Spinners
’n Reeks van agt episodes op Showmax
Oudersdomsperk: 16
Geskep deur: Benjamin Hoffman en Joachim Landau
Regie deur: Jaco Bouwer
Vervaardig deur: Showmax en CANAL+
Taal: Afrikaans, Afrikaaps en Engels (met Engelse onderskrifte)
As daar een Suid-Afrikaanse reeks is wat ek vanjaar wil aanbeveel, dan is dit Spinners.
Hoekom?
- Dit vertel die storie van die Kaapse Vlakte soos min ander.
- Die musiek is meesterlik.
- Jy gaan van Suid-Afrika se voorste akteurs op jou skerm sien.
- Jaco Bouwer is die regisseur.
- Dis nie aldag dat jy soveel talent agter ’n motor se stuur sal sien nie.
Dit is moeilik om ’n resensie te skryf oor ’n stuk wat regtig goed is, want ’n mens wil nie soos ’n juigbrigade klink nie. In hierdie geval sal ek maar die pom-poms uithaal en my lyf swaai. Spinners is wragtag goed en die storie oor armoede en bendegeweld word pynlik deeglik uitgebeeld.
Die verhaallyn (sonder om iets te verklap)
Ethan is 17 jaar oud. Sy pa was ’n deeltydse renjaer wat sy gesin moes onderhou deur vir ’n bende dwelms af te lewer. Sy ma is ’n dwelmverslaafde. Wanneer die pa sterf en die ma verdwyn, moet Ethan na sy vyfjarige boetie omsien. Al uitweg is om ook vir die bende werk.
Hy ontmoet per per toeval ’n seun wat belangstel in spinning. Dit wat sy pa hom geleer het, word dan toegepas om hom agter die stuur van ’n baie warm motor te kry.
Soos dit ’n goeie storie betaam, is een van Ethan se grootste teenstanders ook die meisie in wie hy belangstel.
Natuurlik bots die bendebelange met Ethan se spinning. Hulle wil niks weet van hierdie stokperdjie van hom nie, en die bendes is dodelik. Mense se lewens beteken vir hulle niks nie.
Wat is spinning?
Spinning is waarskynlik beter bekend as drifting, of op die Vlakte pop jy ’n wheelie.
Jy druk die omwentelinge van die motor in die rooi, laat los die koppelaar en laat die wiele tol, of dan spin. (In goeie Afrikaans: Ruk’ie revs, drop’ie clutch en gooi.)
In ’n mate verloor jy nou beheer oor die motor, maar dis waar die professionele ouens van die amateurs geskei word. As jy reg spin, kan jy midde-in daardie toestand van skynbare chaos volle beheer oor jou motor hou. Nou raak dit ’n kuns. Om te sien hoe iemand rustig deur ’n dansroetine met ’n motor kan gaan wat buite beheer behoort te wees, is iets ysliks.
Mad Mike Whidditt, ’n Red Bull-drifter wat vir Lamborghini drift, beskryf dit so: “Drifting is like an extreme ballet on four wheels.”[1]
Die teendeel is ook dat ek al ouens gesien het wat baie duur BMW’s lelik seermaak omdat hulle dink hulle kan spin bloot omdat Pappa genoeg geld het om hulle van kragtige speelgoed te voorsien.
Spinning, of dan drifting, is ’n sport, maar dit is ook ’n kuns – jy moet oefen om dit goed te kan doen.
Die amptelike vorm van drifting word deur Red Bull ondersteun. Suid-Afrika is een van die lande waar uitdunne gehou word om aan die wêreldkampioenskappe te gaan deelneem.
Dié Red Bull-kampioenskappe is presies waarmee Spinners werk – die karakters wil deelneem om deur Red Bull raakgesien te word.
Red Bull is dan ook ’n borg van hierdie reeks.
Spinners van die Kaapse Vlakte
Om ’n wheelie te pop is deel van ’n belangrike subkultuur op die Kaapse Vlakte.
In die dae van apartheid is sportbyeenkomste dikwels gebruik as ’n dekmantel vir mense om byeen te kom; mense wat volgens die apartheidswette, of noodtoestande, nie toegelaat is om bymekaar te kom nie.
