Die openbare stryery oor posisies in die RNE kan die vorming van ’n stabiele en blywende RNE wat die land broodnodig het, in gevaar stel.
So sê die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) in ’n verklaring terwyl die onderhandelings tussen die onderskeie partye in die veelpartyregering om ’n kabinet saam te stel Dinsdag voortgeduur het.
Outa sê hulle is bekommerd oor die openbare getwis. Hulle sê dit is noodsaaklik dat die behoeftes, eise en begeertes van die 10 partye binne die nuutgestigte RNE agter geslote deure onderhandel word. Indien nodig, moet hierdie besprekings deur onafhanklike spesialiste gefasiliteer word om ’n konstruktiewe oplossing vir die omstrede kwessies te verseker.
READ: #OUTA calls for maturity, cooperation and tolerance in reaching an agreement that will prioritise the best interests of our country. Our collective future is at stake.
A stable GNU in the national interest is the priority! https://t.co/VoS0sEMrwG— OUTA (@OUTASA) June 25, 2024
Volgens Outa pleit hulle nie vir ’n buitensporig uitgerekte proses nie. As meer tyd egter nodig is om ’n vriendelike en werkbare ooreenkoms te bereik, sal hulle verkies om ’n bykomende week of twee te sien, eerder as ’n oorhaastige proses wat tot voortdurende konflikte of ineenstorting van die koalisie kan lei.
“Die vorming van ’n stabiele en ooreengekome RNE is deurslaggewend vir die bou van ’n stewige grondslag vir Suid-Afrika se groei en welvaart,” lui die verklaring.
“Ons het kalm en saamgestelde leierskap nodig om betrokke te raak by ’n samewerkende en verdraagsaamheidsoekende omgewing wat ’n redelike konsensus sal bereik.”
Hulle wys daarop dat in ander lande, soos België, Spanje, Nederland, Duitsland en Irak, dit baie maande geneem het om RNE’s te vorm ná nasionale verkiesings wat nie volstrekte wenners opgelewer het nie.
“As ons nog ’n paar weke nodig het om ons politiekepartyverskille op te los om ’n robuuste ooreenkoms oor die samestelling van ons kabinet te beding, dan is dit so. Die lewering van dienste deur staatsdepartemente sal deur die huidige administrateurs voortgaan.”
Hulle vra vir volwassenheid, samewerking en verdraagsaamheid om ’n ooreenkoms te bereik wat die beste belange van die land sal prioritiseer en sê die land se kollektiewe toekoms is op die spel.
In ’n uitgelekte brief aan die DA-leier, John Steenhuisen, gedateer 22 Junie 2024, het Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, glo voorgestel dat die DA ses kabinetsministerposte en sewe adjunkministersposte in die RNE inneem.
MAJOR NEWS:
Contrary to what was reported , The ANC did officially offer the DA a total of SIX MINISTERS and SEVEN DEPUTY MINISTERS. It was never 3 as reported by some media. This was in a letter sent to DA leader John Steenhuisen last Saturday which perhaps led to Helen… pic.twitter.com/ZHoCT4zGlG
— Goolam (@goolammv) June 25, 2024
Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, het volgens verskeie mediaberigte die afgelope Sondag haar party se voorwaardes om by die veelpartyregering aan te sluit opnuut uiteengesit in ’n brief aan die ANC.
Daarin beklemtoon Zille glo dat die DA se besluit om by die RNE aan te sluit afhang van sy vermoë om wesenlike verandering te bewerkstellig en nie bloot magsposisies te beklee nie.
Intussen is die MKP se 58 parlementslede wat die inhuldigseremonie van parlementslede op 14 Junie geboikot het, gister (Dinsdag) ook ingesweer as lede van die parlement. Die Grondwet bepaal dat voordat lede van die Nasionale Vergadering hul funksies in die parlement kan verrig, hulle getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet moet sweer of bevestig.
Acting Judge President Goliath of the Western Cape Division of the High Court outlining the process for the swearing in of Members of Parliament during a ceremony to take the Oath of Office for the 58 Members of the MK Party who were not available to be sworn in during the… pic.twitter.com/APjmLjD8Iv
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) June 25, 2024
Onder die nuwe parlementslede van die MKP was verskeie omstrede figure, onder andere die voormalige EFF-LP en Black First Land First-leier Andile Mngxitama, die voormalige minister van finansies in Zuma se kabinet, Des van Rooyen, wat in kamoefleerdrag geklee was, Zuma se dogter Duduzile, en voormalige regter John Hlophe wat vroeër vanjaar deur die parlement as regter ontslaan is.
Hlophe het gesê die Grondwet is die hoogste wet van die land, en hulle is van plan om binne die wet op te tree en binne die wet vir hul saak te veg.
Hy het gesê die reg moet “verafrikaniseer” word, en een van daardie Afrika-wette is dat grondbesit in Afrika nooit in privaatbesit kan wees nie en dat dit aan die nasie behoort. “Dit vorm nie deel van privaatbesit nie,” het Hlope gesê.
Judge President Hlope, the leader of the MKP in the South African Parliament, highlighted his party's position on land. pic.twitter.com/iacQOr4OPs
— BaShona. (@BaShonaBaShona) June 25, 2024
“Ons is nie rampokkers nie.” Hy het gesê die feit dat hulle aan die Nasionale Vergadering deelneem, beteken nie dat hulle hul siening oor beweerde verkiesingsbedrog laat vaar het nie. Hul hofsaak duur voort.