Die magstryd binne die ANC is op ’n mespunt met nog steeds geen aanduiding wat die beleërde sekretaris-generaal van die organisasie, Ace Magashule, se volgende stap gaan wees nie.
Volgens ’n besluit van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) moes Magashule teen dié tyd reeds sy pos ontruim het as hy nie uit die party geskors wil word nie. Magashule klou egter soos ’n neet vas en is duidelik nie van plan om sonder ’n geveg afstand te doen van die tweede magtigste posisie in die organisasie nie.
Magashule en alle ander lede van die ANC wat aangekla is van korrupsie of ander ernstige misdade moes ingevolge ’n besluit van die NUK wat ’n maand gelede geneem is, binne 30 dae opsy staan en afstand doen van hulle posisies in die party totdat hulle onskuldig bevind is deur ’n hof. Indien hulle weier, sal hulle volgens die NUK se besluit uit die party geskors word.
Dit het egter gou duidelik geword dat Magashule en ander senior leiers van die ANC wat aangekla is van ernstige misdade nie van plan is om gehoor te gee aan die besluit nie. Alle oë is die afgelope maand op Magashule gerig, aangesien hy naas Ramaphosa die magtigste persoon in die ANC is.
TimesLive het Dinsdag berig president Ramaphosa het tans die onomwonde steun van die res van die ANC se top ses. Hulle wil hê Magashule moet onmiddellik opsy staan hangende die uitslag van sy hofsaak.
Volgens Business Day se bronne het Magashule die top ses die afgelope naweek meegedeel hy is nie van plan om sy kantoor vrywillig te ontruim nie.
Magashule word aangekla van korrupsie, bedrog en geldwassery wat verband hou met ’n asbeskontrak van R255 miljoen in die Vrystaat terwyl hy die provinsie se premier was. Hy is borgtog van R200 000 toegestaan. Magashule hou vol hy is onskuldig.
Die party se woordvoerder, Pule Mabe, het verlede week gesê die verslae van die onderskeie provinsies hieroor sou Maandag verwerk word. Van die leiers wat gevra is om hul poste te ontruim is, behalwe Magashule, ook die parlementslid Bongani Bongo, die party se tesourier in Limpopo, Danny Msiza, en die voormalige burgemeester van die eThekwini-metro, Zandile Gumede.
Daar bestaan groot verwarring wat die prosedure is wat nou gevolg moet word nadat dit duidelik geword het dat Magashule en ander nie van plan is om uit vrye wil opsy te staan nie.
Volgens Mabe is die opsystaanresolusie nie ontwerp vir leiers in posisies soos wat Magashule beklee nie. Die riglyne rondom die opsystaanbesluit spel glo ook nie uit of daar enige appèlproses is wat gevolg kan word indien mense soos Magashule nie gehoor gee aan die besluit dat hulle moet opsy staan nie.
Ramaphosa het tydens sy verskyning voor die Zondo-kommissie herhaal dat die NUK mense wat van ernstige misdade aangekla is, 30 dae gegee het om self opsy te staan. Volgens Ramaphosa is dit in ooreenstemming met ’n besluit wat tydens die Nasrec-konferensie geneem is. Indien hulle dit nie doen nie, sal hulle uit die ANC geskors word, het Ramaphosa by herhaling gesê. Die rede waarom daar nog geen aankondiging oor Magashule se toekoms gedoen is nie, is waarskynlik dat die ANC baie seker wil maak hy het nie ’n voet om op te staan as hy sy skorsing die hof betwis nie.
Netwerk24 het Dinsdagmiddag berig dat die ANC se nasionale werkkomitee vermoedelik die "groen lig" gegee het om Magashule te skors.
’n Spesiale vergadering van die ANC se NUK word die komende naweek van 8 tot 10 Mei gehou waartydens daar na verwagting groter duidelikheid sal wees oor Magashule se posisie in die organisasie asook oor ander soos hy wat van korrupsie aangekla is en weier om opsy te staan.