Die bedryf en regulering van informele handelaars en spazawinkels het tot ’n vuurwarm debat onder Suid-Afrikaners gelei nadat gevalle van voedselvergiftiging landwyd voorgekom het as gevolg van produkte wat by sommige van die winkels gekoop is.
Verskeie kinders is dood nadat hulle besmette versnaperinge van spazawinkels geëet het. Die regering slaan nou toe op hierdie winkels om te verseker dat hulle veilig is en aan die vereistes voldoen.
Sommige meen ’n gebrek aan behoorlike regulasies moet die skuld kry vir die huidige krisis, terwyl partye soos ActionSA wil hê spazawinkels moet honderd persent deur Suid-Afrikaners bedryf word en nie deur buitelanders nie.
Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het gevra vir behoorlike regulasies en vir die aanstelling van gesondheidsinspekteurs om die nakoming van spazawinkels te monitor, terwyl sommige politieke partye soos die ANC ook vra vir dringende hervormings rakende die bedryf van sulke winkels.
ActionSA sê in ’n verklaring Suid-Afrika se township-ekonomieë het dringend hervorming nodig. Die party het met ’n #Spaza4Locals-veldtog begin om township-ekonomieë te transformeer deur Suid-Afrikaanse entrepreneurs te bemagtig, regulasies te verskerp en onwettige handel uit te roei.
We are taking the fight to reclaim South Africa’s township economy to Parliament!
We are proposing a Private Members Bill in Parliament - the #Spaza4Locals Bill - aimed at promoting 100% local ownership of Spaza Shops, which have long been vital to South African communities. pic.twitter.com/C6h5xIHRZy
— ActionSA (@Action4SA) November 11, 2024
Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê die eerste stap is om alle spazawinkels te registreer sodat hulle vir almal kan rekenskap gee.
Dit sal gedoen word deur die instelling van nuwe verordeninge wat reguleer hoe hierdie winkels funksioneer.
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die regering moet onmiddellik alle spazawinkels sluit, hulle opnuut laat registreer en dit permanent toemaak as hulle nie behoorlike dokumentasie het nie. Eienaars moet volgens Mbalula gedeporteer word as hulle nie behoorlik gedokumenteer is nie.
Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se teenkanting teen oproepe vir ’n massasluiting en herregistrasie van spazawinkels het wydverspreide debat oor X ontketen.
Die VSA het die situasie by spazawinkels as ’n “tikkende tydbom” beskryf as gevolg van die woede in townships oor besmette kos oor die jare wat deur spazawinkels verkoop word sonder dat daar voldoende regeringsoptrede is.
PSA calls for ‘proper’ regulation of spaza shopshttps://t.co/cCfIKG6wUQ
— Polity.org.za (@PolityZA) November 11, 2024
“Terwyl spazawinkels ’n noodsaaklike rol in gemeenskappe speel, wat gerieflike toegang tot goedere en dienste bied, het die nieregulering van hierdie ondernemings vrugbare teelaarde geskep vir vinnige wins ten koste van burgers,” sê die VSA.
ActionSA sê met R200 miljard se ekonomiese aktiwiteit op die spel vra hulle vir wysigings aan die verordeninge wat die township-ekonomie reguleer om eienaarskap vir Suid-Afrikaners te verseker sodat die finansiële opbrengste van die winkels binne die land se grense bly.
Die party wil hê dat alle spazawinkels in Suid-Afrikaners se hande moet wees. “Hierdie benadering bevoordeel Suid-Afrikaners regstreeks deur die ekonomiese krag wat binne die land gegenereer word te behou en broodnodige plaaslike werksgeleenthede te verskaf.”
Hulle glo hulle voorstelle teiken die uitbuiting van township-ondernemings deur buitelandse kriminele sindikate en verminder die voorkoms van vervalste goedere.
Die voorgestelde regulasies sal strenger strawwe instel, insluitend boetes, gevangenisstraf en die onmiddellike sluiting en verbeuring van onwettige winkels en goedere. Hierdie inisiatief sal die gemeenskappe volgens ActionSA beskerm teen onwettige aktiwiteite wat die veiligheid en ekonomiese gesondheid van inwoners bedreig.
“Vir te lank het die regering township-ekonomieë laat kwyn onder onvoldoende en swak toegepaste wette. Huidige regulasies versuim om plaaslike sake-eienaars te beskerm, wat hulle kwesbaar maak vir onwettige handel en uitbuiting. ActionSA se voorgestelde wysigings stel ’n deursigtige en afdwingbare raamwerk voor wat die regulatoriese gapings oorbrug en ’n regverdige mark vir Suid-Afrikaners skep,” sê die party se hoofsweep in die parlement, Lerato Ngobeni.
Madonsela se reaksie op X verskil egter skerp met die openbare kommer oor gesondheid en veiligheid na die dood van verskeie kinders wat na bewering verband hou met versnaperinge wat by plaaslike spazawinkels gekoop is. Sy voer aan dat die sluiting van alle spazawinkels soos wat Mbalule voorgestel het, tot ’n ingrypende stilstand in die township-ekonomieë sal lei wat uiteindelik meer geld na groot besighede kan dryf, terwyl townshipgemeenskappe ekonomies langs die kantlyn staan.
Madonsela pleit eerder vir ’n gebalanseerde benadering wat doelgerigte inspeksies en sluitings van spazawinkels wat vervalste of skadelike goedere verkoop, ondersteun.