
Portret van Entgen Luyten (1600-1674), by die Limbricht-kasteel. Dit is ’n geskenk van (die familie van) afstammelinge van Entgen Luyten. Die beeldhouwerk is deur Ankie Vrolings (Foto deur Mathje1963, via WikiMedia CC BY-SA 4.0)
Vir Afrikaanssprekendes bestaan hekse eintlik net in stories en dalk is ons ietwat mislei deur Verna Vels se Liewe Heksie wat anders as die sprokieshekse die goedheid vanself was. Dalk omdat sy bietjie dom was, sal party mense sê. En tog het ons voorouers uit daardie lande gekom waar heksevervolging nog lewendig was toe hulle hiernatoe uitgewyk het. In Nederland is die laaste “heks” in 1674 vervolg en gedood, 22 jaar nadat Jan van Riebeeck hier voet aan wal gesit het. Hulle móés daarvan geweet het.

Foto van Susan Smit deur Yvette Kulkens (Foto en voorblad via Lebowski)
Dit en nog meer het die lede van die Mabel Malherbe Leeskring in Pretoria tot ons verbasing en afsku agtergekom toe ons onlangs De heks van Limbricht van Susan Smit bespreek het.
Die boek is ’n historiese roman gebaseer op die lewe van Entgen Luijten, die vier-en-sewentigjarige weduwee wat in 1674 drie maande lank in die kerker van Kasteel Limbricht aangehou en op 10 Oktober waarskynlik verwurg is. Die geskrewe rekord van die verhoor het behoue gebly en is vandag te sien in die Entgen Luijten Museum in die kasteel.

Kasteel Limbricht (Foto deur Tibor via WikiMedia, GNU Free Documentation License)
Susan Smit moes by geleentheid ’n artikel oor moderne heksery skryf. Tydens haar jaarlange navorsing is sy aangegryp deur dié stuk geskiedenis. De heks van Limbricht is een van die produkte daarvan. Boonop het sy addisionele inligting gekry van ’n nakomeling van een van Entgen se broers wat besig was met genealogiese navorsing. Dit het régtig gebeur in al die afgryse soos dit daar vertel word.
Die Rijksheerlikheid (wat ’n mens laat wonder oor ons woord heerlik) van Limbricht het behoort aan die familie Van Breyll. Kop in een mus met die Roomse Kerk het hulle die bevolking onderdruk en effektief geterroriseer. Onder sulke omstandighede is dit nie vreemd dat die bygelowige dorpsmense ook agterdogtig en jaloers op mekaar was nie. Vir enige rampspoed moes daar ’n sondebok gevind word en die sogenaamde hekse was sagte teikens. In die loop van Entgen se lewe was daar twee opstande teen die kasteel wat ongelukkig nie geslaag het nie. Ná die tweede opstand is haar man, die liewe sagsinnige Jacob Bovendeert, aangehou en gebrandmerk as die leier en hy het in aanhouding gesterf.
Entgen het die boerdery voortgesit met die hulp van haar dogter Grietchen. Sy was suksesvol en waarskynlik relatief vermoënd. Dalk te veel vir baie dorpelinge wat gesukkel het om kop bo water te hou. Sy het intens met die natuur saamgeleef danksy die kennis en liefde wat haar pa, Peusken, en oma Meijken aan haar oorgedra het en was bekend en geliefd as natuurgeneser. Maar sy was ook selfgeldend en uitgesproke, ’n sogenaamde lastige vrou wat stilgemaak moes word. Sy het aan al die kriteria voldoen om as heks beskou te word: oud, weduwee, woon alleen sonder manlike beskerming, onafhanklik met ’n sterk wil, uitgesproke en praat te veel, hou haar besig met mansake, nie bang vir die donker en glad nie blindelings onderhorig aan die Kerk nie. Uiteindelik was dit bure en “vriende” wat 31 absurde aanklagte teen haar gebring het en so die vuilwerk vir die elite gedoen het.
Oor drie maande is sy mishandel, verneder en gemartel deur ’n stel besonder weersinwekkende mans sonder dat sy ooit skuld beken het en sy het ook niemand anders as heks uitgewys nie. Sy kon dus nie skuldig bevind word nie en is waarskynlik verwurg hoewel dit as selfdood aangeteken is.

Mabel Malherbe Leeskring in Pretoria (Foto deur Gina Malherbe)
Die boek lees maklik. Die geskiedenis van haar verhoor word afgewissel met die fiktiewe storie van haar lewe. Die Middeleeuse lewe op die Nederlandse platteland word kleurryk beskryf. Dit is bevolk met ’n stel volronde karakters en veral die verhouding wat sy gehad het met haar nabye familie is goed geteken.

Wit jasmyn (Foto deur Gina Malherbe)
Toe die aangewese spreker vir ons Novemberbyeenkoms siek geword het, is besluit om die boek by wyse van algemene deelname te bespreek. Ons het in drie groepe verdeel en met behulp van notas en moontlike vrae wat vooraf aan almal gestuur is interessante rondetafelgesprekke gehou waartydens hierdie gegewens ook deurgetrek is na die hede en ons plaaslike omstandighede.
Die skrywer se mening is dat heksevervolging eintlik vrouevervolging was en dat dit nog nie uitgesterf het nie, ondanks wetgewing en feminisme. Sy is die voorsitter van die Stichting Nationaal Heksenmonument wat hulle beywer daarvoor om reg te laat geskied aan vroue wat heksevervolging ondergaan het en vir die oprigting van ’n nasionale monument wat in 2026 in Roermond onthul sal word. https://www.nationaalheksenmonument.nl/
Sou iemand jou vir ’n heks kon aansien? het vir ’n tikkie vermaak gesorg. Ons is nou nie in die klas van Arundhati Roy en Greta Thunberg met ’n teiken op die rug nie maar ons kon byna almal bevestig dat aspekte van “hekswees” ooglopend by ons aanwesig is: onafhanklik, vrydenkend, uitgesproke, soms twisgierig. Bowenal is ons ingelig omdat ons baie lees.
Lees ook:
Geen valse vriende: Mabel Malherbe Leeskring se Nederlandse verbintenis (#1)
Dit zijn de namen: Mabel Malherbe Leeskring se Nederlandse verbintenis (#2)
