Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se loopbaan as speaker is nou in die hande van die parlement nadat die DA se versoek om ’n mosie van wantroue teen haar in te stel toegestaan is.
Mapisa-Nqakula se loopbaan is in die gedrang weens ernstige bewerings van omkopery en korrupsie teen haar wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ondersoek word.
Sy veg ’n verbete stryd om haar amp te behou en uit die tronk te bly nadat dit bekend geword het dat die NVG haar moontlik in hegtenis wil neem weens die beweerde korrupsie. Sy is tans op “spesiale verlof”.
Sy het haar die afgelope week ook tot die Hooggeregshof gewend om ’n dringende interdik te probeer bekom dat sy nie in hegtenis geneem word as gevolg van die bewerings teen haar nie. Uitspraak om haar inhegtenisname te verhoed is tot volgende week voorbehou.
Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy meer as R2 miljoen se omkoopgeld van ’n verdedigingskontrakteur ontvang het tydens haar tyd as minister van verdediging.
Dit is egter nie haar enigste probleem nie. Die DA het Dinsdag bevestiging van die waarnemende speaker, adjunkspeaker Lechesa Tsenoli, ontvang dat die mosie van wantroue in haar van die Nasionale Vergadering toegestaan is.
‼️ The DA's Motion of No Confidence in the Speaker of the National Assembly Nosiviwe Mapisa-Nqakula has been granted.
Mapisa-Nqakula is no longer suited to preside over Parliament following the serious corruption and money laundering allegations. https://t.co/9whZfSWMx4
— Democratic Alliance (@Our_DA) March 26, 2024
Dit is nog onduidelik wanneer die mosie voor die parlement sal dien, maar dit sal wel deur die parlement oorweeg word. Moloto Mothapo, parlementswoordvoerder, het gesê die toepaslike skedulering van die mosie sal aangekondig word sodra die ANC-hoofsweep, Pemmy Majodina, geraadpleeg is.
Die reëls van die Nasionale Vergadering is duidelik oor die feit dat ’n mosie om ’n speaker of die adjunkspeaker te verwyder, dringend oorweeg moet word. Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, sê in ’n verklaring as in ag geneem word dat hierdie parlement tot Mei bevoeg bly voordat dit ontbind, is daar geen rede waarom ’n spesiale sitting van die parlement nie so vroeg as volgende week belê moet word om hierdie belangrike mosie te oorweeg nie.
Sy sê sy het reeds aan alle partye wat in die parlement verteenwoordig is, insluitend die ANC, geskryf om hul steun vir hierdie mosie te versoek. Mapisa-Nqakula se weiering om te bedank te midde van hierdie korrupsieskandaal laat geen ander keuse as om hierdie mosie te bring nie, het Gwarube gesê.
Sy sê vir parlementslede wat die waardes van aanspreeklikheid moet handhaaf, behoort dit nie ’n moeilike besluit te wees nie.
“Mapisa-Nqakula is nie meer geskik om hierdie belangrike posisie te beklee om die Nasionale Vergadering te lei nie. Die parlement is die einste instelling wat die uitvoerende gesag tot verantwoording kan roep; ons kan nie in gebreke bly om op te tree as die speaker die een is wat korrupsiebewerings in die gesig staar nie.”
Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en geldwassery uit haar tyd as minister van verdediging. Die bewerings en die klopjag wat by haar huis plaasgevind het, asook die moontlike dreigende arrestasie wat sy ontduik, dui volgens die DA alles op iemand wat nie meer geskik is vir hierdie rol nie.
“Die parlement en die partye wat daar verteenwoordig word, moet die regte ding doen deur die mosie te steun en vir Suid-Afrikaners te wys dat die parlement nie ’n toevlug is vir van die slegstes onder ons nie,” lui die DA se verklaring.
Die Grondwetkenner Pierre de Vos het Maandag op sy blog, Constitutionally speaking, gesê of Mapisa-Nqakula aanbly as speaker van die Nasionale Vergadering of nie, is nie ’n regskwessie nie, maar ’n suiwer politieke besluit wat die ANC-koukus moet neem.
Volgens hom moes die ANC haar reeds versoek het om te bedank as sy dit nie self wil doen nie. Hy sê al die spekulasie rondom haar posisie as speaker is onnodig. As sy in die beste belang van die parlement en van die land wou gehandel het, sou sy self bedank het om die instelling se integriteit te beskerm.
Hoewel Mapisa-Nqakula se posisie as speaker onhoudbaar geword het, is dit volgens De Vos onwaarskynlik dat sy self sal bedank, omdat sy steeds die politieke steun van die ANC geniet.