Studente dreig om alle universiteite landwyd te sluit

  • 0

Studentebetogings het Maandag na verskeie universiteitskampusse uitgebrei met dreigemente van ’n algehele landwye sluiting van alle universiteite in die land.

Studentebetoging by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg (15 Maart 2021) (Foto: YouTube)

Die studente eis dat alle agterstallige studieskuld afgeskryf en die ANC se beloftes van gratis tersiêre opleiding onmiddellik geïmplementeer word. Hulle dreig om al 26 openbare universiteite in die land te sluit as daar nie aan hulle eise toegegee word nie.

Te midde van die landwye eise vir gratis tersiêre opleiding staar universiteite ’n finansiële tekort van miljarde rand in die gesig. Daar word geraam dat die huidige tekort aan die nodige befondsing by universiteite reeds meer as ses  miljard rand is, terwyl studente se studieskuld na raming al R14 miljard beloop, het die mediagroep IOL Maandag berig.

Die geskil tussen ontevrede studente en die Departement van Hoër Onderwys het ook ’n sterk politieke kleur bygekry nadat die EFF toegetree tot die stryd met die hutsmerk #SizofundaNgenkani2021. Dit is die amptelike platform op sosiale media van die EFF se sogenaamde studentekommando wat hulle vir gratis opvoeding beywer.

Die DA het in ’n verklaring aangedring op die bedanking van die minister van hoër onderrig, wetenskap en tegnologie, Blade Nzimande. Die DA se studenteorganisasie Daso sê hulle het die huidige probleme lankal voorsien en beskuldig die minister daarvan dat hy nie die studente ernstig opneem nie.

Volgens Nzimande het sy departement nie genoeg geld om alle studente se agterstallige skuld af te skryf nie. Hy het die naweek reageer op ’n brief wat die Suid-Afrikaanse Studenteunie (SAUS) aan hom gerig het. Sy volledige reaksie op die studente se eise kan hier gelees word.

Nzimande sê baie universiteite doen reeds alles in hul vermoë om studente in nood by te staan om hulle finansiële verpligtinge na te kom sodat hulle kan registreer. Hy sê universiteite moet egter ook sorg dat hulle in staat is om finansieel te oorleef as hulle lewensvatbaar wil wees wil en aanhou bestaan.

Universiteite wat hulle Maandag aangesluit het by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg se betogings is onder andere die Universiteit van die Vrystaat, die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth (of Gqeberha soos wat die stad onlangs herdoop is), asook Rhodes-universiteit in die Oos-Kaap.

Die studenteraad van die Universiteit van die Vrystaat het die onmiddellike bedanking van die visekanselier en rektor, Francis Petersen, geëis. Die president van die studenteraad, Katleho Lechoo, het gesê ’n lys met griewe sou Maandag aan die universiteit se bestuur oorhandig word.

Hy sê die bestuur is arrogant met die hantering van studente se griewe. Die universiteit se hoofkampus, asook die kampus van die Sentrale Universiteit van Tegnologie, is gesluit te midde van die protesoptrede wat verlede week begin het. Lechoo het gesê hulle sal voortgaan met eise dat studente vir die nuwe akademiese jaar registreer en dat hul studieskuld afgeskryf word.

By Wits het die studenteraad studente versoek om saam te staan ten spyte van hulle politieke verwantskap. Die betogende studente by Wits het verlede week met betogings begin. Hulle vra dat  alle hoëronderriginstansies landwyd tot stilstand gebring word. Die SAUK berig dat die president van Wits se studenteraad, Mpendulo Mfeka, gesê het alle studente moet saamstaan en nie toelaat dat hulle politieke affiliasie hulle verdeel nie.

By die Nelson Mandela Universiteit het studente die Noord- en Suid-kampusse in Somerstrand Maandag vesper. Studente by Rhodes-universiteit in die Oos-Kaap het alle ingange van die Makhanda-kampus versper. Die visepresident van die studenteraad, Hlumela Mpiti, het volgens die SAUK gesê hoewel hulle saamstem met die eise van die nasionale studenteorganisasies, hulle ook spesifieke eise by Rhodes het. Volgens Mpiti sluit dit in dat internasionale studente ook van data voorsien moet word.

Studente by die Universiteit van Limpopo het ook Maandag aangesluit by die landwye protesoptrede om hoëronderriginstansies tot stilstand te dwing. Hulle betoog onder die vaandel van die studenteorganisasie SASCO en die EFF se Studentebevel.

Lees ook op LitNet:

Student protest: Coming up on this season of #FeesMustFall

Studenteprotes: ’n tydbom wat gewag het om te ontplof

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top