Spanning laai op oor Afrikaans by US

  • 0

Bruin taalaktiviste in die Wes-Kaap is woedend oor wat hulle beskou as die verdere verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US). Hulle dreig nou om die strate in te vaar en protesoptogte te hou ter ondersteuning van Afrikaans as onderrigtaal.

Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) ook die afgelope naweek met ’n petisie begin om die reg op moedertaalonderrig aan die US te beskerm teen wat hulle noem die aanhoudende aanvalle deur die universiteitsbestuur.

Die DA sê in ’n verklaring die US-bestuur se vermeende oorlog teen moedertaalonderrig het oor die afgelope paar weke selfs meer fel geword. Dit volg nadat eerstejaarstudente in verskeie koshuise na bewering verbied is om Afrikaans te praat in hul koshuiskamers en selfs op parkbanke op kampus.

Twee prominente bruin taalaktiviste wat hulle stem dik maak oor Afrikaans by US, is Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk wat hulle beywer vir die belange van benadeelde Afrikaanssprekendes, en die teoloog Willa Boezak. Hulle word ondersteun deur verskeie ander bekendes wat beswaar maak teen die universiteit se konsepbeleid oor taal waaroor daar tans gedebatteer word.

Die jongste storm oor Afrikaans by US geskied teen die agtergrond van die huidige hersiening van die universiteit se taalbeleid. Die US se Taalbeleid (2016) word tans hersien as deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Artikel 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal dat die beleid “verval vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan” en “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien (moet) word”. Die huidige beleid het in 2017 in werking getree.

Belanghebbers kan tot 12 April via ’n digitale platform kommentaar lewer. Alle insette word anoniem ingedien tensy bydraers ​verkies om hulself te identifiseer of aandui dat hulle namens ’n bepaalde groep of organisasie kommentaar lewer.

Die Taalbeleid-hersieningstaakspan se eerste konsep van die hersiene taalbeleid het reeds wye kritiek uitgelok. Daar word onder meer beweer dat dit Afrikaanssprekendes by die universiteit nog verder sal uitsluit. Die konsephersieningsbeleid word vermoedelik onomwonde verwerp deur diegene wat hulle beywer vir Afrikaans as gelyke onderrigtaal aan die US.

Daar is ook groot ongelukkigheid omdat Afrikaans nie as ’n inheemse taal beskou word nie. Volgens die eerste konsep van die nuwe taalbeleid verwys die term “inheemse tale” na tale waarvan die erfenis in Afrika wortel en wat tot die Suid-Bantoe-taalfamilie behoort (met “Bantoe” in die suiwer taalkundige betekenis).

Die voorstanders van Afrikaans meen egter die definisie van inheemse tale in die konseptaalbeleid is te eng en behoort Afrikaans in te sluit.

Volgens die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch en parlementslid, Leon Schreiber, hang die huidige US-bestuur, onder leiding van rektor Wim de Villiers, se beweerde “anti-Afrikaanse onderrok” uit. Hy sê dit is weens die universiteit se weiering om op te tree ter verdediging van studente se grondwetlike reg op moedertaalonderrig en om hul eie taal te praat. “De Villiers het tot op hede nog nie ’n enkele woord gerep oor die skending van hierdie studente se menseregte nie.”

Schreiber sê die universiteit is ook besig om Afrikaans met die nuwe konseptaalbeleid nog verder af te water.

Die DA het reeds ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak waarin versoek word dat die MRK die rol van die universiteit se 2016-Taalbeleid ondersoek. Volgens die DA gee hierdie beleid amptelik aan Afrikaans ’n mindere status, wat skynbaar bygedra het tot die huidige atmosfeer van vermeende diskriminasie teen Afrikaanse studente.

Die DA sê die US behoort die proses om die taalbeleid te hersien van voor af te begin deur onmiddellik ’n openbare konferensie te reël waar alle belanghebbendes ’n geleentheid gebied word om die tekortkominge van die 2016-Taalbeleid te bespreek met die oog op ’n nuwe taalbeleid wat ’n gelyke plek aan Afrikaans sal waarborg.

Die universiteit sê op hulle webwerf dat aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 bevind het dat die Taalbeleid (2016) grondwetlik geregverdig is en dat die universiteit se proses om die beleid te aanvaar “deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend was”, die huidige beleid as vertrekpunt vir die hersieningsproses gebruik is.

Die hersiening sal verder gelei word deur onder meer die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 wat aanvaar en geïmplementeer is nadat die 2016-Taalbeleid goedgekeur is, asook die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat ingevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys 1997 (Wet 101 van 1997, soos gewysig) bepaal is.

Lees ook op LitNet:

Die klassifikasie van Afrikaans

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?

Persverklaring: Uitnodiging om kommentaar te lewer op eerste konsep van hersiene Taalbeleid (2016)

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

Student protest: Coming up on this season of #FeesMustFall

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top