Drifting was een so ’n vorm van die verset.
Tydens geleenthede waar die petrolkoppe hulle wheelies gepop het, was daar ook, midde-in die lawaai, geleenthede vir mense om te gesels. Meer nog: Hierdie geleenthede het dikwels in die nag plaasgevind. Dit was donker. Daar was ’n helse lawaai en baie mense – die ideale geleentheid, dus, om idees of hardeware te ruil.
Ek en my geliefde het jare lank in Landsdowne gebly, en baie gereeld, hier om en by 9-uur saans, sou daar ’n onaardse lawaai ontstaan. Dan het jy geweet, die brasse pop weer wheelies.
Dit was soos ’n flash mob: Enkele mense het vooraf geweet. Die res het nader gehardloop as die karre se revs rooi geslaan het.
DJ Ready D, wat die klankbaan geskep het vir Spinners, onthou dat sulke geleenthede altyd baie mense gelok het. Dit is ook as ’n uitdaging aan die apartheidspolisie beskou.[2]
Die polisie sou altyd opdaag, maar het goed geweet dat hulle nie kans sou staan om een van die drifters in ’n jaagtog te probeer vang nie. Ook sou die omstanders nie toelaat dat hulle inmeng nie.
’n Puik storie oor die Kaapse Vlakte
In die Afrikaans letterkunde het ons fantastiese werke uit en oor die Kaapse Vlakte,[3] maar dit is raar om ’n werklik goeie stuk op TV, of in ’n film, te sien.
Spinners vertel die storie van bendegeweld, armoede, en mense wat wil uitstyg, wat wil wegkom.
Dit is wonderlik om die omgewing te herken waar hulle skiet. Die reeks is oor verskeie gebiede in die Kaapse Vlakte geskiet; talle daarvan is ware bendegebiede: Bonteheuwel, Athlone, Kewtown, Lavender Hill, Mannenberg ... dis waar die reeks verfilm is. Ek het self al daar video’s geskiet;[4] die kinders is deeglik bewus van die geweld om hulle.
Die reeks skram nie weg van hierdie armoede en strukturele geweld nie. Meer nog, daar is empatie met diegene wat met die gereg moet bots om te oorleef. Die bendes is vir talle jong mense ’n familie wat hulle nooit gehad nie, maar dit is ook ’n harde wêreld waar jou lewe binne oomblikke deur een van jou eie “familielede” beëindig sal word as hulle vermoed jy is nie meer lojaal nie. ’n Koeël deur die kop, sonder enige verhoor, is jou lot as jy nie meer wil saamwerk nie.
Die akteurs
Cantona James speel Ethan, die jong man op wie die verhaal fokus. Hy is ’n uitstekende jong ster, en het baie moeite gedoen om sy omgewing en sy karakter te verstaan. James het in Johannesburg grootgeword, nie in die Kaap nie. Om die rol te kon speel het hy op stel net een keer per dag geëet, want die karakter Ethan sou nie méér gereeld kon eet nie.
Die honger het hom gedryf om Ethan se honger vir kos, én die lewe, uit te beeld.[5]
Chelsea Thomas speel Amber. Amber is een van die beste spinners in die land. Plus daar is elektrisiteit tussen haar en Ethan. Thomas het in Kuilsrivier grootgeword, waar wheelies gereeld gepop is, maar soos sy in ’n onderhoud genoem het, dit was net mans wat daar gespin het. Toe ontmoet Chelsea vir Kayla Olifant op stel. Olifant is een van Suid-Afrika se voorste spinners, soos in regtig, en daarom het sy al die motortruuks uitgehaal wat Amber se karakter voor die kamera moes doen.
Dillon Windvogel, wat geskitter het in Blood and diamonds, is ewe goofy in Spinners, maar dié keer praat hy Kaaps soos enige bra van die Vlakte.
Nou het ons nog nie eens die groot, groot name soos Brendon Daniels, Elton Landrew, Katlego Lebogang, Albert Pretorius, Lee-Ann van Rooi, Marlo Minnaar of Melt Sieberhagen genoem nie.
