Spoegwolf het onlangs die eerste Afrikaanse groep geword wat die nommer 1-posisie beklee het op die Apple Music Album Chart. Wilken Calitz gesels met Danie du Toit.
.................
Op die Helshoogte-pas net buite Stellenbosch is daar ’n plaas genaamd Wechmarshof. Hier is ’n opname-ateljee, SunsetStudio, wat reeds 25 jaar lank die musiek-idees van musikante gestalte gee. Jürgen von Wechmar sit daagliks voor ’n mengbank en swaai ’n towerstaf om die uiteindelike produk van maltrappe in ’n geheel te omskep.
Spoegwolf is een van die suksesverhale van hierdie ateljee. Sedert 2012 timmer en skaaf Danie du Toit (sang, kitaar), Chris von Wielligh (kitaar, klavier), Albert van der Merwe (baskitaar, sang) en Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang) aan wat uiteindelik ’n fenomeen geword het.
Hulle eerste album, Swaartekrag, was reeds ’n aanduiding van wat Spoegwolf sou vermag. Hierdie album, en nog vier ander, is geskep in hierdie einste Wechmarshof-heiligdom waar klankgolwe die hoofbestanddeel van musiek-alchemie is.
Vroeër die jaar maak ek ’n draai by die studio. Soos ek nader stap, weerklink ’n almagtige skokgolf van tromme en ’n rou stem op die kruin van emosie. Die deur van die mastering-ingenieur, Tim Lengfeld, wat ook op die perseel werk, staan op skreef. Hy staan buite en rook ’n sigaret.
“What music is this?” vra ek.
“Spoegwolf’s new stuff.”
“What’s it like?”
“Man, it’s incredible and fucking loud!”
Hy nooi my om voor die meer as R100 000 se luidsprekers te sit en luister. My oë is toe, die ligte gedoof en langs die rusbank reg agter my brand ’n laventelkers. Die klank is ’n grot wat jou insuig waar die skadu’s op die mure jou dophou soos jy verder en verder die onbekende insweef.
Na sowat drie minute sien ek weer die lig, dankbaar en woordverward vir die toer na ’n dimensie van lirieke wat stoei met herinneringe, ongekende swaartekrag en ’n flikkering van hoopvolle ontsnapping van aardse realiteit.
Hulle nuutste album, Koma, het ongekende sukses bereik. Hulle het onlangs die eerste Afrikaanse groep geword wat die nommer 1-posisie beklee het op die Apple Music Album Chart.
Danie is egter kil oor hierdie mylpaal.
“Ons het so lank aan hierdie album gewerk. Ook aan die ander stuff. Hoekom luister mense nou daarna? Dit is weird dat mense ons musiek luister. Dit is eintlik nie geskryf om gehoor te word nie. Ek skryf die lirieke nooit met ’n band in gedagte nie. Dit is vir een persoon geskryf – ’n klaaglied amper.”
Maar sukses kom teen ’n prys. Hulle toerprogram grens aan waansinnigheid en die getalle mense wat toustaan om hulle vertonings by te woon spreek van ’n semihisterie.
“Alles was normaal voor hierdie ding. Nou het ons niks oor van wat ons gehad het nie. As ek oor moes kies … ek sal nie weer die prys betaal nie. Ons het vir ses jaar bykans voltyds ge-gig en vir ses jaar geen inkomste gehad nie en was nooit by die huis nie. Dit het ’n moerse effek op mens. Maar dit het ons (die res van band) baie nader aan mekaar gebring. Ons is gypseys en ons is in ons moer in.”
Spoegwolf het reeds vyf albums op die rakke: Swaartekrag (2012), Elektriese kind (2014), Somer (2015), Die donker toring (2017) en Koma (2019).
Ek gesels ’n ruk gelede met Jürgen von Wechmar oor die pad wat hy met Spoegwolf gestap het sedert hulle eerste album. Hy vertel dat hulle direk van die skool af kom opneem het – skooldasse en al. En waarom dink hy het hulle so ’n unieke merk gemaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf? wou ek weet. “Want hulle voel ’n fok en doen presies wat hulle wil.”
Terwyl baie musiekkunstenaars sing oor die liefde of hulself begeef in subtiele politieke wroeging, posisioneer Spoegwolf hulself in uiters persoonlike uitdrukking van hulle bestaanswêreld. Die lirieke is grotendeels opgedis as ’n proses van sinmaak oor die verlede.
“Al wat ek wil hê is ’n huisie en ’n boom om onder te sit. Die songs gaan daaroor. Ek het geen mandaat met die lirieke nie. Ons almal moet net cool wees met mekaar. Ek is maar net ’n mal outistiese dude wat altyd opfok. Die songs is altyd vir iemand spesifiek en ek neem goed op my foon op. Dit is my manier van ’n love letter.”
Een aspek wat onmiddellik mens se aandag trek in Spoegwolf se musiek is die gebruik van voice notes. Die krakerige stemboodskappe word amper lukraak deel van die persoonlike landskap van hul oeuvre. Hier is een voorbeeld uit Koma (“As ek hier uit kan kom”):
Twee siele ontmoet mekaar
in vierhonderdduisend jaar
is daar niemand anders nie?
ek weet nie
hel, ek sou dankbaar wees
al sien ek jou die eerste keer
in die vuur
Ek glo in jou
en jou goue jare[André voice note]
Hey, man, sorry
ek’t nie geweet jy’t die bákkie nodig nie …
Laat ek gou hier kyk …[Herman voice note]
Daan! Hoop dit gaan goed! Wat maak jy môreaand?
jy’t nie dalk lus om saam met my ’n troue by te woon nie?
Carmen se suster trou
en dit sal lekker wees om jou daar te hê
as jy sou lus wees vir,
ja, bietjie iets anders doen
laat weet my môreaand.
Ek vra vir Danie uit oor die song “Glenda” op die Somer-album. Glenda Kemp het skandalige bekendheid gewerf in 1970’s toe sy poedelnaak met haar luislang, Oupa, gedans het.
“Huisgenoot het my gevra om ’n tune te skryf. Ek het heeltemal vergeet en toe die song in my kop geskryf in die kar op pad na hulle kantore toe. Eintlik het die song niks met haar te doen nie. Dis vir iemand anders geskryf. Die woord ‘onheilig’ in die song was nie vir hulle aanvaarbaar nie en ons moes dit toe vervang met ‘skynheilig’.”
Benewens al die musiekmaak het hy en Moskou ook onlangs ’n restaurant in Stellenbosch oopgemaak. Verskeie familielede het hand bygesit en belê ten einde die reeds gewilde eetplek Drum van stapel te stuur.
“Ek werk saans tot elfuur of twaalfuur en as ek by die huis kom, skryf ek stuff. Hierdie laaste album is in koue en nat weer geskryf. Dit is meer eerlik. Die vorige albums is soms langs die rivier geskryf.”
Ten einde wou ek weet hoe hy in musiek beland het en hoekom hy dit steeds doen.
“My ouers wou gehad het ek moes ’n comic book artist word, maar toe beland ek in musiek. As dit nie vir ouers was nie sou ons dit nooit kon gedoen het nie.”
- Foto’s: © Henry Engelbrecht (met toestemming geplaas)