Stakers wil Suid-Afrikaanse banke Vrydag tot stilstand dwing

  • 0

Suid-Afrikaners word aangeraai om hulle banksake dié week voor Vrydag af te handel met die oog op die bankwerkersvakbond Sasbo (South African Society of Bank Officials) se beoogde staking.

Die vakbond dreig om die land se bankwese Vrydag tot stilstand te dwing. Duisende van die vakbond se lede gaan Vrydag van die werk wegbly as daar nie aan hulle eise voldoen word nie.

Foto’s: Pixabay.com

Volgens Sasbo se hoofsekretaris, Joe Kokela, kan tot soveel as 40 000 van sy lede Vrydag aan die beplande staking deelneem.

Banke het hulle kliënte aangeraai om van hulle rekenaartoepassings en aanlyndienste gebruik te maak. Die vakbond Sasbo sê egter hulle sal alle banksisteme ontwrig as daar gestaak word en dit sluit ook outomatiese tellermasjiene en kaarttransaksies in.

Gauteng sal die ergste deur die staking geraak word aangesien bykans die helfte van die stakende werkers in Gauteng is. Ander provinsies soos die Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan ook erg ontwrig word deur Vrydag se staking.

Die werkers is ontevrede met die manier waarop banke herstruktureer. Dit sluit die aantal takke van banke in wat gesluit word en die werkverlies van mense as gevolg daarvan.

Sasbo het Maandag gesê Suid-Afrikaners moet hulle gereed maak vir ’n algehele stilstand van die land se finansiële dienstesektor wanneer daar gestaak word.

Volgens Kokela dring die werkers aan dat daar ’n moratorium geplaas word op enige werkverliese in die banksektor.

.............

“Kokela sê hulle staak weens ontevredenheid oor die digitalisering van bankdienste en afleggings in die bedryf. Kitsbanke sal onder meer geraak word. Kokela sê hulle sal ook toesien dat internetbankdienste nie beskikbaar is nie.”

.............

Hy sê daar moet ook gekyk word na die salarisse van uitvoerende amptenare in die banksektor aangesien sommige senior persone in die sektor buitensporige salarisse ontvang wat nie vergelykbaar is met die salarisse van gewone werkers nie.

Kokela sê die werkers wil ook duidelikheid hê hoe die bankinstellings beoog om die vierde industriële revolusie tegemoet te gaan.

Die werkers wil weet hoe dit hulle gaan raak en of daar enige planne in plek is om nuwe vaardighede wat benodig sal word, aan te leer.

Die plan is glo dat die stakende werkers in Gauteng van Braamfontein na die middestad marsjeer. Netwerk24 het Maandag berig daar is sprake van ’n interdik om die staking te probeer keer.

Kokela sê sy lede in die bankbedryf het ’n permit om Vrydag te staak. Hy sê vakbondlede se werk sal nie in die gedrang kom nie omdat dit ’n beskermde staking is. Hy sê die land se vier groot banke sal deur die staking geraak word.

Kokela sê hulle staak weens ontevredenheid oor die digitalisering van bankdienste en afleggings in die bedryf. Kitsbanke sal onder meer geraak word. Kokela sê hulle sal ook toesien dat internetbankdienste nie beskikbaar is nie.

Intussen wag die publiek in spanning om te hoor watter stappe die onderskeie banke in gedagte het om vir die staking voor te berei.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het reeds gewaarsku dat die staking ’n uitwerking kan hê op die betalings aan en van die inkomstediens. Belastingbetalers is aangemoedig om alle betalings aan SAID te doen.

Absa, Standard Bank en die Nedbank-groep het almal die afgelope maande met personeel onderhandel oor moontlike afleggings.

Absa is besig met die herstrukturering van sy besigheidseenhede, Standard Bank is in die proses om 91 takke te sluit, terwyl Nedbank glo met 1 500 werkers in gesprek is oor poste wat afgeskaf mag word en die herontplooïng van personeel.

  • Besonderhede van die staking verskyn hier op Sasbo se webwerf.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top