Spanning in Bloemfontein op breekpunt namate grondbesetting voortduur 

  • 0

Die spanning in Bloemfontein is besig om toe te neem namate grondbesetters voortgaan om onwettige strukture op te rig en leë grond aangrensend aan woongebiede vir bewoning op te eis.

Die spanning wat die grondbesetting by Lourierpark in Bloemfontein veroorsaak, het Dinsdag breekpunt bereik.

Inwoners van Lourierpark het die gebied gesluit om te verhoed dat mense wat grond onwettig in die gebied beset het, die woongebied binnekom. Hulle het paaie met brandende bande versper om die besetters uit te hou terwyl gevegte glo plek-plek uitgebreek het.

Die grondbesetting het Saterdagoggend begin en gelei tot groot stukke grond langs die R706, van Lourierpark tot Pellissier, wat beset word.

Die polisie het rubberkoeëls afgevuur om woedende Lourierpark-inwoners te keer om grondbesetters aan te rand.

Radio OFM berig alle ingange na die woonbuurt was Dinsdag met brandende bande versper en geen voertuie is toegelaat om die gebied binne te gaan of te verlaat nie.

Volksblad berig boere en hoewebewoners teenaan die Jagersfonteinpad by Bloemfontein het vir hul veiligheid en eiendom gebid terwyl die getal besetters weerskante van dié pad aanhou groei het.

Hardie Viviers, DA-koukusleier in die Mangaung Metromunisipaliteit (MMM), sê die DA het, saam met ander belanghebbendes, maatreëls in werking gestel om die MMM en die Suid-Afrikaanse Polisiediens te dwing om uitvoering te gee aan ’n hofbevel wat die stad bekom het om die onwettige besetting van munisipale grond in die Lourierpark-gebied aan te spreek.

Hy sê die vertragings, wat veroorsaak het dat die munisipaliteit die onwettige grondbesetting nie kon stuit nie, word as onaanvaarbaar beskou. Die situasie noodsaak onmiddellike optrede. Die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, moet verantwoordelik gehou word vir sy ontoereikende reaksie op hierdie krisis, sê Viviers.

Die VF Plus eis dat Vrystaat se LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, Maqueen Mathae, moet toesien dat die hofbevel teen die onwettige besettings uitgevoer word.

Sowat 6 000 besetters het begin om onwettige strukture op te rig in Lourierpark tussen Pellissier en Bloemdal langs die Jagersfonteinpad.

Die metro het reeds ’n tussentydse teen die besetters hofbevel verkry. Ingevolge die hofbevel mag geen nuwe besettings plaasvind of strukture op munisipale eiendom aangebring word nie.

Nthatisi het egter toestemming gegee vir die besetters om aan te bly. Dit druis lynreg teen die hofbevel in.

Die VF Plus sê in ’n verklaring dit is duidelik die ANC versuim om op te tree omdat dit hom stemme in die komende verkiesing kan kos.

Volgens die VF Plus se inligting het ANC-wyksraadslede glo die besetters se grondhonger misbruik om die onwettige grondgrype aan te moedig.

“Hoewel populistiese uitsprake gereeld oor grond en eiendom gemaak word, is dit die ANC in die Vrystaat se eie Departement van Menslike Nedersettings wat in die 2022/2023-boekjaar slegs 36,7% van sy beskikbare behuisingsbegroting kon bestee,” sê Adriaan de Bruyn van die VF Plus.

Dié departement moet jaarliks honderde miljoene aan die nasionale tesourie teruggee weens mislukte behuisingsprojekte.

Die VF Plus sê hulle is sedert Saterdag gereeld in kontak met die departement, wat moet toesien dat wet en orde gehandhaaf word.

Die party sê hulle sal die proses om ’n finale hofbevel teen die onwettige besetters te verkry, monitor en daarop aandring dat die metro dit eerbiedig en uitvoer.

Woedende Lourierpark-inwoners raak volgens OFM ongeduldig oor hoe die polisie en die MMM die grondbesetting hanteer. Talle polisiebeamptes is ontplooi.

Die besetters wat hier huise oprig, het aan die radiostasie gesê hul onderskeie raadslede het hulle toestemming gegee om daarheen te trek.

Die onwettige bewoners sê die versoeke aan MMM vir die toewysing van persele het op dowe ore geval.

’n Man wat in Brandwag huur, het volgens OFM gevra waarom hy huur van R1 500 sou betaal as hy verniet hier kan bly. Baie noem dat grond al is wat hulle wil hê.

Op ’n vraag vir wie hulle gaan stem, het byna almal uitdruklik gesê “definitief nié vir die ANC nie”, aangesien die party hulle grond en huise beloof het maar die belofte nooit nagekom het nie, het OFM berig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top