Staatskapers moet verduidelik

  • 0

Die wiele is aan die rol om ondersoek in te stel hoe dit gebeur het dat ’n klein groepie invloedryke en gulsige mense dit kon regkry om die land se staatskoffers rot en kaal te steel en byna die hele staat te kaap.

Die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping wat die week met hulle amptelike werksaamhede begin het, hoop om agter die kap van die byl te kom, maar kenners waarsku dat dit ’n lang en uitgerekte proses gaan wees wat jare kan duur.

Die voorsitter van die kommissie, adjunk-hoofregter Raymond Zondo, het die publiek gevra dat enigeen met inligting steeds die kommissie moet nader sodat die ondersoek behoorlik afgehandel kan word.

Suid-Afrikaners wat gehoop het die sondebokke sal gou aan die pen ry moet egter nie te gou bly raak nie. Die ondersoek sal waarskynlik gekenmerk word deur allerlei bewerings en teen-bewerings en kan nog baie lank duur om af te handel.

Boonop was die publiek se reaksie om voorleggings oor die ondersoek na staatskaping te doen baie teleurstellend. Hy sê as die kommissie sy werk behoorlik wil doen benodig hulle getuienis. Tot dusver het bitter min getuies vorendag gekom en regter Zondo het ook geskimp dat daar ’n gebrek aan kommunikasie van regeringskant af is. Daar is glo ook voete gesleep om toe te sien dat die kommissie die nodige sekuriteitsklarings van die veiligheidsdepartement kry om met hulle werk voort te gaan.

Een van die fluitjieblasers wat gehelp het om die staatskaping te ontbloot, Vytjie Mentor, het op Facebook gesê sy sal eers op 27 Augustus voor die kommissie getuig. Sy het Suid-Afrikaners aangespoor om die ondersoek op TV te volg. Sy sê dit is belangrik dat die publiek die gebeure van die begin af fyn dophou. Mentor sê die breë publiek moet nou hande vat en help om die land op ’n nuwe koers te plaas en nie weer toe te laat dat die land ten gronde gaan terwyl die meeste mense anderpad kyk nie.

Die nuuskanaal eNCA  en ander stasies saai die verrigtinge regstreeks uit op DSTV en dit kan ook regstreeks op die internet gevolg word.

Die vraag op almal se lippe is of oud-president Jacob Zuma gevra gaan word om self voor die kommissie te getuig en wat sy reaksie gaan wees. Regsverteenwoordigers van sowel Zuma as die Guptas was sterk verteenwoordig tydens die eerste dag van die kommissie se verrigtinge in Johannesburg.

Verskeie hoëprofiel persone sal voor die kommissie getuig. Onder diegene wat reeds gevra is om te getuig is onder andere Mcebisi Jonas wat een van diegene was wat die Guptas na bewering probeer omkoop het met allerlei beloftes. Jonas, wat tydens Zuma se tyd adjunk-minister van finansies was, het die land geskok toe hy in  2016 vertel het hoedat die Guptas hom na bewering R600 miljoen aangebied het vir sekere gunste en hom ook beloof het hy sou minister van finansies word as hy saamspeel. Jonas is saam met die destydse minister van finansies, Pravin Gordan deur Zuma in die pad gesteek toe die gekonkel aan die lig gekom het.

Die Guptas, wat midde in die hele ondersoek oor staatskaping staan, het intussen spore gemaak en is voortvlugtig. Hulle word daarvan verdink dat hulle miljoene rande staatsgeld in hulle eie sak gesteek het tydens die Zuma-bewind.

Buro: NB
  • 0
Top