kan word. Die ramptoestand duur egter voort en daar bestaan steeds verskeie beperkings wat keer dat die ekonomie ten volle kan funksioneer.

“Die voortgesette inperking het alreeds in ’n baie groter ramp as die Covid-pandemie ontaard, en bedreig die lewensbestaan van miljoene mense. Dwang deur die staat behoort dadelik laat vaar te word ten gunste van persoonlike verantwoordelikheid vir mense se gesondheid,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging.

Volgens Solidariteit het ’n ramptoestand bestaansreg slegs indien die staat die effek van die ramp beter as sy burgers en ondernemings kan hanteer. “Ons is verby die punt en moet begin om weg te beweeg van staatsbeheer na burgerlike verantwoordelikheid,” het Buys gesê.

Werner Human, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê daar is hoegenaamd geen gegewens wat die denkrigting ondersteun dat die enigste manier om die bedreiging van ’n virus te bestry, is om ’n land in sy geheel onder ’n kwasi-outokrasie te werp nie.

Solidariteit sê selfs met die piek van die pandemie het die staat misluk om die pandemie effektief te bestuur. Hulle was roekeloos met die bestuur van die ekonomie en kaders het die ramptoestand misbruik om te plunder.

“Die ramptoestand ingevolge die Rampbestuurwet is nou onlangs vir die sesde agtereenvolgende maand hernu ten spyte van die drastiese afname in die virus se impak, sowel as die drastiese toename in die skadelike impak van die inperking. Vlak 1 laat steeds te veel onsekerheid en plaas ’n onbillike las op te veel mense,” het Human gesê.

“Dit is dringend nodig dat die land na ’n gesonde normaal terugkeer, sodat die werk om die land weer op te bou aangepak kan word. Die regering se nuutste plan om die ekonomie op dreef te kry gaan tot niks lei as vertroue in die landsbestuur nie vinnig herstel word nie. Vertroue is die enigste werklike stimulus wat die land uit die huidige doodloopstraat sal kan kry. Daarvoor is beleidsekerheid, fiskale dissipline, ’n skoon regering, bekwame landsadministrasie en regsekerheid noodsaaklik. Sonder om daadwerklik korrupsie, wanbestuur en beleidsrigtings wat tot die land se afgradering al voor die pandemie gelei het, aan te pak, sal ekonomiese planne net op papier bly,” het Buys gesê.

Hy sê werkskepping sal gebeur net as diepliggende hervormings aangebring word en as sosialistiese planne en rassevoorskrifte laat vaar word ten gunste van bewese beleid wat ekonomiese groei bevorder.

Die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, het vroeër die week ook ’n beroep op die regering gedoen om alle ekonomiese beperkings op te hef, insluitende die aandklokreël en die beperking op alkoholverkope.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top