Solidariteit wil veg vir pensioengeld

  • 0

Die vakbond Solidariteit het met regstappe begin om die kaping van staatsamptenare se pensioene te stop. Die vakbond eis dat die staatspensioenfonds (GEPF) se geld nie gebruik mag word om die sukkelende Eskom se enorme skuld te help betaal nie.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê as die staatspensioenfonds daarvoor gebruik word, is dit net ’n kwessie van tyd voordat privaat pensioenfondse se geld ook gebruik gaan word om bankrot staatsondernemings te help finansier.

In ’n regsbrief aan die GEPF en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) eis Solidariteit se regspan dat die instellings se trustees en direksie nie die omstrede plan om Eskom uit die GEPF te finansier, moet aanvaar nie.

Indien Solidariteit nie so ’n waarborg kry nie, of indien besluit word om die omstrede plan te implementeer, sal hulle verdere regstappe neem.

Hermann sê dit is nie werkers se verantwoordelikheid om bankrot staatsondernemings te befonds nie. “Pensioenkaping kan nie die skade van staatskaping regstel nie. ’n Groot fout kan nie deur nog ’n groot fout reggestel word nie. Eers was dit R85 miljard rand, nou is dit R250 miljard. Eers is dit Eskom en later gaan dit Denel, die SAL en e-tol wees.”

Volgens Hermann begin dit by die GEPF as ’n vrywillige bydrae. “Later word privaat fondse betrek en dan word die bydrae verpligtend. Ons baklei teen die volle konsekwensie van besluite wat nog gaan kom. Om mense se aftreegeld sonder hul toestemming te gebruik, is ekonomies dwaas en immoreel,” het Hermann gesê.

Solidariteit sê individuele trustees en direksielede moet ook persoonlik aanspreeklik gehou word vir skade indien hulle nie hul plig nakom om die pensioenfondse te beskerm nie.

Indien president Cyril Ramaphosa so ’n aankondiging in sy staatsrede maak, sal dit volgens Solidariteit onbehoorlike beïnvloeding van die mandaat van die GEPF en OBK wees. “ʼn Politieke geweer teen die koppe van die GEPF en OBK beteken die besluit is nie vrywillig nie; dit is afgedwing.”

Volgens Solidariteit se regsbrief sal enige stap of aksie om werknemers se pensioen te gebruik om Eskom of enige ander staatsonderneming te red, buite die mandaat van die GEPF en die OBK wees. Dit sal ook ’n verbreking van die kontraktuele ooreenkoms met die lede van die fonds wees.

Hermann sê die mandaat van trustees is nie om die land se groot sosio-ekonomiese uitdagings op te los nie. Hulle taak is ook nie om ekonomiese groei te stimuleer om moontlike sekondêre voordeel vir pensioenfondslede te bewerkstellig nie. Hulle mandaat is om toe te sien dat daar ’n primêre voordeel moet wees.

Solidariteit sê hulle is bewus van verskeie ander vakbonde se weerstand teen die omstrede pensioenplan. “Ons sal enige stappe wat enige ander vakbond teen die plan doen, steun. Ons moet die plan uit soveel hoeke moontlik aanval,” het Hermann gesê.

Die vakbond het Woensdag met sy veldtog begin om namens alle Suid-Afrikaners pensioenkaping die stryd aan te sê. “Ongeag wie jy is, waar jy werk en aan watter organisasie jy behoort, ons sal namens jou veg om jou pensioen te beskerm.”

Solidariteit sê hulle tree nie net in belang van staatsamptenare op nie, maar in die belang van almal wat lede van ’n pensioenfonds is,

“... om werkers se pensioenopbrengs te verwater, is ’n besluit wat anti-werker is. Werkers se pensioene is nie staatsgeld nie; dit is hul eie geld. Ons moet ’n bedeling van staatsmonopolie-kapitaal teenstaan. In die lig van die huidige toestand van staatsfinansies, kan werkers nie staatmaak op staatswaarborge vir hul pensioengeld nie. Staatswaarborge is geen waarborg nie. Hulle wil pensioengeld gebruik om die leë staatskas te red en dan waarborg die leë staatskas die pensioenfondslede.”

Buro: MvH
  • 0
Top