Staatsgreep in Suid-Afrika: Paranoia of "power to our people"?

  • 0

Skielik is die vraag reg voor ons: Is die vyand die virus van COVID-19 of die virus van mag?

Dis ’n pertinente vraag op Vryheidsdag 27 April (komende Maandag), wat veronderstel is om die koms van vryheid na Suid-Afrika op die eerste verkiesing van die moderne bestel op 27 April 1994 te vier.

Op daardie dag was daar die grootste ontplooiing van troepe sedert die inval in Angola, en hierdie naweek het ons ’n oortreffing van albei begin sien, na die president se bevel dat meer as 73 000 ekstra soldate “employ” is om die virus te help beveg. Suid-Afrika het saam met Indië en Hongarye reeds die mees drakoniese stel regulasies ter wêreld om sy staat van inperking af te dwing, as ’n mens lande soos China en Noord-Korea buite rekening laat waar ’n staat van inperking roetine is. Opstande was onvermydelik, en in ’n land waar daar nog voor die staat van inperking daaglikse gewelddadige betogings teen swak dienslewering was, is ’n ontplooiing van die weermag seker ook onvermydelik.

Of is ons besig om ’n staatsgreep te ondergaan?

Daar is staatsgrepe en staatsgrepe. Die een soort is dié van die piesangrepubliek. ’n Majoor of sersant iewers met die virus van mag in sy kop of sy maag neem ’n land se radio- of TV-stasie oor en sit sy teenstanders teen ’n muur en skiet hulle dood. Of daar is die meer intelligente soort, soos dié van moderne diktators soos Wladimir Poetin of Xi Jinping, wat hul variasies van legitimiteit behou en digters en kunstenaars in die tronk sit, en hul teenstanders hokslaan met die vangtou van korrupsie.

Ons eie regering is veels te slim om net oor te neem. Anders gesien: As daar ’n staatsgreep is of was, is dit reeds aangevoor op 27 April 1994, toe dit bevestig is dat die land se inwoners verkies om regeer te word deur ’n alliansie van skemerkelk-revolusionêre, plaaslike aktiviste en vakbondaristokrate. Met ’n stelsel van indirekte verteenwoordiging in die parlement, wat voorkom in net een ander land, Israel, het die enigste komponent wat demokraties verkose was, die aktiviste van die UDF, gou sy laaste bietjie invloed verloor.

Ons weet nou hierdie alliansie het nie gedien om ’n eenheidsgevoel onder die bevolking te gebruik om die geërfde ongeregtighede van apartheid te herstel nie, maar as die fondament vir ’n etos van straffeloosheid en morele meerderwaardigheid wat teen 2020 tot ’n rassistiese meerderwaardigheid ontwikkel het waarin swart Engelssprekendes ’n swart-Afrikaan-gerigte politieke ekonomie beheers.

Vryheid is ’n werklikheid net vir hierdie nuwe swart en die gevestigde wit elite, die enjin van die ekonomie. Die oorgrote meerderheid van die bevolking se groter bewegingsvryheid is ondergrawe deur hul gebrek aan ekonomiese vryheid, soos uitgedruk in die naam van die enigste suksesvolle wegbrekers van die alliansie, die Economic Freedom Fighters. Nou, met die staat van inperking, is hulle selfs hul bewegingsvryheid ontneem.

Daar is een gebied van oorvleueling tussen die dom staatsgreep en die demokratiese een. Wanneer soldate direk oorneem, is die eerste stap gewoonlik om die media te annekseer en sensuur in te stel op die militêre beginsel van “need to know”: Uiteindelik is dit net die nuwe diktator wat volle kennis het van hoe dinge in die land verloop. Hoewel ons in ons staat van inperking steeds oënskynlike persvryheid het, en die Ramaphosa-beheersentrum skielik normaal met die media skakel, is die beheersentrum weens die opskorting van openbare beweging die enigste instansie wat genoegsame kennis het, ook weens die drastiese agteruitgang van die media self as ’n betroubare bron van inligting.

Dit gaan ons dus ’n ruk vat om vas te stel of daar wel ’n staatsgreep was – wanneer dit heel moontlik te laat gaan wees.

Om desondanks nou al die vraag te beantwoord, sodat ons dit kan afmaak as paranoïese skeptisisme, moet ons weer teruggaan na 27 April 1994 – maar kyk na die gebeure net na die verkiesing, daardie ritueel wat ons telkens moet oortuig dat ons ’n demokrasie het. En spesifiek na die Wetgewende Vergadering wat tussen Mei 1994 en Oktober 1996 gesit het.

