Storms op TV en energiekwessies

  • 0
Ook Nederland sukkel met kragvoorsiening

Die omskakeling na groener energie en die behoefte om minder afhanklik van Russiese gas te word, laat die vraag na elektrisiteit groei.

Druk op die kragnetwerk

Druk op die Nederlandse kragnetwerk is aan die toeneem. Nederlanders kan egter gerus wees dat beurtkrag nie in die afsienbare toekoms hier ’n werklikheid gaan word nie.

Die druk op die kragnetwerk beteken egter dat daar druk op maatskappye en die boubedryf geplaas word, wat weer druk op uitbreiding plaas. Nuwe ondernemings kan in sommige gevalle nie permitte vir elektrisiteitsvoorsiening kry nie, of hulle word beperk met hoeveel elektrisiteit hulle mag gebruik – en dit te midde van ’n woningnood in Nederland.

In Amsterdam sukkel ’n nuwe bouprojek met verskeie vertragings, omdat daar slegs vir huise elektrisiteit is, maar nie vir al die geriewe in die buurt nie. “Als we geen complete wijk kunnen maken, dan kunnen we die huizen eigenlijk ook niet bouwen,” sê die stadsraadslid vir ruimtelike ontwikkeling en volhoubaarheid, Marieke van Doorninck.

Sommige kragnetwerkbeheerders oorweeg dit om ’n vorm van voorrang in te stel, byvoorbeeld dat behuising en werkskepping voorkeur moet geniet by die toekenning van permitte, maar dit los nie al die probleme op nie. Die kragvoorsiener Liander sê: “Wij denken wel dat het verstandig is vanuit de politiek keuzes te maken, zodat maatschappelijk ambities niet onder druk komen te staan.”

Intussen oorweeg sommige ondernemings om dieselkragopwekkers aan te skaf – juis wat hulle ingevolge die klimaatdoelwitte nie wil doen nie, berig die NOS.

Verwarming in Diksmuide vroeër af

In die Belgiese stad Diksmuide sal die verwarming in openbare geboue ’n maand vroeër as gewoonlik afgeskakel word, berig VRT NWS. Dit word gedoen om die hoë energiepryse die hoof te bied en meer verantwoordelik teenoor die omgewing te wees. Vanaf die afgelope naweek moet alle munisipale geboue, insluitend die biblioteek, kunsakademie en skole sonder verwarming klaarkom. Die Belgiese wethouer van energie en volhoubaarheid, Marc Deprez, sê: “De prijzen voor energie swingen de pan uit en we willen daarom besparen, waar we kunnen. Het is ook een kwestie van duurzaamheid en beter zijn voor het milieu. We willen als stadsbestuur het goeie voorbeeld geven aan onze inwoners. Inwoners se verwarming in wonings bly egter nog aan.”

Verwarming met sout en water

Die Eindhoven Universiteit van Tegnologie (TU/e) en die Nederlandse Organisasie vir Toegepaste Natuurwetenskaplike Navorsing (TNO) het ’n hittebattery ontwikkel wat volgens hulle ’n vernuwende, skoon oplossing bied vir die toenemende vraag na energie en onafhanklikheid van ingevoerde gas vanuit Rusland. Die battery kan hitte stoor en dan in die aande, of op koue tye, gebruik word om huise of kantore mee te verhit.

Die probleem met groen energie is dat dit onbetroubaar is. Soms skyn die son nie of die wind waai nie. Ander kere waai die wind te veel en wat doen ’n mens dan met die oortollige energie? Volgens die TNO kan ’n mens die energie óf in elektrisiteit omsit óf as hitte berg. Dit is waar die southidraathittebattery inkom.

Die nuwe apparaat, wat gesamentlik deur die TNO en die TU/e ontwikkel is, is klein genoeg om in die meeste huise te pas. Die toestel gebruik ’n soutkomposiet met K2CO3 (kaliumkarbonaat) as basismateriaal. Wanneer soutkristalle water opneem, word dit groter en stel dit hitte vry. As ’n mens weer hitte toevoeg, verdamp die water en word die soutkristalle kleiner.

Solank daar nie waterdamp bykom nie, stel die soutkristalle nie hitte vry nie.

