Streng optrede geëis oor anargie in die land

  • 0

Suid-Afrikaners is keelvol vir die vlaag van geweld en anargie wat die afgelope twee weke oor die land spoel. Politieke partye en burgerlike organisasies het ’n dringende beroep op die regering gedoen om wet en orde te herstel.

In ’n videoboodskap het president Cyril Ramaphosa Dinsdag op Twitter ook sy weersin uitgespreek oor die geweld wat in verskeie provinsies uitgebreek het. Ramaphosa sê die land se mense wil in harmonie leef en wat ook al hulle griewe mag wees, moet dit op demokratiese maniere aangespreek en opgelos word. Die president het hom ten sterkste uitgespreek teen xenofobie en sê daar is geen regverdiging vir enige Suid-Afrikaner om buitelanders aan te val nie.

“Ek veroordeel die geweld wat in verskeie provinsies uitgebreek het in die sterkste terme,” het Ramaphosa gesê. Hy sê hy het ’n dringende vergadering met al die ministers belê wat met die land se veiligheid te make het om seker te maak daar word ernstig aandag gegee aan die geweld en dat dit so spoedig moontlik beëindig word.

Gauteng se premier, David Makhura, het ook ’n beroep op kalmte gedoen na die onrus wat in dié provinsie uitgebreek het. Makhura het Alexandra, noord van Johannesburg, besoek na die plundering van buitelandse winkels in dié township. Hy het gesê xenofobie is ’n onderliggende rede vir die geweld. Volgens Makhura is werkloosheid nie ’n verskoning vir geweld nie. Hy het ’n beroep op mense gedoen om nie die reg in eie hande te neem nie.

Die leier van die DA, Mmusi Maimane, het vroeër gesê Ramaphosa moet die geweld in Gauteng veroordeel. Maimane sê dit is ’n skande dat dit lyk asof Ramaphosa nie bekommerd is oor die plundering van winkels in Pretoria en Johannesburg nie. Volgens Maimane is dit tyd dat Ramaphosa sy stilte moet verbreek oor die maatskaplike en ekonomiese krisis in die land.

Maimane sê die polisie se eenheid vir openbare orde moet in Gauteng ontplooi word. Hy sê belastingbetalers dok jaarliks meer as tien miljoen rand op vir spesiale beskerming van kabinetslede. Volgens Maimane moet dié begroting besnoei word sodat méér beskerming aan gewone lede van die publiek gegee kan word.

Die DA-leier het ’n beroep gedoen dat die aanstigters van die geweld gearresteer word en sê hy veroordeel die chaos in die land in die sterkste moontlike taal. Hy sê wet en orde moet so gou moontlik herstel word en gevra vir ’n gesamentlike strategie op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak om ’n einde aan die geweld te bring.

Volgens een van die land se voorste misdaadkenners, Johan Burger, het swak misdaadintelligensie beslis ’n rol gespeel in die geweldpleging wat die laaste twee weke oor die land spoel. Hy het aan Netwerk24 gesê weens die gebrek aan misdaadintelligensie word staatstrukture soos die polisie dikwels onkant betrap en gedwing om te reageer sonder dat daar behoorlik beplan word.

Intussen het die vragmotor-terreur die afgelope week landswyd groot ontwrigting veroorsaak. Paaie is versper en verskeie vragmotors is aan die brand gesteek. Volgens die Padvragvereniging (RSA) is meer as 200 mense dood sedert die aanvalle op plaaslike en buitelandse vragmotorbestuurders in Maart verlede jaar begin het. Meer as 1 000 vragmotors is reeds beskadig of uitgebrand.

Videomateriaal is op Twitter versprei van Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders wat buitelandse vragmotorbestuurders dreig en eis dat al die werk teruggegee word aan Suid-Afrikaners.

Die sekretaris van die AllTruckDrivesFoundation (ATDF), Sifiso Nyati, sê egter die vragmotorprotesaksies gaan nie oor ontevredenheid of onmin tussen plaaslike vragmotorbestuurders en buitelanders nie maar oor die onaanvaarbare werksomstandighede waaronder sommige mense werk, het Netwerk24 berig.

Op sosiale media was die tonge los oor die vlaag van geweld wat die land teister en daar is oor en weer vinger gewys wie die blaam moet dra.

’n Prokureur, Muthu Murema, het getwiet dat daar letterlik nie een wit mens betrokke is by die huidige destabilisering van die land nie. Hy sê die huidige gebeure moet Suid-Afrikaners laat besef wie is die werklike vyand aangesien hulle reeds te lank gebreinspoel word om die blaam op die wit mense te plaas.

Dit het aanleiding gegee tot ’n hewige debat oor xenofobie en rassisme.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top