Die veteraanpolitikus en anti-apartheidsaktivis, Alex Boraine, wat Woensdag oorlede is, sal onthou word as ’n politieke heer wat sy land liefgehad het, sê emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu.
Boraine sal deur gewone Suid-Afrikaners onthou word vir sy vurige teenstand teen apartheid, maar ook as een van die hoofargitekte van die Waarheids- en Versoeningskommissie. As parlementslid tydens die apartheidsregering het hy hom dikwels die gramskap van die destydse President PW Botha en die Nasionale Party op die hals gehaal.
Nadat Suid-Afrika in 1994 ’n demokrasie geword het, is hy in 1995 deur oud-president Nelson Mandela aangestel as ondervoorsitter van die Waarheids- en Versoeningskommissie onder voorsitterskap van Desmond Tutu.
Hy is Woensdag in die oggendure op 87-jarige ouderdom by sy huis in ’n aftreeoord in Constantia in sy slaap oorlede terwyl hy in remissie van kanker was.
“Ons onthou hom in die eerste plek as ’n liefdevolle en wyse eggenoot, vader en oupa. Ons eer sy lewenslange toewyding aan die stryd teen rassisme, vir menseregte, demokrasie en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika en die wêreld,” het Boraine se familie in ’n verklaring gesê. Die familie sê hy het hulle inspireer met sy groot hart en passie vir die lewe.
Hy het sy loopbaan as predikant in 1956 in die Metodistekerk begin na sy studies aan die Rhodes Universiteit in Suid-Afrika en Oxford in Engeland asook die Drew Universiteit in Amerika.
In 1970 was hy die jongste president van die Metodistekerk in Suid-Afrika ooit en het in 1974 lid van die parlement geword vir die Progressiewe Federale Party.
Boraine was een van enkele lede van die destydse Progressiewe Federale Party wat in 1986 saam met hulle leier, Frederik van Zyl Slabbert, as parlementslede bedank het omdat hulle nie meer vertroue gehad het in die parlementêre proses onder die apartheidsregering nie.
Saam met sy voormalige leier, Van Zyl Slabbert het hulle die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (IDASA) gestig om hulle vir ’n demokratiese Suid-Afrika te beywer. In 1987 reël hulle die veelbesproke Dakar-konferensie met die ANC-leiers in Dakar, Senegal wat uiteindelik die weg help baan het vir verdere onderhandelings met die destydse regering.
Die Dakar-gangers is destyds deur die Nasionale Party kwalik geneem omdat hulle met die “vyand” praat maar skaars drie jaar later het die NP-regering ook in die openbaar met die ANC begin onderhandel.
Na sy bedanking as parlementslid in 1986 het Boraine hom losgemaak van partypolitiek en alles in die stryd gewerp om ’n demokratiese Suid-Afrika te help bou.
“As dit nie vir Alex Boraine was nie, sou die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika nie tot stand gekom het nie, sê Paul Graham, die voormalige uitvoerende beampte van IDASA.
Hoewel hy uiters ongewild was onder die meerderheid Afrikaners, het hy hom in 2014 beywer vir die vrylating van die apartheidsmoordenaar, Eugene de Kock asook vir Clive Derby-Lewis en Janus Wallus, die moordenaars van Chris Hani ...
“Die paroolraad het hom [De Kock] in die steek gelaat en ek dink die moordenaars van Hani behoort ook vrygelaat te word,” het Boraine destyds gesê. Hy het De Kock se dade steeds ten sterkste veroordeel, maar was van mening dat sy vrylating sowel as die vrylating van Hani se moordenaars kon help om versoening teweeg te bring.
Boraine word oorleef deur sy vrou Jennifer Boraine, sy vier kinders Andrew, Kathryn, Jeremy en Nicholas, en sewe kleinkinders.
Buro: NB