Spanning tussen die ANC-leierskap en die party se voormalige president, Jacob Zuma, is besig om op te bou in die aanloop tot vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing nadat dit die afgelope naweek breekpunt bereik het.
Zuma het hom die gramskap van die ANC op die hals gehaal met sy vroeëre aankondiging dat hy vanjaar sy gewig by die uMkhonto weSizwe- (MK-) party gaan ingooi om steun vir die verkiesing te werf.
Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het die afgelope naweek die party se standpunt oor sy voormalige president gefinaliseer.
NUK-lede het die naweek oor die saak beraadslaag, saam met ander kwessies, insluitend die vernuwing van die organisasie en die vinnig naderende algemene verkiesing.
Terwyl verskeie NUK-lede huiwerig was om teen Zuma op te tree, het sommige glo voorgestel dat dit die beste sou wees om die voormalige partyleier onmiddellik te skors en die kwessie vir eens en altyd uit die weg te ruim.
Zuma word daarvan beskuldig dat hy die organisasie se grondwet oortree het deur ’n veldtog te voer vir ’n ander party wat nie in bondgenootskap met die ANC is nie. Zuma doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om nie vir die ANC te stem in vanjaar verkiesings nie en laat die NUK dus met geen ander keuse as om sy lidmaatskap van die party te beëindig nie.
Sommige lede van die NUK is egter bekommerd dat Zuma se skorsing verskriklike gevolge vir die ANC kan hê, veral in provinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng, waar die party op die punt staan om mag te verloor.
Eyewitness News het Maandag berig dat sommige van Zuma se bekende bondgenote in die organisasie die grondslag gelê het vir sy uitsetting uit die party, terwyl News24 eerste berig het dat die ANC se NUK aan die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, opdrag gegee het om Zuma in te lig dat sy ANC-lidmaatskap opgehef word.
ANC NEC meeting, to continue, with party expected to communicate decision on Zuma matter https://t.co/LSDhZnMxCA
— Eyewitness News (@ewnupdates) January 29, 2024
Die NUK, wat die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam tussen konferensies is, het skynbaar geen ander keuse gehad as om te besluit dat Zuma onmiddellike geskors word nie.
Dit sal waarskynlik opgevolg word met ’n amptelike brief waarin gevra word vir redes waarom hy nie aangekla en aan dissiplinêre prosesse onderwerp moet word nie, en sodoende ’n weg baan vir sy formele uitsetting uit die party.
Verskeie ANC-leiers het Zuma reeds vroeër afgeskryf en aangevoer dat hy die reëls ken en verstaan dat dit effektief ’n einde aan sy 60 jaar lange ANC-lidmaatskap maak as hy ooglopend met die MK-party vereenselwig word.
Die laaste druppel wat die emmer laat oorloop het, was Zuma se uittartende uitlatings die afgelope naweek. Honderde mense het die uMkhonto weSizwe-party-saamtrek by KwaXimba in die weste van Durban bygewoon waar Zuma teen die ANC se huidige president, Cyril Ramaphosa, uitgevaar het.
“Ek kan en sal my nie vir die ANC van Ramaphosa beywer nie. My gewete sal nie toelaat dat ek vir die mense van Suid-Afrika lieg nie,” het Zuma aan sy ondersteuners gesê.
I cannot and will not campaign for the ANC of Ramaphosa. My conscience will not allow me to lie to the people of SA - HE Pres JG Zuma. #VoteMK2024 pic.twitter.com/2SOFF712M2
— Jobe Nyambose (@sechabasamzansi) January 29, 2024
Sy dogter Dudu het oor die naweek verskeie boodskappe op X gedeel waarin die ANC uitgedaag word om Zuma te skors. Daar is onder andere gesê as die ANC die moed het om hom te skors, sal hy nóg vryer wees om steun vir die MK-party te werf. “Maak asseblief gou hiermee, ANC,” lui een van die boodskappe.
Maybe finally @MYANC will have balls to expel President Zuma.
He will be free to campaign fully for @MkhontoweSizwex. Duma and Killer Mtolo will rest in peace. Maybe they will stop insulting President Zuma.
Please make it quick ANC. pic.twitter.com/SjZGwEAOAK
— #Respect2024???????? (@ComradeMDU) January 29, 2024
Zuma het die afgelope naweek gesê die MK-party wil ’n tweederdemeerderheid in vanjaar se verkiesing behaal en het gedreig dat die land in chaos sal verval indien dit nie gebeur nie.