Om die soutkristalle te droog, kan die oortollige energie van sonpanele gebruik word, of die hitte kan verkry word van byvoorbeeld energiesentrales of fabrieke waar hitte ’n afvalproduk is.

Volgens Olaf Adan, hoogleraar van tegniese natuurkunde aan die TU/e, het die hittebattery drie groot voordele: “Het is groener dan andere oplossingen, het is veel goedkoper en het gaat veel sneller. We hoeven geen pijpen aan te leggen en de warmte die we gebruiken is er al, want het is restwarmte.”

’n Hoogleraar in elektrisiteitsvoorsiening, Han Slootweg, sê: “De energie die je zonnepanelen overdag opwekken als je niet thuis bent, kan worden omgezet in warmte. Die wordt opgeslagen en daar kun je ’s avonds dan weer je huis mee verwarmen.” ’n Proefprojek om die sukses daarvan op ’n groter skaal te bestudeer begin binnekort in Sittard.

Nóg ’n storm oor onaanvaarbare gedrag op TV

Die omstrede sportjoernalis, voetbalspeler en musikant Johan Derksen was verlede week opnuut in die sop ná ’n opmerking wat hy op die praatprogram Vandaag Inside gemaak het. Derksen was ’n vaste gas op die program. Die uitsending het gehandel oor die tema “wild geleef”.

Daartydens vertel Derksen toe ’n verhaal hoe hy een aand as sokkerspeler saam met die doelwagter en twee jong vroue ’n wilde aand van brassery gehad het. Derksen en die doelwagter was saam na die huis waar die dronk vroue verskeie kere opgegooi het, vertel hy en vervolg: “Ik ben er niet trots op, maar zulke dingen gebeuren als je jong bent. We zijn weggegaan en die juffrouw lag bewusteloos op zo’n bank en daar stond zo’n grote kaars en die hebben we d'r in gestopt en zijn we weggegaan.”

Ná ’n kort stilte sê die aanbieder, Wilfred Genee: “Daar zou je nu gevangenisstraf voor krijgen.”

Toe Genee voortgaan en sê: “Het is in jouw geval allang verjaard, maar het is wel ...”, onderbreek Derksen hom en sê: “Maar dat soort dingen zijn gebeurd en iedereen heeft zo zijn jeugdzonden.”

Tydens die uitsending kan gesien word hoe die manlike gaste oor die voorval lag.

Een van die vroue wat ’n gereelde gas op die program was, het daarna geweier om weer deel te neem. Ná verdere heftige kritiek reageer Derksen ’n dag later deur te sê dat hy nooit die vrou gepenetreer het nie, maar bloot ’n kers tussen haar bene gesit het. “Die stond zo de lucht in. Ik heb haar daarmee niet gepenetreerd. Maar het blijft onbeschaafd. Maar ik heb aan willen tonen dat het tijdsbeeld zo was. Nu word je daarvoor neergesabeld.”

Derksen weier egter om om verskoning vir sy uitspraak en optrede te vra.

Die voorval het daartoe gelei dat sy radioprogramme gestaak is en hy sy bedanking by Vandaag Inside ingedien het. Die TV-program is ook van die lug gehaal.

Russiese olietenkskip mag nie vasmeer nie

’n Russiese olietenkskip, die Sunny Liger, sou afgelope Saterdag in die hawe van Amsterdam vasmeer nadat dit in Swede geweier is, maar moes ook hier die aftog blaas. Hawewerkers in Amsterdam het uit solidariteit met hul kollegas in Swede geweier om die vrag af te laai. Die Russiese gasolie of diesel val nie onder die sanksies wat teen Rusland ingestel is nie. Skepe wat onder ’n Russiese vlag vaar, mag egter nie hawens van die EU aandoen nie. Die Sunny Liger het egter onder ’n vlag van die Marshall-eilande gevaar. Die Amsterdamse plaaslike owerheid het sy steun aan die aksie van die hawewerkers toegesê. “We staan achter de havenmedewerkers,” sê die burgemeester, Femke Halsema. Die Oekraïense ministerie van buitelandse sake het ook die aksie ondersteun:

Die skip dobber tans langs die Nederlandse kus.

