Opposisiepartye het hulle mes in vir die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Hulle eis haar bedanking nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Dinsdag op haar huis in Bruma, Johannesburg toegeslaan het op soek na bewysstukke wat verband hou met korrupsie-aantygings wat teen haar gemaak word.
Politieke partye van die EFF tot die Vryheidsfront Plus, asook die DA en ander, dring daarop aan dat sy uit haar amp verwyder moet word en opsy staan hangende die ondersoek teen haar.
Sy staar bewerings van korrupsie in die gesig wat verband hou met die bewering dat sy minstens R2,3 miljoen kontant van ’n voormalige militêre kontrakteur aangevra en ontvang het tydens haar ampstermyn as minister van verdediging en militêre veterane.
Die NVG het Mapisa-Nqakula se woning Dinsdag vir bykans vyf uur deursoek.
Search and seizure operation carried out at the home of Speaker of Parliament, Ms Nosiviwe Mapisa-Nqakula by @NPA_Prosecutes Investigating Directorate pic.twitter.com/HN9BxMLWB2
— NPASouthAfrica (@NPA_Prosecutes) March 19, 2024
Die parlement het ook die klopjag by die speaker se woning bevestig.
Die parlement het in ’n verklaring gesê die speaker “handhaaf onwrikbaar haar sterk oortuiging van onskuld, en bevestig weer dat sy niks het om weg te steek nie”.
The Hawks, acting on behalf of the National Prosecuting Authority’s (NPA’s) Investigative Directorate (ID), conducted an early morning raid on the home of parliamentary speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula, in Johannesburg on Tuesday pic.twitter.com/ilRyEQjTqh
— The Instigator (@Am_Blujay) March 19, 2024
In ooreenstemming hiermee het sy die ondersoekers volgens die verklaring in haar huis verwelkom en ten volle saamgewerk tydens die uitgebreide soektog.
Die Vryheidsfront Plus het in hulle reaksie gesê hulle verwelkom die ondersoek en klopjag van die NVG se ondersoekdirektoraat by Mapisa-Nqakula se huis.
Die party sê in ’n verklaring hulle sal wil sien dat die Valke se ondersoek vinnig en deeglik afhandel word.
Die ondersoek hou glo verband met optrede van Mapisa-Nqakula terwyl sy minister van verdediging en militêre veterane was. Sy het na bewering omkoopgeld van R2,3 miljoen in die vorm van “geskenke” van ʼn diensverskaffer van die weermag ontvang. @GroenewaldPJ https://t.co/cnW4rg2sxg
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) March 19, 2024
Die party se leier, Pieter Groenewald, sê Suid-Afrika se publiek het die reg om die waarheid oor die aangeleentheid te weet.
“As speaker behoort Mapisa-Nqakula dadelik opsy te staan, aangesien die klagtes verband hou met haar integriteit. Deur in die pos aan te bly terwyl die ondersoek aan die gang is, sal die integriteit van die parlement ook aangetas word,” het Groenewald in ’n verklaring gesê.
Groenewald sê ’n speaker dien as simbool van integriteit, eerlikheid, respek en verantwoordbaarheid van die parlement en dit is juis al hierdie aspekte wat nou in die gedrang kom.
ActionSA sê hulle hou nie asem op oor wat van die klopjag gaan kom nie.
Nothing significant will come out of the police raid on the Speaker of Parliament Nosiviwe Mapisa-Nqakula’s home over corruption allegations!https://t.co/aph0SVI15y
We have in the past seen examples where high-ranking ANC members such as Gwede Mantashe and Nomvula Mokonyane…
— ActionSA (@Action4SA) March 19, 2024
Die rede vir hierdie skeptiese houding is die feit dat daar volgens ActionSA al te veel voorbeelde was van senior ANC-ampsdraers wat by bedrog, korrupsie, omkopery en onbehoorlikheid betrek word sonder enige gevolge.
’n Woordvoerder van die party, Athol Trollip, sê in ’n verklaring om haar te vra om by die ANC se eie gekompromitteerde opsystaanbeleid te hou, is absoluut futiel, want hulle kandidatelyste vir die komende verkiesing is almal propvol kamerade wat moes opsy gestaan het, maar vir herverkiesing voorgestel word.
“Dan is daar natuurlik die spesifieke voorbeelde van Gwede Mantashe en Nomvula Mokonyane wat geïmpliseer is, met bewyse, in die Bosasa-korrupsie- en -omkoperyblootstelling deur Angelo Agrizzi. Niks het met hierdie ANC-helde gebeur nie, en hulle gaan voort om die politieke verhoog met brutale straffeloosheid te bestyg,” het Trollip gesê.
Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, het in haar verklaring gesê om openbare vertroue in die instelling te behou, moet Mapisa-Nqakula as speaker uittree. “Sy kan nie met hierdie hoë amp toevertrou word nie. Dit is belangrik dat diegene wat sulke posisies beklee, die hoogste standaarde van integriteit en aanspreeklikheid toon. Daar word van die speaker verwag om deur haar voorbeeld te lei en te verseker dat lede van die uitvoerende bestuur en parlement hul ampseed nakom,” het Gwarube gesê .