Speaker veg in hof teen moontlike arrestasie

  • 0

Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se regspan het Maandag desperaat probeer keer dat die Nasionale Vervolgingsgeag (NVG) haar in hegtenis neem weens beweerde omkopery of korrupsie. Hulle het ’n dringende aansoek by die Hooggeregshof ingedien om ’n interdik te vra wat die NVG sal verhoed om haar in hegtenis te neem.

Mapisa-Nqakula se loopbaan hang in die weegskaal as gevolg van die bewerings teen haar, en opposisiepartye in die parlement eis haar bedanking.

Die NVG het verlede week ’n klopjag op haar huis uitgevoer op soek na verdere bewysstukke teen haar, wat bespiegelings laat vlamvat het dat sy in hegtenis geeneen gaan word.

Haar regspan het aangevoer die NVG het onredelik geweier om haar van ’n onderneming te voorsien dat hulle haar nie sal arresteer nie, hangende ’n interdikaansoek van 9 April teen die staat.

Hulle beskuldig ook die staat daarvan dat die staat inligting aan die media “uitlek” wat haar benadeel en dat verlede week se klopjag op haar huis onwettig was.

Die hof het uitspraak voorbehou.

Hoewel Mapisa-Nqakula se posisie as speaker onhoudbaar geword het, is dit volgens die Grondwetkenner Pierre die Vos onwaarskynlik dat sy in die nabye toekoms sal bedank, omdat sy steeds politieke steun van die ANC geniet.

De Vos het Maandag op sy blog, Constitutionally speaking, gesê of Mapisa-Nqakula aanbly as speaker van die Nasionale Vergadering is nie ’n regskwessie nie, maar ’n suiwer politieke besluit wat die ANC-koukus moet neem.

Volgens De Vos is al die spekulasie rondom Mapisa-Nqakula se posisie as speaker onnodig. Hy sê as die speaker die beste belang van die parlement en van die land se demokrasie ernstig opgeneem het, sou sy lankal bedank het om die instelling se integriteit te beskerm. Die regerende party moes haar versoek het om te bedank as sy dit nie self gedoen het nie. Hy sê hopelik sal kiesers die ANC op 29 Mei hard hiervoor oordeel.

Mapisa-Nqakula  is in 2012 aangestel as minister van verdediging en is in 2021 vervang deur Thandi Modise ná verskeie skandes, soos die Guptas se landing op die Waterkloof-lugmagbasis, die gebruik van ’n lugmagvliegtuig om ANC-lede na Harare te neem, en die leemtes in die weermag wat duidelik geblyk het met die onrus in 2021.

In 2021 het daar fluitjieblasers na vore gekom met bewerings dat Mapisa-Nqakula miljoene rande van weermagkontrakteurs sou ontvang het. Daar is wyd in die media daaroor berig, maar sy het dit deurgaans ontken.

Die DA het die naweek gesê hulle het herhaaldelik versoek dat die speaker moet bedank, aangesien dit eenvoudig nie gepas is dat die hoof van die nasionale wetgewer van korrupsie verdink word en moontlike inhegtenisneming in die gesig staar nie.

Die DA het alle politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word, versoek om hulle mosie vir die verwydering van die speaker ingevolge artikel 52(4) van die Grondwet te ondersteun.

Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, sê in ’n verklaring die speaker se spesiale verlof is niks meer as ’n soeke na ’n uitkomkans nie.

“Daarbenewens, in die lig van die feit dat die speaker in hegtenis geneem kan word, doen ons ’n beroep op die NVG en alle wetstoepassingsagentskappe om die nodige stappe te doen om te verhoed dat sy die land verlaat. Sy het haar daartoe verbind om met die ondersoek saam te werk, daarom kan sy nie die land verlaat sonder om die gevolge in die gesig te staar nie.”

Die DA sê Mapisa-Nqakula moet bedank of deur ’n mosie van wantroue verwyder word en enigiets minder as dit sal ’n bespotting van die parlement en die land wees.

Die Vryheidsfront Plus het ook die hoop uitgespreek dat die kwessie spoedig afgehandel sal word sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Die party sê in ’n verklaring hulle verwelkom die optrede van die polisie en die NVG teen Mapisa-Nqakula oor bewerings dat sy omgekoop is met “geskenke” van weermagkontrakteurs terwyl sy minister van verdediging was.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top