Spesiale parlementêre debat gevra om "raswet" te bespreek

  • 0

Ongeveer een uit vier bruin werknemers in die land sal hulle werk kwyt wees indien die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming aanvaar word.

Dit is een van die gevolgtrekkings uit ’n verslag wat die burgerregte-organisasies  Kaapse Forum en Solidariteit die afgelope week in Kaapstad bekendgemaak het.

Veral bruin werknemers by werkgewers wat net in die Wes-Kaap sake doen, en bruin werknemers wat in een of twee van die ander provinsies werksaam is, gaan volgens die konsepregulasies geteiken word,

Die verslag ontleed die konsepregulasies wat die Minister van Arbeid ingevolge die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming voorgestel het. Dié verslag het ’n spesifieke fokus op die moontlike impak van die voorgestelde regulasies op die bruin arbeidsmark.

Berekeninge in die verslag toon dat ongeveer 85 000 bruin werknemers in Gauteng vervang sal moet word om die minister se teikens te haal. Geen bruin werknemer mag in Limpopo aangestel word nie.

Nasionaal sal daar ongeveer een uit twee bruin werknemers in landbou, vervaardiging, handel en finansies volgens die minister se sektorale teikens vervang moet word.

Volgens die organisasies sal bruin werknemers in die landbousektor in die Wes-Kaap boonop minder gemaak moet word, en talle bruin vroue in die Wes-Kaap sal vervang moet word.

Kaapse Forum en Solidariteit het Dinsdag in Kaapstad saam met gemeenskapsleiers ’n versoekskrif in die parlement ingedien oor die nuwe wet en regulasies wat onlangs gepubliseer is. Die groepe vra onder meer ’n spesiale parlementêre debat daaroor aan en dat die parlement ingryp en die wet stopsit. Volgens die petisie is die nuwe wet en regulasies ongrondwetlik en irrasioneel.

Dié aksie van Solidariteit en Kaapse Forum spruit volgens hulle verklaring voort uit die resolusie wat die twee partye op 6 Junie saam met ongeveer 30 ander organisasies onderteken het waarin hulle onderneem om die regulasies teen te staan.

“Die regulasies wat gepubliseer is, het landswyd groot reaksie uitgelok. Die impak daarvan gaan groot ontwrigting in Suid-Afrika tot gevolg hê. Dit is suiwer ’n raswet wat die samelewing op grond van ras klassifiseer en manipuleer,” het Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, gesê.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wys die regulasies wat die werklike bedoeling van die regering met die wet is. “Die gevolge van die wet wat deur die parlement aanvaar is, is duidelik. Dit regverdig nie net ’n parlementêre debat nie, maar maak dit noodsaaklik. Suid-Afrika sal wil hoor hoe die parlement hierdie soort sosiale manipulering kan regverdig. Noudat die bedoeling duidelik is en die ongrondwetlikheid in die regulasies sigbaar is, moet die parlement die regte ding doen en die wet en regulasies stop,” het Hermann gesê.

Die twee organisasies is verder van mening dat die regering doelbewus besig is om die stemme van derduisende werknemers en werkgewers te onderdruk deurdat hulle nie voldoende tyd gegun word om insette oor die regulasies te lewer nie.

“Die regulasies vereis dat poste vir bruin werknemers met 25% en dié vir wit en Indiërwerknemers met 66% verminder moet word. Die regulasies wil mense van hul lewensbestaan ontneem en dit op grond van velkleur. Dit is absurd om te dink dat enige persoon of onderneming dit goedsmoeds sal aanvaar,” voer Wyngaard aan.

“Die regering tree slegs in sy eie belang en volgens sy eie ideologie op. Hy misken die regte van minderhede en weier om ag te slaan op die ekonomiese impak van die regulasies. Deur hierdie petisie wil ons sien dat ʼn debat oor die wet geopen word en ons wil aan daardie debat deelneem. Dit is tyd dat die regering besef dat sy verantwoordelikheid teenoor die ganse Suid-Afrika is en nie net sy kaders of sy potensiële kiesers nie, het Hermann namens Solidariteit gesê.

Hermann sê die “raswetgewing” is ongrondwetlik en teen internasionale standaarde.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top