Strenger tabakregulasies vir Suid-Afrika in die vooruitsig

  • 0

Suid-Afrikaanse rokers se rookgewoontes kan dalk verder ingeperk word as die regering sy sin kry.

Die adjunkminister van gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, sê die regering sal dit moet oorweeg om tabakregulasies te verskerp.

Dit volg na die bekendmaking van die Global Adult Tobacco Survey (GATS) se jongste resultate rakende mense se rookgewoontes.

Die opname se resultate toon dat minstens een uit vier volwassenes tabakprodukte soos sigarette, hubbly, sigare of pype rook, terwyl ’n verdere een uit 25 volwassenes rooklose tabakprodukte soos snuif gebruik.

Dit bring die totale aantal tabakgebruikers op minstens drie uit tien volwassenes te staan.

“Hierdie resultate toon die dringendheid vir die regering om regulatoriese maatreëls te verskerp om tabak te beheer. Die GATS-resultate sal sommige van die klousules van die konseptabakwetsontwerp (wetsontwerp op die beheer van produkte en elektroniese afleweringstelsels) wat tans verwerk word, aanspreek,” het Dhlomo dié week gesê.

Hy het in die Oos-Kaap gepraat oor die GATS-uitslae tydens die herdenking van die wêreldwye dag teen tabak.

Dhlomo sê in ’n verklaring daar sal steeds geleenthede wees vir meer bespreking oor die data wanneer daar ’n volledige verslag vrygestel sal word. Hy het ’n beroep gedoen op almal om die verslag te bestudeer sodat die omvang van die sosiale en ekonomiese impak van tabak in die samelewing begryp kan word.

“Hierdie resultate skets ’n prentjie wat ons almal as individue, samelewing en land behoort te bekommer,” het hy gesê.

“Oor die jare het ons verskillende studies gehad wat die land van syfers oor ons rookkoerse voorsien het. Van 1998 tot 2000 het die land ’n geleidelike afname in rookkoerse ervaar. In 2016 was daar ’n toename en die land staar nog ’n toename in die gesig met hierdie Global Adult Tobacco Survey-resultate.”

GATS is in meer as 30 lae- en middelinkomstelande met die hoogste las van tabakgebruik geïmplementeer en dek die volgende onderwerpe: voorkoms van tabakgebruik (rookproduserende en rooklose tabakprodukte), blootstelling aan tweedehandse tabakrook en beleide, staking, kennis, houdings en persepsies, blootstelling aan media en ekonomie.

Volgens die opname wil minstens twee derdes van rokers graag ophou rook.

Die adjunkminister het gesê dit dui daarop dat rokers dalk sosiale en gesondheidsondersteuning nodig het om hul verslawing te oorkom.

“As 40% van die mense ’n poging aangewend het om op te hou rook, kan dit ook beteken dat ons dalk dienste sal moet versterk vir diegene wat wil ophou. Voorrang moet gegee word aan die ontwikkeling van stakingsprogramme. Kom ons verenig om hulle te help om op te hou,” het hy gesê.   

Hoewel 90 persent van Suid-Afrikaanse volwassenes aanvaar dat rook en tweedehandse rook sleg is vir hul gesondheid, bestee hulle byna R300 per maand aan tabak en verwante produkte. Dit is een van die bevindings van die Global Adult Tobacco Survey South Africa (GATS-SA).

Meer as 6 000 mense is tussen Mei en September 2021 ondervra. Daar was ’n totale reaksiekoers van ongeveer 91,5%.

Dr Catherine Egbe, die hoofondersoeker vir die GATS-SA-opname, het gesê dat die studie toon dat mense tussen 45 en 64 die meeste tabakprodukte gebruik.

“Dit is gevolg deur diegene in die ouderdomsgroep 25 tot 44 jaar, en die voorkoms onder daardie ouderdomsgroepe was 26,7%. Onder mans in hierdie ouderdomsgroep was dit 41,7%, en onder vroue was dit 11,5%,” het Egbe gesê.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die afgelope week ook nuwe inligting onthul oor die mate waarin tabak beide die omgewing en menslike gesondheid beskadig, en vra vir stappe om die bedryf meer aanspreeklik te maak vir die vernietiging wat dit veroorsaak.

Elke jaar kos die tabakbedryf die wêreld meer as 8 miljoen menselewens, 600 miljoen bome, 200 000 hektaar grond, 22 miljard ton water en 84 miljoen ton CO2.

Die WGO-verslag “Tobacco: poisoning our planet” beklemtoon dat die bedryf se koolstofvoetspoor van produksie, verwerking en vervoer van tabak gelykstaande is aan een vyfde van die CO2 wat elke jaar deur die kommersiële lugrederybedryf geproduseer word, wat verder bydra tot aardverwarming.

  • 0
Top