#Staatsrede2023: Hoe staan sake in SA?

  • 0

Die 8 Januarie-verklaring van die ANC, wat jaarliks deur die president ter viering van die organisasie se ontstaansdag gelewer word, word as die voorspel tot die staatsrede min of meer ’n maand later beskou.

Naas die gebruiklike interne organisatoriese kwessies wat gewoonlik in die verklaring uiteengesit word, soos om korrupsie en bedrog uit te roei en verkiesingsteun te groei, kom ’n aantal nasionale uitdagings ook ter sprake.

Uit die ANC-leier president Cyril Ramaphosa se toespraak verlede week, opsommenderwys die volgende landskwessies:

  • werkloosheid;
  • wetteloosheid;
  • disfunksionele munisipaliteite en swak dienslewering;
  • rassisme;
  • energiekrisis.

En dit is weens laasgenoemde kwessie dat nie almal saam kan lees, terwyl jy nou hier lees nie. Die “krisis” waarna die president verwys, is die onvoldoende beskikbaarheid van elektrisiteit wat veroorsaak dat sogenaamde “beurtkrag” nou omtrent ’n permanente instelling (nee, ongerief) vir Suid-Afrikaners geword het.

Wat dit ook doen, is om opnuut die erge ekonomiese ongelykheid in die land te beklemtoon: diegene wat oor die finansiële vermoë beskik, kan kragopwekkers koop, sonkrag aanlê, kragspaartoebehore aanskaf. Die meerderheid, beslis die nagenoeg 20 miljoen begunstigdes van maatskaplike toelae, moet in die donker rondtas. Die onlangse bedanking van die uitvoerende hoof André de Ruyter ná maande se volgehoue druk en kritiek en ondermyning deur teenstanders en selfs personeellede, het sake boonop vererger.

Gevra waarom hy nog niks hieroor gesê het nie, het Ramaphosa in ’n ná 8 Januarie-onderhoud aan die TV-aanbieder JJ Tabane gesê hy besef – maar verstaan nie waarom – die verwagting is dat hy op “álles” kommentaar moet lewer nie. Waarom het hy dan ministers in die verskillende portefeuljes aangestel? Dit is hulle wat oor De Ruyter se bedanking moet praat, indien enigiemand. En toe (omdat die Eskom-kwessie van uiterste belang is) hierdie bisarre opmerking, selfs al was dit lighartig bedoel: “As ’n vlieg op jou voorkop sit, sal jy wil hê ek moet iets daaroor ook sê. Maar ek hoef nie oor alles iets te sê nie...”

Dit het wel by hom opgekom om die pos van die bestuurshoof van Eskom, asof dit die rede vir De Ruyter se bedanking was, as ’n “moeilike werk” te bestempel. Nuus pas in, wat ’n aanduiding van ’n kopskuif aan die kant van die president is, is dat Ramaphosa besluit het om nie die Wêreld Ekonomiese Forum se jaarlikse Januarie-beraad in Davos by te woon nie. Hy wil eerder aan die energiekrisis aandag gee – net soos wat hy in September verlede jaar sy reis na Amerika en Engeland kortgeknip het om, déjà vu, aan die energiekrisis aandag te gee. Maar vra jy Suid-Afrikaners of hulle enige verandering sedertdien ervaar het, sal hulle jou met ’n fronsende uitdrukking aanstaar.

Ramaphosa het sedert sy bewindsoorname in 2018 vir hom ’n reputasie opgebou dat hy, na my mening, in elk geval eintlik nooit iets sê oor aangeleenthede waaroor sy landsburgers sy mening (misnoeë, meegevoel) sal wil hoor nie. Soos hy ook nog nie enige aanduiding gegee het (wou gee) oor wanneer hy aanpassings aan sy kabinet gaan maak nie. Dit word genoodsaak deur onder meer die verkiesing van die minister van vervoer Fikile Mbalula tot sekretaris-generaal van die ANC by die Desember-konferensie. Omdat die SG-pos ’n permanente, betaalde rol in die organisasie is, moet Mbalula sy ministeriële take nou agterlaat. Maar die verwagting is dat Ramaphosa waarskynlik ook ontslae sal raak van oneffektiewe ministers en selfs sy (na my mening, meestal afwesige) adjunk, David Mabuza.

