Stroop: Journey into the Rhino Horn War: ’n filmresensie

  • 0

Skokkend, boeiend en hartverskeurend.

Dit is net sommige van die woorde om die bekroonde Suid-Afrikaanse dokumentêr Stroop: Journey into the Rhino Horn War te beskryf.

’n Kragtige, op die man af dokumentêr, wat die uiters komplekse aard van die renosterstropery-krisis beklemtoon en poog om die geheime van die donker wêreld van renosterstropery bloot te lê.

Dit is duidelik waarom dié film al meer as 10 internasionle toekennings ingepalm het.

...............

“Skokkend, boeiend en hartverskeurend.”

...............

Wat aanvanklik beplan is as ’n projek wat ongeveer ses maande sou neem, het gelei tot ’n intensiewe ondersoek van oor die vier jaar.

Joernalis Bonné de Bod en regisseur Susan Scott span saam om hierdie riller van ’n dokumentêr te maak, maar sou nie dadelik voorbereid wees op wat hulle uiteindelik sou ontdek nie.

De Bod neem die leiding voor die kamera en Scott die leiding agter die kamera om die angswekkende tonele vas te vang.

’n Skermgreep van die dokumentêr Stroop: Journey into the rhino horn war

Niemand sou hulle kon voorberei op presies hoe groot die epidemie van renosterstropery eintlik is en waarvoor hulle hulself inlaat nie.

Die duo kry toegang tot vreesaanjaende inligting en wrede feite. Die dokumentêr plaas die fokus op plaaslike wildreservate en hoe hulle die krisis probeer beveg - van beskermingsmaatreëls tot pogings om renosterwesies te red - en kring dan internasionaal uit na waar die twee reis na die verre Ooste.

Hulle gesels met wildbewaarders van wildreservate soos die Kruger Wildtuin en beweeg saam met hulle op gevaarlike terein, in die spervuur van stropers. Hulle ontdek grutonele van renosterkarkasse, wreed geslag vir hulle horings.

Die twee reis na China en Vietnam om meer uit te vind oor die onwettige smokkel van renosterhorings na ondermeer hierdie lande, en probeer agter die kap van die byl kom van die enorme onwettige globale handel in renosterhorings ‒ en waarom mense bly glo dis die wonderkuur vir talle siektes soos kanker.

Hulle woon hofsittings by waar sindikate verhoor word en vind uit hoe korrupsie in die regering ook ’n rol in die epidemie speel. Wat is Suid-Afrika en ander belanghebbendes besig om aan die krisis te doen? Is ons besig om daadwerklik op te tree?

Deur saam te span met aktiviste en omgewingskenners, en internasionale ondersoeke te bestudeer, bou hulle ’n sterk saak sodat dit moeilik word om slegs ’n blinde oog draai.

Skermgrepe van die dokumentêr Stroop: Journey into the rhino horn war

Die dokumentêr poog om antwoorde te kry, en die duo sal enigiets moontlik doen om dié antwoorde te kry ‒ selfs hulle lewe op die spel plaas.  

Dit is voorwaar ’n dapper, onverskrokke en uiters belangrike dokumentêr wat die kollig op ’n onderwerp plaas wat al lankal aandag moes kry. Stroop: Journey into the Rhino Horn War het wêreldwyd opslae gemaak en van alle oorde kommentaar ontlok ‒ en dis goed so.

Dis hoogtyd dat daar wakker geskrik word.

Hierdie is De Bod en Scott se eerste poging om ’n film te skep en hulle het werklik hulle alles vir dié projek gegee. Die duo het hulle werk opgegee, hulle huise verkoop en weer by hulle ouers ingetrek ‒ alles in die naam van die dokumentêr.

Hulle wou ten alle koste agter die kap van die byl kom van hierdie bose en gevaarlike wêreld van renosterstropery en dit is prysenswaardig. Toegewyd tot hulle passie is hulle ook.

Deur middel van skarebefondsing, en ondersteuning van organisasies soos die Oak Foundation in die VSA en Tanglewood Foundation in Nieu Seeland, kon hulle genoeg fondse bymekaar kry om die dokumentêr te finansier en te voltooi.

...............

“Die dokumentêr poog om antwoorde te kry, en die duo sal enigiets moontlik doen om dié antwoorde te kry ‒ selfs hulle lewe op die spel plaas.”

...............

Wat die film treffend maak en gravitas gee, is die feit dat De Bod en Scott die inligting aanbied soos wat dit is, sonder om enigiets aan te dik of meer dramaties te maak as wat dit reeds is. Hulle besef die skokkende feite. Hulle soek die waarheid eerder as om die feite te manipuleer. Hulle laat die tragedie toe om vir homself te praat.

Die verdoemende statistieke is genoeg om ’n mens stom te slaan. Die dokumentêr hou ’n mens deurentyd geboei.

’n Mens wil graag glo dat ons bewus is van hoe erg die renosterstropery-krisis is, en tog vordering maak om dit te beveg, maar wanneer ’n mens hierdie film kyk, besef ’n mens dit waarvan ons wel weet en in die media lees is net die punt van die ysberg.

Ons, Jan Alleman, kan eintlik nie eers begin om te begryp hoe kompleks en ernstig hierdie krisis regtig is nie.

Die dokumentêr raak ’n mens diep en dit is moeilik om soms na van die tonele te kyk. Dit is ’n film wat nie doekies omdraai nie en jou konfronteer met die nare waarheid ‒ en is dit nie maar soms vir ons soveel makliker om eerder net ander pad te kyk en te maak asof die probleem nie bestaan nie?

Die wreedheid waarmee hierdie renosters basies geslag word, hulle horings afgekap word met byle en pangas, is ’n beeld wat ’n mens lank by bly.

Daar is wel mense wat hard werk om die stroop van renosters te beveg, soos die film ook wys. Mense van teen-stropingseenhede wat gevaarlike werk doen om ons renosters veilig te hou. Dit gee ’n mens tog ’n bietjie hoop, al is dit net ’n gryntjie.

Stroop: Journey into the Rhino Horn War gee ’n deeglike nagevorste en allesomvattende blik op die renosterkrisis, ’n dapper en inspirerende film wat beslis die kyk werd is. Die een dokumentêre rolprent wat ’n mens eenvoudig  moet sien.

Hy slaan jou soos ’n vuishou in die maag ‒ die “wake up” call wat ons lankal al nodig gehad het.

Dankie aan Encounters South African International Documentary Festival vir die vergunning om die dokumentêr te kyk vir die doel van die skryf van ’n resensie.

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top