Die eerste tekens van die aanbreek van lente in Suid-Afrika, selfs al is dit nog amptelik winter, loop vanjaar tesame met wat seker ook as ’n seisoensverandering in die stryd teen korrupsie bestempel sou kon word.
Die suggestie van ’n vroeë lente word in dié opsig gedemonstreer deur ingrypende stappe wat deur pres Cyril Ramaphosa aangekondig is om bepaald beweerde ongerymdhede met die toekenning van COVID-19-verwante kontrakte bloot te lê. Dit sluit onder meer ’n spesiale ondersoekeenheid in wat spesifiek moet fokus op korrupsie wat betref die verskaffing van persoonlike beskermende toerusting (PPE) vir gesondheidsorgwerkers. Ook wanbesteding met onder meer bewusmakingsveldtogte en die uitdeel van staatsgesubsidieerde kospakkies aan behoeftige landburgers.
Hiermee saam het Ramaphosa ’n ministeriële taakspan aangestel wat bestaan uit onder andere die ministers van polisie (Bheki Cele), justisie en korrektiewe dienste (Ronald Lamola) en finansies (Tito Mboweni) om ’n ogie te hou oor die toekenning van die sogenaamde COVID-19-tenders. Wat hierdie stappe genoodsaak het, is die vlaag (of plaag, eintlik) voorvalle waar kamerade, vriende en familie van politici en staatsamptenare betrek word by die onbehoorlike verkryging van PPE-tenders.
Om sout in die wond te vryf, tel die presidensiële woordvoerder, Khusela Diko, onder diegene wat nou ondersoek word nadat haar man voordeel uit so ’n kontrak getrek het. Haar dienste in die presidentskantoor is tydelik opgeskort – mét volle betaling – terwyl die kwessie ondersoek word. Sowel Diko as ’n provinsiale minister in Gauteng en dié se vrou, ’n burgemeesterskomiteelid van die Stad Johannesburg, word apart deur die ANC dissiplinêr verhoor weens dieselfde kontrak waaroor Diko in die sop beland het.
Ramaphosa het ’n week gelede in sy gebruiklike Maandagoggend-brief, “Letter from the President”, sy afgryse te kenne gegee oor die pleeg van korrupsie gedurende ’n nasionale ramp, die pandemie. Dit is ’n afgryslikheid waarvoor oortreders behoorlik gestraf sal word, het hy onderneem. Hiermee het hy ’n onderskeid probeer tref tussen sy presidensiële termyn en dié van sy voorganger, Jacob Zuma, waartydens korrupsie (oftewel staatskaping) hoogty gevier het.
En dan het hy oor die netelige kwessie van vriende en familie van politieke ampsdraers en staatsamptenare wat sake met die regering doen, gesê dit vereis ’n nuwe gewete en ’n nuwe sin vir verantwoordbaarheid. “Gewete” en “verantwoordbaarheid” was immers twee woorde wat nie deel van die Zuma-woordeskat uitgemaak het nie.
Ramaphosa se pleidooi: “Indien ons as staatsamptenare en politieke ampsdraers daarop aanspraak maak dat ons ernstig is oor die herstel van publieke vertroue wat ernstig deur korrupsie uitgewis is, moet ons selfs net die persepsie van konflik van belange vermy.”
Gewone mense behoort ’n regverdige kans gebied te word om met die staat sake te kan doen, glo die President – eerder as dat binne-inligting oor geleenthede voortydig en onregverdig met familie en vriende gedeel word. Dit is net so afstootlik, het hy beklemtoon, dat sakelui in sommige gevalle gedurende hierdie pandemie die prys van lewensreddende voorraad, soos gesigsmaskers, se pryse met tot 900% verhoog.
Ramaphosa het verder geskryf dat dit moeilik is om te verduidelik waarom ’n raadslid noodkospakkies wat vir die armes bedoel is, vir sy eie familie bymekaar sal maak – of waarom ’n ander raadslid watertenke by sy eie woning sal laat aflewer, terwyl dit vir ’n behoeftige gemeenskap bedoel is. En ’n mens durf ook nie vergeet nie dat raadslede, soos álmal wat vir hul inkomste van die staat afhanklik is, gedurende die grendelstaattydperk strykdeur hul volle salarisse ontvang, ondanks die feit dat baie nie hoef te gaan werk nie of net beperkte dienste lewer.
“Om ’n profyt te probeer maak uit ’n ramp wat ons mense se lewe daagliks eis, is gelyk aan die optrede van aasdiere,” het die President dit sonder omhaal opgesom. “Dit is soos ’n groep hiënas wat rondom ’n gewonde prooi sirkel.”