Die staatsfilosoof Hannah Arendt en ander het geskryf oor die verskil tussen grondwetgewende mag (constituting power) en grondwetlike mag (constituted power) in analises oor die soewereiniteit van die staat. Dit kom daarop neer dat eersgenoemde mag prysgee wanneer ’n nuwe bestel vir soewereiniteit met sy noodwendige dubbelsinnighede aangeneem word. In Suid-Afrika se geval het die deelnemers aan die Kodesa-onderhandelinge hul kortstondige mag oor almal se toekoms laat vaar vir die sosiale kontrak van die nuwe Grondwet.

Maar revolusionêre denkers soos Antonio Negri het gewys hoe grondwetgewende mag in so ’n situasie kan voortbestaan in ’n soort latente permanente revolusie. In Suid-Afrika se geval het die aanhangers van die liberale elemente van die Grondwet geen verdere grondwetlike ambisies gehad nie en het hulle as magsformasie weggeval. Wat oorgebly het, was natuurlik die drieparty-alliansie van Cosatu, die SAKP en die ANC, met ’n toekomstige nasionale demokratiese revolusie as hul uitgesproke rigsnoer.

Die alliansie het sedert 27 April 1994 op ’n eienaardige nieregerende manier geregeer gepaard met effektief ’n opskorting van die kontesterende partystelsel wat ’n liberale demokrasie onderlê. Buitelandse joernaliste skryf hoe die alliansie dikwels optree asof hy eintlik die opposisie is. Wat in ander lande gewoonlik staatmakers in die establishment is, die myne en boere, en selfs gewone sakemanne, word dikwels reguit die vyand genoem. Jacob Zuma se houding dat die Grondwet ondergeskik is aan die party, heers wyd in die alliansie. Diplomate kry ’n gevaartoelae omdat die regering laks is om sy verantwoordelikheid vir hul veiligheid as soewerein te aanvaar. Die ongelooflike en soms komieklike aard van korrupsie in Suid-Afrika kan gesien word as ’n afwys van die verantwoordelikhede van normale soewereiniteit.

’n Terugverlange na die grondwetgewende mag wat swart mense met 27 April 1994 bekom het, spreek uit die #FeesMustFall-beweging se verwerping van Nelson Mandela en sy reënboognasie en die oproepe om dekolonialisering.

Die noodwendige dubbelsinnighede van enige demokratiese soewereiniteit behels dat die uitvoerende gesag tye sal binnegaan wanneer hy sy eie aard sal moet ophef, soos tydens ’n oorlog wanneer sy voortbestaan op die spel is. Met die ramptoestand van die koronavirus – en daar is ’n heerlike ironie verskuil in die “kroon”-aspek van die mikrobe se naam – het die huidige regering genoeg wetlike speling vir homself opgeëis om troepe op die straat te kan sit, met bykans die volle steun van die politieke en ekonomiese elites. 

Paradoksaal is dit asof die regering vir die eerste keer sy verantwoordelikhede vir wet en orde ernstig opneem. Sommige ministers praat reeds daarvan dat die werk wat in die townships en plakkerskampe gedoen word, nie tydelik is nie. Ramaphosa self het die slagspreuk van sy gewaande teenstanders in die alliansie – “radical economic transformation” – gebruik toe hy sy eerste aankondiging oor die R500 miljard-pakket gedoen het. Een van die eerste dinge wat duidelik gemaak is, is dat net entiteite wat in die oë van die regering swart bemagtiging uitvoer, sy hulp gaan kry om te oorleef.

Die magte self is arrogant, maak mense dood, en vertel aan die parlement hulle rapporteer net aan die hoofbevelvoerder, ten spyte van wat die Grondwet sê. As die generaals nie die Grondwet in ag neem nie, gaan 73 000 plus soldate hulle ook nie aan die Handves vir Regte steur nie. Marianne Merten skryf in die Daily Maverick: “It will be crucial for South Africa who wins in the dynamics bubbling under the COVID-19 public health emergency – the securocrats or the constitutionalists.” Die groter gevaar is dat die sekurokrate en die konstitusionaliste dieselfde mense gaan wees.

Dus: Is daar ’n staatsgreep aan die gang? Darem tog nie, wil ’n mens voel. Daar is soveel om die teendeel te bewys. Maar hoe jy ook al na die saak kyk, feit is dit gaan nie meer oor die koronavirus nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top