Diegene wat betrokke was by staatskaping moet geen genade verwag nie en op die uitkyk wees vir die lang arm van die gereg. Sommige van hulle kan binne die volgende paar maande in die hof verskyn.
Die goeie nuus is Dinsdag deur die direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, bekend gemaak toe sy voor die parlement se komitee oor justisie en korrektiewe dienste verskyn het om te praat oor die vervolgingsgesag se begroting en prestasieplan vir die huidige boekjaar.
Batohi sê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Ondersoekdirektoraat (OD) beoog om binne ses maande nege “hoofsaaklike” korrupsiesake wat met staatskaping verband hou, te vervolg.
“Hoëvlakkorrupsie skeur ons land uitmekaar en ons moet vir die komende maande fokus om daarop te reageer. Die tyd vir praat is verby.”
"High-level corruption is tearing our country apart and we need to focus on responding to it for the coming months. The time for talking is over." #NPAportfoliocommitteebriefing
— NPASouthAfrica (@NPA_Prosecutes) May 10, 2022
Sy sê die NVG kon ’n behoorlike getuienisplan saamstel vir die vervolging van verskeie verdagtes en dit is nou die tyd om teen die skuldiges op te tree.
Sy het gesê die nege sake wat geprioritiseer is, is "hoofsaaklik sake wat tot die hart van staatskaping sal praat". Dit is ook die hooffokus van die NVG vir die komende jaar.
“Die hele NVG weet dat mislukking nie ’n opsie is nie. En na drie jaar van herbou kan ons met vertroue sê dat die tyd vir aksie aangebreek het. Ons is gereed om die oppergesag van die reg in ons land te herbou,” het Batohi gesê.
The entire NPA knows that failure is not an option. And after three years of rebuilding, we can say with confidence that the time for ACTION has arrived. We are ready to rebuild the rule of law in our country #NPAportfoliocommitteebriefing
— NPASouthAfrica (@NPA_Prosecutes) May 10, 2022
Sedert die omvang van staatskaping bekend geword het na die eerste drie dele van die Zondo-verslag, wou Suid-Afrikaners weet wanneer die skuldiges aan die pen gaan ry en waarom die NVG nog nie teen hulle begin optree het nie.
Batohi het parlementlede Dinsdag verseker dat die NVG nie op hulle louere rus nie en dat daar hard agter die skerms gewerk word om seker te maak die skuldiges word aangekeer en voor die hof gebring.
“Ons is vasbeslote om te verseker dat diegene wat by staatskaping betrokke is, tot verantwoording geroep word. Dit sal die publiek se vertroue, wat ook nou gekoppel is aan beleggersvertroue en ekonomiese groei, herbou. Dit sal die armstes en die kwesbaarstes in ons land help en ook die toenemende ongelykheidgaping in Suid-Afrika verlig.
“Ons harde werk werp vrugte af, en ons optrede begin vanself spreek. Die alomteenwoordige krane van korrupsie word toegedraai. Niemand beheer die NVG nie, en die korruptes weet dat die lang arm van geregtigheid besig is om hulle in te haal,” het sy gesê.
Sy het toegegee dat die NVG se reaksie op die bevindinge en aanbevelings van die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping bepalend sal wees vir die NVG en Suid-Afrika.
“Ons het baie van ons pogings daaraan toegewy om ’n soliede NVG te bou wat geskik is vir die doel en wat onvermoeid werk om diegene wat betrokke is by kriminele aktiwiteite, insluitend staatskaping, en oor die algemeen diegene wat die oppergesag van die reg ondermyn, aanspreeklik te hou.”
Batohi sê die Zondo-kommissieverslae het beklemtoon hoeveel skade staatskaping aan die land aangerig het. Sy sê daar is ’n behoefte dat die NVG met dringend moet optree, “nie om op druk te reageer nie, want dit is wanneer ons foute maak, maar om met ’n gevoel van dringendheid op te tree met ’n vlymskerp fokus op bepaalde gevalle”.
Volgens Batohi volg die NVG ook hulle eie prosesse en vestig nie net hulle aandag op diegene wat in Zondo se verslag genoem word nie. Batohi het gesê hulle werk nou saam met die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), beter bekend as die Valke. om die skuldiges vas te trek.