Die spanning in die RNE gaan op die spits gedryf word tydens dié week se kabinetslekgotla, waar die Onteieningswetsontwerp en die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) die belangrikste items op die agenda sal wees.
Dit volg nadat verskeie partye en organisasies met regstappe gedreig het nadat president Cyril Ramaphosa verlede week die Onteieningswetsontwerp onderteken het wat onteiening van private eiendom sonder vergoeding moontlik maak.
Die DA het ook ’n formele geskil met die ANC, sy grootste vennoot in die RNE, oor die twee wetsontwerpe verklaar.
The DA has invoked Clause 19 of the GNU Statement of Intent to reset relations between GNU partners. SA deserves a coalition built on respect and real solutions.
📢 Here’s the full briefing detailing the DA’s next action steps: https://t.co/l1RNA4BCnI#DApresser pic.twitter.com/zO8MXZvSld
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 26, 2025
Die VF Plus gaan ook ander partye in die parlement wat teen die Wysingswetsontwerp op Onteiening gestem het, nader om ingevolge artikel 80 van die Grondwet die Konstitusionele Hof te nader om die grondwetlikheid van hierdie wysigingswet te beveg.
Artikel 80 van die Grondwet bepaal dat een derde van die lede van die Nasionale Vergadering (NV) by die Konstitusionele Hof aansoek kan doen om ’n bevel te verkry dat ’n parlementswet in sy geheel of ten dele ongrondwetlik is.
Die VF Plus het na die goedkeuring van die Wysingswetsontwerp op Onteiening in 2023 ander politieke partye genader om in gevolge artikel 80 van die Grondwet die Grondwethof te nader om die grondwetlikheid van hierdie wysigingswet aan te veg. https://t.co/NBrW8S3lzQ
— VRYHEIDSFRONT PLUS (@VFPlus) January 24, 2025
Dit moet gedoen word binne 30 dae vanaf die datum waarop die president die wet bekragtig en onderteken het.
Die VF Plus sê hulle doen daarom nou ’n beroep op die partye wat teen die wysigingswet gestem het, om saam hierdie proses te begin.
Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring indien daar nie genoeg partye is wat ’n artikel 80-aansoek ondersteun nie, sal die VF Plus hom steeds na die Konstitusionele Hof wend om die grondwetlikheid van die wet te betwis.
❗️Onteieningswet is ongrondwetlik! @GroenewaldPJ @PretoriaFM https://t.co/goJ3yF0Skb
— VRYHEIDSFRONT PLUS (@VFPlus) January 24, 2025
Die DA-leier, John Steenhuisen, het hom ook die afgelope naweek sterk uitgelaat oor die spanning in die RNE. Hy beskuldig die ANC in ’n verklaring daarvan dat hy sy vennote in die regering openlik minag en die vertroue waarop enige koalisieregering gebou is, ondermyn.
Steenhuisen sê na ’n belowende begin, waarvolgens Ramaphosa die implementering van die Bela-wet vertraag het om onderhandelings moontlik te maak, het Ramaphosa dit die afgelope weke egter al hoe duideliker gemaak dat die ANC belangstelling daarin verloor het om sy kant van die ooreenkons binne die RNE te eerbiedig.
Steenhuisen sê Ramaphosa het die afgelope dae nie net die ernstige grondwetlike besware wat Dean Macpherson, die minister van openbare werke en infrastruktuur, oor die Onteieningswetsontwerp geopper het, verontagsaam nie, maar hy het ook versuim om die minister eers in te lig oor wanneer hy van plan was om die wetsontwerp in werking te laat tree.
Steenhuisen sê die DA het dit van die begin af duidelik gemaak dat hulle in die RNE is om mag te deel, nie bloot om “die getalle op te maak” vir die ANC om voort te gaan om sy beleid uit te voer nie.
“Enige koalisie-ooreenkoms is gegrond op die erkenning dat die groter party bereid moet wees om te onderhandel en kompromieë aan te gaan wanneer dit vereis word, want alle partye in die RNE, insluitend die ANC, verteenwoordig slegs die belange van ’n minderheid.”
Die burgerregteorganisasie AfriForum het dit ook aan die regering duidelik gemaak dat hulle regstappe sal doen om private eiendomsreg te beskerm indien die regering eiendomme teiken vir onteiening sonder vergoeding.
.@AfriForum gereed om regstappe te doen om eiendomseienaars teen onteiening deur RNE te beskerm - https://t.co/Ta962wgNDh
— AfriForum (@afriforum) January 23, 2025
AfriForum sê in ’n verklaring dat die ondertekening van hierdie wetsontwerp ’n wesenlike bedreiging vir die reg op private eiendom in die land moontlik gemaak het. Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, het die RNE sodoende oorlog teen eienaars van private eiendom verklaar.
Die presidensie het verlede week aangekondig dat Ramaphosa die Wetsontwerp op Onteiening onderteken het wat “die predemokratiese Onteieningswet van 1975” herroep het en uiteengesit het hoe staatsorgane om verskillende redes grond in die openbare belang mag onteien.
President @CyrilRamaphosa has signed into law the Expropriation Bill which repeals the pre-democratic Expropriation Act of 1975 and sets out how organs of State may expropriate land in the public interest for varied reasons. https://t.co/8KLTdkjBZm
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) January 23, 2025
Die presidensie sê in ’n verklaring die wetsontwerp waartoe Ramaphosa ingestem het, beskryf hoe onteiening gedoen kan word en op watter grondslag.
Plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede kan hierdie wetgewing gebruik om grond in die openbare belang te onteien; onder andere poog dit om inklusiwiteit en toegang tot natuurlike hulpbronne te bevorder.
Ingevolge hierdie wet mag ’n onteieningsowerheid nie eiendom arbitrêr of vir ’n ander doel as ’n openbare doel of in die openbare belang onteien nie.
Die wet maak ook voorsiening daarvoor dat geskille vir bemiddeling of na toepaslike howe verwys word.