Die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, wat die afgelope maande soos mis voor die son verdwyn het nadat die Steinhoff-skandaal aan die lig gekom het, moes die afgelope week sy stilte verbreek toe hy voor ’n parlementêre komitee verskyn het.
Die man wat tot dusver geweier het om enige onderhoud toe te staan, was die ene onskuld toe hy voor die parlementêre komitee getuig het.
Steinhoff se aandele het laat verlede jaar ineengetuimel, wat tot verliese van sowat R18 miljard aan onder meer pensioenfondse van staatsamptenare gelei het.
Jooste het, net soos sy voormalige kollegas vroeër, enige skuld ontken aan die maatskappy se ineenstorting.
Tydens sy eerste openbare verskyning sedert sy bedanking as Steinhoff se baas in Desember kon daar Woensdag geen botter in Jooste se mond smelt nie. Volgens hom was hy nie bewus van enige boekhou-onreëlmatighede soos waarna daar verwys is nie.
Jooste het aan die parlement gesê hy het wel baie foute gemaak tydens sy 29 jaar by die maatskappy, waarvan die grootste was dat hy ’n vennootskap met Seifert aangegaan het. Hy sê hy het Seifert te veel vertrou en Steinhoff het te vinnig na te veel lande uitgebrei. Volgens Jooste was dit die toevoeging van “’n strategiese vennoot” wat tot die ineenstorting van die maatskappy se aandele gelei het.
Op die vraag oor wie die besluit oor die toevoeging van ’n strategiese vennoot geneem het, het Jooste gesê dit sou uiteindelik deur die direksie goedgekeur moes gewees het. Hy sê die direksie sou ’n dokument ontvang het met ’n ontleding van die finansiële implikasies en die mening van eksterne raadgewers oor die potensiële vennoot sowel as ’n driejaarprojeksie oor wat van die betrokke maatskappy verwag sou word.
Hy is verteenwoordig deur adv Francois van Zyl. Dit is dieselfde advokaat wat destyds ook vir Shrien Dewani verteenwoordig het toe hy daarvan aangekla is dat hy sy vrou tydens hul wittebrood laat vermoor het. Dewani is later onskuldig bevind.
Parlementslede van regoor die politieke spektrum het onomwonde verklaar hulle glo nie Jooste se storie nie. Die parlementslede se skeptisisme het hom egter nie van stryk gebring nie. Hy sê hy het in Desember sy hele loopbaan by Steinhoff verloor. Die meeste mense wat vir Steinhoff gewerk het, sou volgens Jooste hulle lewe vir die maatskappy gee en hy blameer niemand by Steinhoff vir wat gebeur het nie.
Jooste het toegegee dat die Steinhoff-skandaal die grootste ineenstorting van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy ooit is, maar sê dit het gebeur omdat die geouditeerde jaarstate nie uitgereik is nie. Hy sê die oudit van die state was nie sy verantwoordelikheid nie.
Hy het die skuld op Seifert gepak.
Die voorsitter van die parlementêre komitee, Yunus Carrim, wou weet waarom ons nou sit met die grootste maatskappyskandaal ooit as dinge so goed gegaan het soos wat Jooste beweer. Hy het Jooste daarvan beskuldig dat hy homself soos Moeder Theresa wil laat lyk.
Die skrywer van die boek Steinhoff en die Stellenbosse boys, James-Brent Styan, het ook die week se verrigtinge bygewoon toe Jooste getuig het.
In sy boek ontleed hy die vraag: Hoe het Steinhoff gebeur?
Op Dinsdag 5 Desember 2017 was die Steinhoff-groep nog R193 miljard werd. Skaars 24 uur later is meer as R117 miljard daarvan uitgewis. Die Steinhoff-ryk, wat oor 50 jaar tot ’n internasionale kolos opgebou is, het oornag verkrummel.
Styan skryf in sy boek breedvoerig oor Markus Jooste, Steinhoff se flambojante grootbaas, wat bedank het en van geraamtes wat sedertdien die een ná die ander uit die kas val: bewerings van bedrog, spoghuise vir ’n blonde minnares en ’n lewe van oordaad.
Lees ook
Buro: NB