In Suid-Afrika mor baie leerders oor die boeke op voorgeskrewe lyste wat hulle moet lees. Hoe dink Nederlandse skole oor die boeke wat hul leerders in die klas lees? Izak de Vries het dié vraag aan Solet Scheeres gevra. Sy is ’n dosent in Engels by d’Oultremontcollege in Drunen, Nederland.

Tekening: Cdd20 van Pixabay
Ter inleiding: Wat maak ’n Afrikaanse skrywer in Nederland en hoe lank is jy al daar?
Ons woon al sinds 2004 in Nederland en ons het hier beland omdat my man, eerste-geslag-Nederlander in Suid-Afrika, sy “roots” kom soek het. Ons het toe besluit om te wag tot ons oudste dogter klaar was met skool voor ons sou terug gaan huis toe. Maar toe kry sy na skool ’n plek by die NHTV in Breda om facility management te studeer, en toe bly ons nog ’n bietjie. Daarna was dit ons middelkind wat in Wageningen iets met volhoubaarheid gaan studeer het. Toe ons weer ons oë uitvee is ons jongste telg ingeskryf by die UvA vir psychobiologie en nou vermoed ek dat ons maar sal bly tot die eerste kleinkinders kom …
Ek wil graag meer weet oor lesers as sodanig in Nederland. Lees mense regtig meer daar as in Suid-Afrika? (Ons dink so.) En lees Nederlandse jongmense meer as hulle Suid-Afrikaanse eweknieë?
Ek dink dat middeljarige en gepensioneerde Nederlanders enorm veel lees – veel meer as die gemiddelde Suid-Afrikaner (en ek bedoel nou nie net die tannies wat by die leesfeeste uithang nie) in dieselfde leeftydsgroep. Ek weet nie regtig hoekom nie, maar ek vermoed dat lees vroeër gesien is as ’n wonderlike manier om jou vrye tyd te geniet.
........
‟Maar hoe jonger die ouderdom, hoe moeisamer gaan dit met die leesstatistiek.”
........
Maar hoe jonger die ouderdom, hoe moeisamer gaan dit met die leesstatistiek. Vorige jaar het die PISA-ondersoek ’n droewige prentjie van Nederland se tieners geskets.
So ja, ons jeug se begrypend lees en leesplesier het dramaties agteruitgegaan en daar is hope inisiatiewe aan die gang om iets daaraan te probeer doen. Maar maklik gaan die pad sekerlik nie wees nie.
Interessante webtuistes om na te kyk:
........
‟Ek merk wel op by my kinders op universiteit dat boeke lees besig is om ’n hipster-dingetjie te word.”
........
Ek merk wel op by my kinders op universiteit dat boeke lees besig is om ’n hipster-dingetjie te word. Beide my kinders behoort aan leesklubs wat nogal interessante goed lees. Die klub van my dogter het nou net De eeuw van mijn vader van Geert Mak kafgedraf en my seun se groep het A brave new world van Aldous Huxley gelees. En kennelik het jy nog nie in die groepe gearriveer as jy nie Homo Deus van Harari en De meeste mensen deugden van Rutger Bregman gelees het nie.
Ek kry die gevoel die Nederlandse leerders lees veel “hoër” letterkunde in die skole as wat die geval is in Suid-Afrika. Is ek verkeerd?
Dit is ’n komplekse vraag! Nederlandse hoërskole word verdeel in mavo (vier jaar skool – vervolgopleiding mbo), havo (vyf jaar skool – vervolgopleiding hbo) en vwo (ses jaar skool – vervolgopleiding universiteit).
Daar word van leerlinge in havo en vwo verwag om in die bovenbou (laaste twee jaar) die Nederlandse “kanon” te lees. Hoewel leerlinge self mag kies wat hulle lees, word jeugliteratuur nié ingesluit nie. Daar is skole waar mavo-leerlinge wel jeugliteratuur mag lees.
Hier kan jy ’n indruk kry van wat gelees word.
