’n Golf van voorspellings oor die sogenaamde wegraping vandag (Dinsdag), of môre, het baie Suid-Afrikaners die afgelope week aan die gons en het ’n storm van debat en sensasie onder sommiges ontketen.
In Suid-Afrika was dit die gospelsanger Danie Botha wat met stellige sekerheid voorspel het dat die wegraping vandag of môre sal plaasvind.
Hierdie voorspellings, wat saamval met die Joodse Fees van die Trompet (Rosj Hasjana), het duisende gebruikers laat reageer, van opgewonde gelowiges tot skeptiese spotters. Tog waarsku teoloë en Bybelkenners dat sulke datumspesifieke profesieë nie net onbybels is nie, maar ook skadelik vir mense se geloof kan wees.
Danie Botha, gospelsanger en skrywer van die trefferliedjie “Wenners”, verklaar dat die Bybelse wegraping dié week gaan plaasvind, en kanselleer daarom ’n konsert in Oktober in Carolina.
Lees alles en nog meer môre in Rapport. pic.twitter.com/d6zi9mToA4
— Rapport (@RapportSA) September 20, 2025
Die Suid-Afrikaanse pastoor Joshua Mhlakela het, net soos Botha, beweer dat hy ’n goddelike visioen ontvang het waarin hy Jesus direk hoor praat het en aan hom gesê het dat sy terugkeer na die aarde op 23 en 24 September sou plaasvind. Volgens Mhlakela vind dit oor twee dae plaas omdat die Fees van die Trompette self oor twee dae plaasvind. Botha beweer weer dit sal in ’n oogwink geskied.
South African Pastor, Joshua Mhlakela claims Jesus will return to earth on September 23 this year.
He said he received the vision after intense praying and fasting. pic.twitter.com/zfWnJk3Hyf
— Africa Facts Zone (@AfricaFactsZone) September 16, 2025
In video’s op sosiale media en YouTube en in gesprekke met onderhoudvoerders het Botha herhaaldelik gesê dat hy geen twyfel het dat Jesus se wederkoms wel dié week sal plaasvind nie en hy is “duisend persent” seker daarvan.
Botha het Sondagaand in ’n onderhoud met die vryskutjoernalis Johan Allers gesê die wêreld soos ons dit ken, eindig oor twee dae. Hy sê God het persoonlik aan hom geopenbaar dat 23 en 24 September die laaste dae van die mensdom sal wees.
Allers daag Botha in sy onderhoud uit oor sy gewaagde profesie en wou onder andere van hom weet of dit werklik ’n goddelike boodskap was en of dit nie net ’n gevaarlike waan is nie.
Botha het volgehou dit was ’n goddelike boodskap en dat daar hoegenaamd geen twyfel is dat die wegpraping vandag of môre sal plaasvind nie.
Hy het ’n grusame prentjie geskets van vliegtuie wat sal val, mense wie se derms by hulle maag uitpeul en ander pynlike tonele wat diegene wat agterbly, sal aanskou.
“Hoor mooi wat ek sê. Ek sê nie miskien nie, ek sê nie ja, maar as dit gebeur nie, ek sê ook nie as die Here vertoef om te kom nie. Ek sê jy gaan Jesus sien die 23ste of 24ste September.”
Mhlakela het in ’n virtuele onderhoud met CettwinzTV gesê dat God hom in ’n visioen na die toekoms geneem het waar Jesus duidelik gepraat het: “Ek kom terug op 23 en 24 September 2025,” het Jesus glo aan hom gesê.
Volgens Mhlakela het hy Jesus nie in ’n droom of visioen gesien nie, maar fisies, “soos hoe jy en ek mekaar sien”.
According to Mr Joshua Mhlakela, He saw Jesus not in a dream or vision, but physically like how you and me see each other and he revealed very important, the time of his coming, I pray this is true. pic.twitter.com/mkG3quqzIJ
— Abraham (@Abraham_wi) August 2, 2025
Albei koppel hul voorspellings aan Bybelse temas soos trompetgeluide en globale tekens, insluitend ’n VN-beraad oor “vrede en veiligheid” op 23 September en die onlangse bloedmaan.
Reaksies op sosiale media het gewissel. Daar is kommer oor die impak op gelowiges. Sommige plasings waarsku teen die risiko van finansiële verliese, soos ’n man wat glo sy motor verkoop het in die geloof dat hy weggeraap gaan word.
Kritici, insluitend sekulêre en sommige Christelike kommentators, wys daarop dat sulke voorspellings histories nie waar word nie. Hulle noem dit “sensasionele aandagsoekery” en verwys na Bybelse waarskuwings teen valse profete.
Teoloë en Bybelwetenskaplikes het ook vinnig gereageer met waarskuwings teen sulke voorspellings. Hulle het veral verwys na Matteus 24:36: “Niemand ken die dag of uur nie”, en sê sulke voorspellings is ’n klassieke fout wat geloof skaad.
Baie mense het gewys op die lang geskiedenis van apokaliptiese voorspellings wat nie waar word nie, soos die Y2K-paniek of die 2012 Maya-kalender. Terwyl sommige gelowiges dit as ’n oproep tot waaksaamheid sien, meen ander dat ware geloof nie op sensasionele datums berus nie, maar op daaglikse voorbereiding.
As 23 en 24 September verbygaan sonder gebeure, sal dit waarskynlik lei tot nuwe debatte en moontlik nuwe voorspellings vir die toekoms. Sommige voorspel reeds dat die wegraping eintlik eers in 2026 sal wees.

