Meer as 100 predikante en akademici in die NG Kerk het hulle stem dik gemaak uit protes teen diegene in die kerk, onder wie een van die kerk se leiersfigure, wat verhoudings tussen mense van dieselfde geslag by pedofilie en bestialiteit betrek.
Die jongste twis in die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings volg na ʼn uitlating van ʼn senior leier in die kerk, Chris van Wyk. Hy voer aan dat die NG Kerk ook ruimte sal moet maak vir pedofiele as hulle gayverhoudings goedkeur indien die kerk konsekwent wil wees. Volgens hom geld dieselfde beginsel vir bestialiteit.
Van Wyk se uitlating het ʼn storm in die kerk ontketen en hy is intussen by die Menseregtekommissie (MRK) aangekla.
Verskeie lidmate en predikante het hulle verontwaardiging oor Van Wyk se standpunt in die pers en op sosiale media te kenne gegee. Hulle dring daarop aan dat daar teen Van Wyk opgetree moet word.
"Ons teologiese integriteit verg dat ons dit duidelik stel dat haatspraak onregverdigbaar is, en selfs tot geregtelike ondersoeke behoort te lei. Diesulkes wat hulle hieraan skuldig maak, praat nie namens ons nie en is strydig met die waardes en strewe van die Seisoen van Menswaardigheid,” sê die beswaarde NG Kerk-teoloë in hulle verklaring.
Volgens hulle het die gesprek in die NG Kerk oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag by ʼn kruispad gekom en daarom het hulle die verklaring uitgereik.
“Dis hartverwarmend om te sien daar is wél teoloë binne die NG Kerk wat nie Chris van Wyk se uitlatings goedkeur, napraat of verdedig nie,” het die rubriekskrywer Gielie Hoffmann op Facebook geskryf.
Hoffmann sê al wat nou oorbly vir die NG Kerk se leierskap is om standpunt in te neem en nie ’n vakuum te skep vir Van Wyk en soortgelykes om aan te hou met hul roekelose gedrag wat die kerk reeds baie skade berokken het nie. “Dis nou die tyd dat die leiers die werk doen wat leiers doen: om te lei.”
Die NG Kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, en die kerk se algemene sekretaris, Gustav Claassen, het ook in ʼn verklaring gemaan teen die stereotipering van die kerk se gay lidmate. Een van die kerk se teoloë, Nadia Marais van Stellenbosch, wou egter op Kerkbode se Facebookblad weet waarom die name van die NG Kerk se assessor, Dirkie van der Spuy, en die aktuarius, Dewyk Ungerer, by die verklaring ontbreek.
Intussen het die Sielkundigevereniging van Suid-Afrika in ’n sterkbewoorde verklaring Van Wyk se opmerking afgemaak as iets wat haat en verdeeldheid aanmoedig en glad nie gegrond is op enige akademiese waarheid nie. Die American Psychiatric Association (APA) het ook bevestig dat hulle pedofilie nié as ’n seksuele oriëntasie of as ’n “normale belangstelling" beskou nie, maar as ’n versteuring.
Van Wyk het intussen nog glad nie in die openbaar reageer oor die storm wat sy uitlatings in die openbare media veroorsaak het nie.
Sommige NG Kerk-predikante het egter vir Van Wyk in die bres getree. Jan Louw sê hy sien dat “die geleerdes” beswaar maak teen mense wat pedofilie by die debat oor homoseksualiteit betrek. “Terselfdertyd tree hulle in die bresse vir LGBTQI+. Sluit die plus dan nie sommer enige seks in nie? Waarom word pedofilie en bestialiteit uitgesonder? Watter soort seks is vir die groep uiteindelik onaanvaarbaar en op watter gronde?” wou Louw weet.
Louw het op sy eie Facebookblad geskryf hy voel hom geroepe om in hierdie dae betrokke te raak by “die bose aanslag teen God en sy Woord wat nou in felheid toeneem”. Volgens hom het die kerk te doen met “’n ongekende aanslag van die duiwel teen die Waarheid” en teen die kerk waarvan hy deel is.
Buro: MvH