Dieselfde leerlinge moet natuurlik ook boeke vir Engels, Frans of Duits lees. By ons in die Engelse klas mag almal ook YA-boeke lees. En ek weet by Duits is daar ’n paar ou staatmakers wat altyd weer hulle opwagting maak. Ook by ons mag leerlinge self kies wat hulle lees.
In ’n onlangse artikel op LitNet Akademies is die morele plig van die onderwyser uitgelig in die mediasie van omstrede kwessies wat in die klaskamer bespreek word. Van jou verstaan ek dat “omstrede” in Nederland dalk iets anders sou beteken as in Suid-Afrika. Sou jy wou uitbrei?
Dit is weer eens ’n redelik komplekse antwoord. Die Nederlandse regering finansier “bijzonder scholen” en “openbare scholen”. Onder “besondere” skole kry jy onder andere skole vanuit ’n spesifieke religieuse oortuiging (Hindoe; Islamitisch; Protestants-christelijk; Reformatorisch; Rooms-katholiek).
“Openbare” skole het geen spesifieke religieuse oortuiging nie. Skole uit die Reformatorische hoek het beslis veel meer taboes as openbare skole. Dieselfde geld sekere Muslimskole.
Ek weet van Reformatorische skole waar die vroulike onderwyseresse nie eens langbroeke mag dra nie, en daar sal die evolusieteorie beslis ook nie ’n plekkie in die klas kry nie! En ek vermoed die booshede van die duiwel sal ook in so ’n skool uitgebreid behandel word.
Aan die ander kant is daar ook meer gematigde besondere skole: In Protestantse skole word die dag dikwels nog met ’n stukkie uit die Bybel begin, maar dit is ook so ongeveer waar dit eindig (ek veralgemeen nou kwaai). Ek self hou skool by ’n Katolieke skool en buiten ’n “Kerstviering” het ek nog niks van geloof gemerk nie. Die duiwel het die gebou al jare gelede verlaat.
........
‟Die duiwel het die gebou al jare gelede verlaat.”
........
Maar oor die algemeen is seks nie ’n taboe by skole nie. Seksvoorligting is helder en duidelik en Nederlanders het (soos die meeste Europeane) nie ’n probleem met naaktheid en seks nie. Ook daarom is ons tienerswangerskappe besonder laag. In 2015 het daar 6 000 meisies onder 20 swanger geraak. In ’n bevolking van byna 18 miljoen is dit min. Natuurlik is jou vrye keuse om ’n aborsie te kry hier vanselfsprekend. Kinders wat seksueel aktief is, is nie regtig iets waarmee die skool hom bemoei nie, tensy dit natuurlik met ’n onderwyser is – dan word dit in ’n baie ernstige lig gesien. Die biologie-onnie en skoolberader is gelukkig altyd bereid om moeilike vrae te beantwoord.
Ek is op die oomblik besig met ’n lesreeks oor LGBTQ+ en ons duik redelik diep in die materiaal in. Ons is nou net klaar met rassisme en dit was interessant om met die kinders te praat oor Zwarte Piet wat nou al jare lank ’n doring in menige vlees in Nederland is. Die onlangse Black Lives Matter het die kinders se verbeelding ook aangegryp, en ek kry die idee dat hulle tog meer sensitief word oor Nederland se slaweverlede en rassisme in Nederland in die algemeen.
Ek het nou hard en lank gedink wat nie aanvaarbaar is om oor te praat in die klas nie (hoërskool) en al waaraan ek kan dink is dat jy nie Mein Kampf mag doen nie, want dis ’n verbode boek. Ek kan my voorstel dat jy probleme/diskussies mag kry as jy jou ten gunste van pedofilie, die doodstraf, besit van wapens, kinderbruide en vrouebesnydenis uitspreek.
........
‟Een van ons grootste take op die oomblik is om leerlinge te leer om te onderskei tussen regte en vals nuus (nep nieuws).”
........
Een van ons grootste take op die oomblik is om leerlinge te leer om te onderskei tussen regte en vals nuus (nep nieuws). Die onwaarhede wat op sosiale platforms as die waarheid verkondig word, word as een van die grootste gevare vir die Nederlandse demokrasie gesien.