So wanneer dan? vra die media hom die ander dag by die ANC se presidensiële gholfdag in Mangaung in die Vrystaat, waar die party se verjaardagbyeenkoms gehou is. Waarop hy dié (teregwysende?) antwoord gee: “Dit is duidelik die ding wat vooropgestel is in julle gedagtes. Raak tog net ontslae daarvan en wag vir die oomblik wanneer die president sy aandag daaraan kon gee en hou op vra wanneer dit gaan gebeur. Ontspan. Drink ’n koppie koffie, sit agteroor en hou die ruimte dop.”

Behalwe dat dit nie die media se rol is om te ontspan, ’n koppie koffie te geniet, agteroor te sit en die ruimte dop te hou totdat ’n president, wat grondwetlik verantwoordbaar teenoor sy land se mense is, gereed is om antwoorde op moeilike vrae te gee of om moeilike besluite te neem nie.

Die staatsrede is dus ’n geleentheid waartydens gehoop word dat die president ’n besliste reaksie moet gee – en ’n aksieplan moet deel – oor hoe hy en sy kabinet hoop om in die nuwe jaar die land se uitdagings die hoof te bied. Toegegee, dit is geen geringe taak nie, nie met die verskriklike agteruitgang en totale ineenstorting van infrastruktuur weens gebrekkige instandhouding nie. Maar dit is wat die ANC die kiesers sedert 1994 belowe het: dat hulle sal verseker dat ’n beter toekoms gebore word. Helaas. ’n Lang lys beloftes is waarskynlik die meeste waarop Suid-Afrikaners kan hoop wanneer die 2023-staatsrede gelewer word.

Dit sal ook stewig gelaai wees met herinneringe van die vryheidstryd en waarom die land se mense die beweging ewig dankbaar moet wees vir die beëindiging van apartheid en die koms van die demokrasie. Jy het dit gehoor in die tema van die 8 Januarie-verklaring: dat 2023 die jaar sal wees van “decisive action to advance people’s interests”.

Moenie dit glo nie; dit is ’n klug, ’n voorloper vir die volgende jaar se algemene verkiesing, waarmee die eerste nie-rassige demokratiese verkiesing herdenk sal word en daarmee saam drie dekades van die demokrasie in Suid-Afrika. Dit sal behoorlik deur die ANC uitgebuit word, toegeëien word, asof die party (hoofsaaklik vanuit ballingskap oorsee) alleen die stryd gestry het, terwyl baie van die eer ook plaaslike bewegings, soos die ontbinde United Democratic Front (UDF) en sy veelrassige leierskap toekom. Nou kan die ANC nie eens vir een wit, Indiër of bruin lid ’n plek in sy top-7-leierskap vind nie, en slegs maar vir drie “anderskleuriges” in die swart-oorheersde nasionale uitvoerende komitee. Sal Ramaphosa in die hersamestelling van sy kabinet dié prentjie verander deur meer ministers uit die sogenaamde “minderheidsgroepe” aan te stel? Persoonlik twyfel ek, maar ek hoop tog heimlik dat hy dit sal doen.

Die lys herdenkings wat Ramaphosa in sy ANC-verklaring ingesluit het, sal ook plek vind in sy staatsrede. Hierdeur word vir hom ’n platform geskep om ’n rede te lewer wat ons met die aanvang van sy tweede termyn as ANC-leier kan laat glo in dit wat hy ons aan die begin van sy eerste belowe het: dat hy in die voetspore wil volg van groot leiers, soos Nelson Mandela, wie se dood tien jaar gelede ook herdenk sal word.

Naas dié herdenking sal ’n aantal geleenthede gedenk word wat met die aanvaarding van handveste van regte te make het. Om reg hieraan te laat geskied, moet die staatsrede soos ’n nuwe handves lees, waardeur die staat se mislukkings van die afgelope dertig jaar omgekeer kan word. Indien nie, sal dit die regerende party se kanse op verkiesingsukses in die volgende jaar verskraal.

Wie van ons wat nou daagliks met uiterste werkloosheid, wetteloosheid, disfunksionele munisipaliteite en swak dienslewering, rassisme en ’n energiekrisis moet saamlewe, sal daaroor huil? Gee my krag.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top