Intussen berig die NOS dat minstens agt ander olietenkskepe onderweg is na die hawe in Rotterdam en die verwagting is dat hulle sonder probleme die hawe sal kan binnevaar, ondanks oproepe van die Oekraïense ambassade om ook dié skepe te weier, maar dit lyk op dowe ore te val: “Zolang ze niet onder de sancties vallen, zijn de schepen welkom in Rotterdam,” sê ’n woordvoerder van die Rotterdamse Hawensmaatskappy.

Die vakbond FNV Havens sê dit is juridies nie moontlik om alle skepe met ’n Russiese vrag te weier nie. FNV Havens doen wel ’n beroep op hawewerkers om hulle as “gewetensbeswaardes” te meld.

FNV Havens sê verder die moontlikheid bestaan wel dat ’n skip met ’n vrag Russiese olie in die afsienbare toekoms weer geweier kan word.

Mei-vakansie bring chaos op Schiphol

Dit is die Mei-vakansie en Nederlanders smag daarna om weer met die trein of vliegtuig êrens te gaan vakansie hou. Die enigste probleem is, die treine is almal vol, en omdat soveel mense tydens die COVID-19-pandemie hul werk verloor het, is daar nou te min mense om die drukte op lughawens te hanteer.

Nederland se grootste lughawe, Schiphol, het lugrederye verlede week gevra om hul vlugte te kanselleer.

KLM het 47 vlugte gekanselleer. Ander rederye, soos Corendon en Transavia, het hul vlugte vanaf die Rotterdam-Den Haag-lughawe laat vertrek.

Reisigers wie se vlugte nie gekanselleer is nie, moes hulle gereed maak vir lang toue om deur die grenspolisie- en bagasie-inspeksie te gaan. Sommige het deur die drukte ook hul vlugte verpas.

Weens die vertragings het KLM honderde klagtes gekry en nou sê KLM dat hulle die koste van die vertragings en kansellerings van Schiphol gaan verhaal. Die bedrag sal na verwagting sowat €200 000 (omtrent R3,3 miljoen) beloop.

Maar die personeeltekort is steeds nie opgelos nie. Verlede week het bagasiewerkers ook ’n onbeskermde staking uitgeroep wat groot ontwrigting op die lughawe tot gevolg gehad het. Bagasiewerkers kla dat hulle vir ’n baie klein salaris moet werk onder moeilike omstandighede wat boonop ’n gevaar vir ’n mens se gesondheid inhou.

Geen maskers meer in Belgiese vliegtuie

Passasiers wat met die Belgiese lugdiens Brussels Airlines reis, hoef van Dinsdag af nie meer maskers aan boord van die vliegtuig te dra nie, berig VRT NWS. Dit geld ook vir vlugpersoneel.

Die dra van maskers op lughawens in België het in Maart verval, maar die meeste lugrederye hou nog steeds by die verpligte dra van ’n masker op die vliegtuig. In België is die dra van maskers in openbare vervoer nog steeds verpligtend, maar Brussels Airlines laat weet: “Wij vallen niet onder de regels van het openbaar vervoer en dus kunnen we dit zélf beslissen.”

Die viroloog Marc van Ranst sê indien voldoende vars lug in ’n vliegtuig gepomp en gefiltreer word, die kans op besmetting klein is. Passasiers wat met die Nederlandse lugdiens KLM reis, moet egter nog ’n masker dra, hoewel die dra van maskers in openbare vervoer in Nederland nie meer verpligtend is nie.

Geen einde aan voëlgriep-epidemie

Voëlgriep is opnuut vasgestel in die dorp Lunteren in die provinsie Gelderland, berig die ministerie van landbou. Die siekte is op ’n lêhenplaas vasgestel. Sowat 90 000 hoenders is van kant gemaak.

Binne ’n radius van 3 km word 32 ander plase ook vir voëlgriep getoets.

Binne ’n omtrek van 10 km, waar 248 pluimveeplase is, mag diere nie meer vervoer word nie.

Sedert Oktober verlede jaar is sowat 2,5 miljoen hoenders op meer as 50 plase van kant gemaak.

Weens die uitbraak van voëlgriep in Nederland geld daar al geruime tyd maatreëls om die verspreiding van die siekte te probeer beperk. So moet alle pluimvee in hul hokke bly en afgeskerm word. Daar is ook ’n verbod op besoeke aan voëlplase, tensy dit absoluut noodsaaklik is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top