’n Mens het vir Ramaphosa se onthalwe eintlik gehoop dat hy dié aflewering van sy weeklikse nuusbrief eerder as ’n toespraak aan die nasie moes gelewer het. Só kragtig was dit; só onomwonde; só dapper.
Maar in dié opsig is hy sterk onder die indruk gebring dat dit streng gesproke nog steeds winter in hierdie korrupsiekolonie is; daarvan spreek die skeptiese reaksie van die media en die breë publiek op die maatreëls wat aangekondig is – tekenend van die hongersnood wat sowel Ramaphosa as sy ANC-regering steeds ervaar in terme van openbare vertroue en geloofwaardigheid.
Dit is ’n situasie wat versterk word deur uitsprake soos dié van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, dat daar omtrent nie ’n ANC-leier is wat nie al met die staat sake gedoen het nie. Magashule self word gereeld genoem in verband met beweerde betrokkenheid by staatskaping, en sy eie twee seuns was van die eerste “Covidpreneurs” wat aan die kaak gestel is.
Maar tot Magashule se eer – indien nie om die absurdheid daarvan uit te wys nie – het hy ná ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee die boodskap met die land moes deel dat die party die voorkoms van Covid-korrupsie ten sterkste veroordeel ...
Die ongeloof oor die ANC se erns om korte mette met korrupsie te maak loop egter só sterk dat selfs die aanstelling van die Lamola-komitee van ministers as ’n grap afgemaak is. Die verrotting is hopeloos té diep gesetel, meen kommentators; net ’n algehele skoonmaakproses sal verandering kan bring. Maar ook hiervoor bestaan daar min hoop, omdat Ramaphosa se leierskap wankel soos dié van ’n sirkusarties op ’n eenwielfiets. Wat hy ook al sê of probeer doen, word altyd opgeweeg teen die uitsprake en optredes van die ander leiers in die ANC se Top-6.
En dan is daar die sterk indruk wat bestaan dat dit nie werklik hy is wat aan die stuur van sake in die sogenaamde Korona-bevelsraad of die kabinet is nie, maar wel sy minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, wat met minder as 200 stemme teen hom verloor het by die party se leiersverkiesing in Desember 2017.
Dit is ’n persepsie wat ontstaan het nadat hy vroeër aangekondig het dat die verbod op tabakprodukte as deel van die Covid-inperkingsmaatreëls opgehef sou word, maar Dlamini-Zuma agterna (namens die bevelsraad) verklaar het dat die verbod geldig sal bly. Hierdie besluit sou deel uitmaak van die regering se plan om te verseker dat noodsaaklike hospitaalbeddens beskikbaar bly vir COVID-19-pasiënte wanneer Suid-Afrika sy piek bereik, ’n aanname wat reeds in ’n aantal hofgedinge (onsuksesvol) betwis is. Uitspraak moet nog gelewer word in die nuutste poging deur British American Tobacco (Batsa) om die verbod gekanselleer te kry, maar in die staat se eie motivering vir die verbod word aangevoer dat dit uiteindelik slegs enkele beddens beskikbaar sal stel.
’n Ligpunt is egter dat omtrent een miljoen van die land se nagenoeg tien miljoen rokers na raming gedurende die inperkingsperiode, wat reeds middel-Maart begin het, sal ophou rook. Die gesondheidsgevare wat met rook geassosieer word (soos longsiektes), is tog alombekend – en die Wêreldgesondheidsorganisasie benadruk dit opnuut in die konteks van die verspreiding van die koronavirus, wat veral mense se respiratoriese kanale aanval.
Maar die onbedoelde gevolg van die tabakverbod is die groei in sluikhandel met sigarette en ander rookgoed, ’n situasie wat duisende rokers in vermeende misdadigers omskep het met dié dat hulle nou onwettig – én ten duurste – sigarette in die hande kry. In baie gevalle is dié sigarette van ’n baie swakker (én ongesonder) gehalte as die wettige produkte – en ook onwettig die land ingevoer, wat uiteraard ’n ander soort bedrog en korrupsie tot gevolg het.
En wat sal die langtermynimplikasie wees van dié soort (kleinskaalse?) onwettigheid deur andersins wetsgehoorsame burgers in ’n land wat steeds probeer herstel van die (grootskaalse) bedrog wat in die voor-Ramaphosa era deur senior samelewingsrolspelers gepleeg is?
Dit is die soort vraag wat Ramaphosa sonder twyfel by tye moet laat voel dat sy “nuwe daeraad”-bors besig is om toe trek; dat die “Ramaforie”-suurstof uit sy longe gedruk word; dat hy twee-en-’n-half jaar nadat hy in die somer van 2018 staatshoof geword het, sukkel om polities asem te haal.
Buro: MvH