In die LitNet Akademies-artikel word daar hierdie mooi stelling gemaak: “Die taalonderwyser, as medieerder, kan leerders in ’n geborge klaskameromgewing aan die hand van die voorgestelde riglyne (...) tot ontwikkeling as kritiese en probleemoplossende lesers begelei, waarop selfgerigte vryetydlees moontlik kan volg.” Hoe ervaar jy dit as opvoeder?
Hier word onderskei tussen “begrijpend lezen” en “vrij lezen”. Begrypend lees beteken dat jy kinders leer om informatiewe tekste krities te lees en om vrae te beantwoord. Vrylees het meer te make met fiktiewe tekste en storieboeke. Vrylees word nie so gereeld soos begrypend lees getoets nie. Die toetse bestaan dan ook uit oop vrae eerder as die meerkeusevrae van begrijpend lezen. Soms sal ons ’n uittreksel uit ’n boek of ’n kortverhaal aan ’n bepaalde tema koppel, maar oor die algemeen mag leerlinge hulle eie boeke kies en voorlê aan jou vir jou toestemming. Dit is dan ook hoe ons glo ons vrylees bevorder – in die Engelse afdeling “behandel” ons hoogstens een storieboek ’n jaar vir ’n tyd lank (meestal met ’n projekboek vol aktiwiteite).
........
‟Dit impliseer dat jy altyd ’n storieboek in jou tas moet hê, wat dit duidelik maak dat vrylees net so belangrik soos wiskunde is.”
........
Ons resep:
- Maak seker dat daar ’n reuseverskeidenheid boeke is om uit te kies.
- Leerlinge moet self kies wat hulle wil lees.
- Die keuse moet gegrond wees op plesier.
- Verpligte 10 minute lees aan die begin van elke les (tale).
- Dit impliseer dat jy altyd ’n storieboek in jou tas moet hê, wat dit duidelik maak dat vrylees net so belangrik soos wiskunde is.
Jy is ook ’n skrywer, en heel suksesvol met iets soos die Glamdivas wat pas weer in ’n heerlike, dik omnibus verskyn het. Dra jy ’n ander hoed wanneer jy vir Afrikaanse leerders skryf, in terme van “moraliteit”, as wanneer jy in ’n Nederlandse klaskamer staan?
Vroeër wel – ek neem egter aan dat uitgewers en die moeders van lesers in Suid-Afrika nou al meer oopkop is as 15, 20 jaar gelede? Maar dit maak nie regtig saak wat my moraliteit is nie – dit gaan oor die moraliteit van die uitgewers wat uiteindelik bepaal wat in jou boek verskyn en wat nie.
Ek sal egter nie sommer in ’n Afrikaanse storieboek vir kinders die bestaan van God in twyfel trek of kritiek op tekste in die Bybel gee nie, terwyl dit wel onderwerpe is wat soms in my klas ter sprake kom as ons literatuur en gedigte bespreek en die konteks vra vir kennis van die Bybel en/of geloof.
Die meeste kinders in ons skool het geen kennis van die Bybel nie en begryp nie waarom daar mense is wat glo in ’n god nie.
........
‟Ek sleep sakke van my eie boeke deur die skool.”
........
Wat is jou tegniek om vryetydlees aan te moedig?
As jy nie self lees nie, kan jy nie ander probeer aanmoedig nie.
Voorlees aan kinders van hulle geboorte af is regtig belangrik.
As ’n kind belangstel in iets, koop boeke daaroor.
As ’n kind baie sukkel om te lees, stel hom bekend aan luisterboeke.
Sorg vir ’n oorvloed aan boeke. Ek sleep sakke van my eie boeke deur die skool om uit te deel indien ’n kind nie meer by die bib ’n boek mag leen nie agv ’n agterstallige betaling.
Gaan sit iewers in ’n stil plek, sit jou selfoon langs jou neer, lees ’n boek vir ’n uur lank sonder om een maal op jou foon te kyk. As jy dit nie self regkry nie, mag jy nie met ’n kind raas wat dit ook nie kan regkry nie!
Lees ook:
Gesprek: Omstrede kwessies in Afrikaanse en Nederlandse jeugliteratuur