Vir my was dit heerlik om iemand soos René Cloete raak te sien. Dié meisiekind volg ek al vandat sy as skoolkind aan ATKV-Tienertoneel deelgeneem het. Deesdae is sy ’n gerekende akteur.
In het korte: Spinners het Suid-Afrika se beste op stel byeengebring. Kyk gerus en doen ’n bietjie celebspotting!
Die musiek
Spinners se klankbaan ruk; dit pomp Suid-Afrikaanse hip-hop. DJ Ready D is gevra om die musiek byeen te bring.
Selfs as jy nie in karre belangstel nie, is die klankbaan rede genoeg om aan Showmax R100 per maand te betaal om Spinners te kan sien. Jy hoor Suid-Afrika se heel beste hip-hop-kunstenaars in hierdie reeks.
As jy my in die middel van die nag sou wakker maak en sê: “DJ Ready D”, sou ek waarskynlik begin rap: “Issie Fords en die Nissans en die Toys en die Beetles ...” Hierdie lied (bekend as “FNTB”) is jare gelede deur Brasse Vannie Kaap[6] (BVK) bekend gemaak. “FNTB” bly steeds die nie-amptelike volkslied van alle geleenthede waar petrolkoppe bymekaar kom om hulle wiele te laat spin.
Hierdie remix op YouTube is gaaf, maar die oorspronklike[7] is maar steeds my gunsteling.
Vir diegene wat die hulle hip-hop ken: In episode 5 sê die mannetjies “woef”. Dis ’n duidelike verwysing na “Not my dog”[8] op BVK se eerste plaat.
Enige een wat nie DJ Ready D se aktivisme en sy betrokkenheid by BVK of “FNTB” ken nie, kan gerus hierdie video kyk. Let op hoe Mr Fat dieselfde houding aanneem as mannetjies wat op die karre staan in Spinners.
In het korte: Ready D is een van die groot, groot name in hip-hop. Hy het die ander groot name ingebring om Spinners se klankbaan te komponeer – Onesimus, Early B, YoungstaCPT, DJ Vitoto, Ishmael, Isaac Mutant en Angie Oeh is van die stemme wat jy hoor.
Jinne mense, dis lekker!
Die taalgebruik
Dis heerlik om ’n baie goeie weergawe van Kaapse Afrikaans te hoor.
Op Showmax is daar Engelse onderskrifte – iets wat selfs sommige sprekers van ander soorte Afrikaans mag nodig hê as hulle glad nie daardie variant van Kaaps ken nie.
Daar is ook tronktaal wat by geleentheid gebruik word. My kennis hiervan is beperk, maar dit klink korrek.
’n Internasionale produksie
Spinners is in Suid-Afrika geskiet. Dit is ’n koproduksie van Showmax en die Franse CANAL+.
Hierdie reeks, met Jaco Bouwer as die regisseur, is reeds besig om internasionaal naam te maak. Dit is, onder andere, die eerste Suid-Afrikaanse reeks wat by die Cannes-filmfees vertoon is.
- Foto’s verskaf
Notas
[1] Sien https://www.redbull.com/za-en/what-is-drifting-guide.
[2] Lees meer: https://stories.showmax.com/ng/dj-ready-d-on-curating-the-soundtrack-for-spinners.
[3] Dink maar aan Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat, of Nathan Trantraal se Wit issie ’n colour nie, of Chase Rhys se boeke Kinnes en Misfit.
[4] Vergelyk hierdie verhaal: https://www.litnet.co.za/die-gebruik-van-kinderprenteboeke-as-selfbeeldbouers-in-die-onderrig-van-agtergeblewe-kind.
[5] Lees meer: https://www.gq.co.za/culture/entertainment/everything-you-need-to-know-about-spinners-actor-cantona-james-f3eaa193-0045-4ff4-9537-6ce61750d1f7
[6] Luister ’n bietjie na Brasse Vannie Kaap: https://www.reverbnation.com/brassevanniekaap/song/10730773-fords-nissans-toys-beetles-original
[7] Snit nommer 4; sien die skakel in nota 6.
[8] Snit nommer 1; sien die skakel in nota 6.