Somber Prinsjesdag en ’n nuwe werk deur Vincent van Gogh

  • 0

Somber Prinsjesdag in Den Haag

Gister, die derde Dinsdag in September, was soos gewoonlik Prinsjesdag. Dit is die dag waarop die koning sy troonrede lewer en die nuwe werksjaar van die Eerste en Tweede Kamer open. Dit is ook die dag waarop die minister van finansies met sy aktetas, of koffertje, na die Tweede Kamer gaan om sy begrotingsrede te lewer.

Vanjaar se troonrede en begroting sal geen verrassings oplewer nie. Die kabinet is al sedert Januarie demissionêr, weens die belastingskandaal wat mense van vreemde herkoms uitgesonder het – die sogenaamde toeslagenaffaire. Dit beteken geen nuwe beleid nie, en slegs lopende sake mag afgehandel word. Dit beteken dat sake wat dringend aandag nodig het, soos die behuisingskrisis, die stikstofprobleem, hervorming in die arbeidsmark, en ’n nuwe bestuurskultuur (ná die belastingskandaal) dus nie werklik noemenswaardige aandag sal kry nie.

Onrus in die demissionêre regering

Intussen is die kabinet verlede week geruk deur die bedanking van die minister van buitelandse sake, Sigrid Kaag. Dit volg ná ’n mosie van afkeuring teen haar weens haar hantering van die ontruiming in Afganistan van mense wat die regering gehelp het. "Uw Kamer oordeelt dat het kabinet onverantwoord heeft gehandeld. Ik kan niet anders dan de consequenties aanvaarden. De minister moet gaan als het beleid wordt afgekeurd," sê sy. Die mosie het met 78 stemme teenoor 72 geslaag. Ook die minister van verdediging, Ank Bijleveld, het onder ’n mosie van afkeuring deurgeloop, en ná Kaag se bedanking kon Bijleveld nie anders as om dieselfde te doen nie. Die minister-president, Mark Rutte, het Kaag se bedanking as “echt heel vreselijk nieuws” beskryf en gesê Kaag is wêreldwyd as ’n groot diplomaat erken en is vir Nederland ’n groot verlies. Ook Bijleveld se vertrek het hy as “heel spijtig” bestempel.

Gent neem standpunt in teen oproerige studente

Die stad Gent in België het bykomende polisie ontplooi om die gewilde studentestraat Overpoort te bewaak nadat die polisie moes ingryp toe sowat 100 jeugdiges Saterdag amok gemaak en bottels na die polisie begin gooi het. Enkele polisiebeamptes is beseer. Intussen is die visevoorsitter van die studenteklub van die Fakulteit Politieke en Sosiale Wetenskappe Saterdagaand met groot wonde aan sy kop in Gent gevind. Hy verkeer nog in lewensgevaar. Dit is egter nog onduidelik of sy beserings met die oproer verbind kan word.

VRT NWS berig dat sommige bestuurders van kuierplekke gevra het dat kontroles by die in- en uitgange van Overpoortstraat ingestel word. Volgens sommige bestuurders was dit van die hewigste onluste in jare. Burgemeester Mathias De Clercq het die geweld veroordeel en bykomende maatreëls aangekondig: "De drang om uit te gaan mag nog zo groot zijn, het mag niet uitmonden in vechtpartijen en geweld, laat staan in het zich richten tegen politiemensen." Volgens De Clercq is die amokmakers nie die gewone studentepubliek nie, maar eerder groepe uit buurlande waar daar strenger inperkingsmaatreëls geld wat na Gent gaan om amok te maak. De Clercq sê voorts die straat gaan heringerig word om dit veiliger en meer leefbaar te maak. Bestuurders van uitgaanplekke het intussen gesê geen optredes gaan meer georganiseer word nie en hulle gaan hul deure vroeër sluit.

Doeane ontdek 200 kg kokaïen op Schiphol

NH Nieuws berig die Nederlandse doeane het verlede Donderdag sowat 200 kg kokaïen onderskep wat in ’n lading bevrore vis weggesteek was. Die doeane meld op Twitter dat die dwelms in beslag geneem en vernietig is. Dit is nog nie duidelik of enigiemand ná die vonds aangekeer is of uit watter land die dwelms kom nie.

Die lughawe Schiphol word gereeld deur dwelmmisdadigers geteiken. So is sewe verdagtes in Augustus aangekeer ná ’n ondersoek oor dwelmsmokkelary op die lughawe. Die meeste smokkelaars werk by een of ander maatskappy wat op die lughawe bedrywig is en is in besit van ’n Schiphol-pas. In Mei vanjaar is 321 kg kokaïen onderskep wat in vyf houers met blomme versteek was. Die straatwaarde van dié vonds word deur die doeanepolisie op sowat 16 miljoen euro beraam.

Bomwaarskuwing in trein

Die polisie het Sondagmiddag ’n verdagte by die Apeldoorn-stasie in hegtenis geneem in verband met ’n bomwaarskuwing. Treinverkeer na en van Apeldoorn in die provinsie Gelderland is ure lank ontwrig en die stasie is ontruim. Die trein met passasiers is na ’n rangeerterrein naby die stasie laat ry, waarna die polisie ’n 42-jarige man uit Rotterdam aangekeer het. Die passasiers is met busse verder vervoer. ’n Soektog met polisiehonde na plofstof het niks opgelewer nie. Reisigers het op sosiale media hul woede uitgespreek en gesê dat hulle nie oor die situasie op die hoogte gehou is nie.

Treinverkeer opnuut ontwrig

Intussen is die treinnetwerk verlede Donderdag opnuut ontwrig. Voertaal het vroeër berig hoe die treinnetwerk op 31 Mei landwyd in spitstyd tot stilstand gekom het. NOS berig dat ’n voorlopige ondersoek deur die spoorwegmaatskappy ProRail daarop dui dat die telefoonstelsel wat met die masjiniste kommunikeer, in Rotterdam vir die probleem verantwoordelik is. ProRail het die storing betreur en gesê hy sal alles in sy vermoë doen om die presiese oorsaak van die probleem op te spoor en reg te stel.

Op Twitter het motoriste aan gestrande treinreisigers geleenthede aangebied en sommige konserte en byeenkomste het later begin. Ander reisigers het gewoon by die naaste kuierplek ’n biertjie gaan drink en gewag tot die treine weer ry.

’n Nuwe werk van Vincent van Gogh

’n Nuwe werk van die bekende Nederlandse skilder Vincent van Gogh is pas ontdek. Die Van Gogh Museum in Amsterdam het bevestig dat ’n studie vir die tekening Worn out (1882) wel deur Van Gogh is. Die direkteur van die museum, Emilie Gordenker, sê dit gebeur nie dikwels dat ’n nuut-ontdekte werk aan Van Gogh toegedig word nie. Die studie is ’n voorbereiding op die tekening Worn out van ’n uitgeputte man wat op ’n stoel sit met sy kop in sy hande. Die model vir die studie was een van die bewoners van die Nederlands Hervormde Oude-mannen-en-vrouwenhuis en is minstens 40 keer deur Van Gogh geteken. Van Gogh het verskeie kere met sy broer Theo en vriend Anthon van Rappard oor die tekening Worn out gekorrespondeer. In 1882 skryf hy aan Van Rappard: “Ge herinnert u de tekening Worn out. Die heb ik dezer dagen opnieuw gemaakt, tot driemaal toe met twee modellen en zal er nog meer op sjouwen (voortploeter).” Die studie is tans in die Van Gogh Museum te sien saam met die finale tekening van Worn out en ander werk van Van Gogh uit dieselfde tydperk.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top