Staatsrede: Ramaphosa sal RNE se weg vir 2025 aanwys

  • 0

Vanaand (Donderdag) se staatsrede deur president Cyril Ramaphosa sal ’n goeie aanduiding wees van waarheen hy met die RNE op pad is.

Dit sal die eerste keer in 30 jaar wees dat die president se staatsrede (Sona) gelewer word deur ’n president wat ook van ander partye se steun afhanklik is om suksesvol te regeer. Anders as in die verlede sal hy ook die insette van sy vennote in die RNE in ag moet neem, en nie slegs dié van sy eie party nie.

Ramaphosa sal die eerste Sona van die nuutverkose sewende demokratiese parlement vanaand om 19:00 by die Kaapstadse stadsaal lewer.

Voormalige Suid-Afrikaanse presidente Kgalema Motlanthe, Thabo Mbeki en Jacob Zuma gaan almal vanjaar se staatsrede bywoon, terwyl Zuma se MK-party aangedui het dat hulle nie die geleentheid sal bywoon nie.

Tydens sy staatsrede het die president ’n geleentheid om met die nasie te praat oor die algemene toestand van Suid-Afrika oor ’n wye spektrum politieke, ekonomiese en maatskaplike aangeleenthede.

Dit sluit in die binnelandse en internasionale kontekste, om rekenskap te gee van die werk van die regering, en om die regering se aksieprogram uiteen te sit. Tradisioneel doen die president belangrike regeringsaankondigings tydens hierdie belangrike gesamentlike sitting van die parlement.

Die DA, wat die tweede grootste party in die RNE is, het Woensdag reeds sy eie wenslys vir vandag se staatsrede bekendgemaak.

Die DA-leier, John Steenhuisen, wil veral hê dat daar gefokus sal word op. ekonomiese herstel en werkskepping. 

Alle oë sal egter vanmiddag op Ramaphosa wees om te sien hoe ernstig hy is om ook ander partye se beleidsraamwerke in ag te neem en te akkommodeer.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het die hoop uitgespreek dat Ramaphosa vorendag sal kom met vernuwende oplossings en oortuigende planne om georganiseerde misdaad en korrupsie onder beheer te kry.

Outa sê in ’n verklaring terwyl onlangse geopolitieke ontwikkelinge in die VSA en die DRK ongetwyfeld baie van Ramaphosa se aandag sal trek, wil Outa hê dat Ramaphosa Sona 2025 moet gebruik om aan die land te vertel hoe sy regering van plan is om die oorlog teen korrupsie te wen.

“Die krisis van korrupsie woed al vir baie jare en word erger. Ten spyte van die plaag van korrupsie en georganiseerde misdaad, wat as ’n krisis erken word, word dit beslis nie ernstig opgeneem of as ’n krisis deur die President hanteer nie.”

Outa sê hulle is moeg vir die lippediens oor planne om die stryd teen korrupsie te prioritiseer en wil duidelike, aksiegeoriënteerde planne met sperdatums hê, tesame met die befondsing wat in die komende begroting van 2025 ingebou word.

“Die President het ’n enorme kabinet, dus wil ons ’n omvattende, realistiese en stewige plan van hierdie groot groep hoor. Ons sal ook baie graag die einde wil sien van sommige van daardie ministers, soos Thembi Simelane, wat nie ’n plek in ’n korrupsievrye regering het nie.”

Outa wys op die talle valse beloftes wat in die verlede gemaak is en sê die publiek is keelvol vir valse beloftes, terwyl swak wetstoepassing steeds die land teister en miljoene mense in armoede vasgevang hou

“By die opening van die sewende parlement in Julie verlede jaar het die President vir ons gesê: “Om misdaad en korrupsie aan te pak moet ons bekwame, gesofistikeerde en onafhanklike wetstoepassingsagentskappe hê wat komplekse en georganiseerde misdaad kan beveg.” Daar was beloftes van moderne tegnologie om te help met misdaadbekamping, ’n datagedrewe benadering en ’n fokus op prioriteitsmisdade, insluitend bendegeweld en die konstruksiemafia, en tog kry ons nie ’n gevoel van betekenisvolle vastrapplek in hierdie verband nie”, sê Outa.

Terwyl die land ongetwyfeld die President se aansprake sal verwelkom op die sukses met die vermindering van beurtkrag, pogings om Transnet uit sy ellende te kry, asook ander suksesse, sal daar fyn geluister word na vanjaar se Sona 2025-toespraak, en ook later vandeesmaand na die Minister van Finansies se begrotingsrede, sê Outa in hulle verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top