Studenteverblyf is ’n tydbom wat dreig om te ontplof

  • 0

Die tekort aan studenteverblyf vir studente van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is ’n tydbom wat vroeg volgende jaar kan ontplof.

So waarsku die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) na afloop van ’n ondersoek na studente-akkommodasie-tenders by die NSFAS. Volgens Outa wek die bevindinge groot kommer.

NSFAS het vroeër vanjaar aangekondig dat hulle volgende jaar ongeveer 397 000 geakkrediteerde beddens benodig vir NSFAS-studente. Aan die begin van Oktober was daar nog slegs 25 803 (of 6,5%) van die vereiste beddens geakkrediteer.

Aan die begin van die 2023 akademiese jaar het ’n soortgelyke krisis tot wydverspreide studentebetogings gelei. Duisende studente was gestrand gelaat nadat NSFAS studenteverblyf tot R45 000 per student per jaar beperk het. Studente het gebruik gemaak van openbare plekke, biblioteke, gange, badkamers of tydelike akkommodasie om in te slaap. Dit het ook daartoe gelei dat baie studente op leë mae klas toe moes gaan, aangesien hulle nêrens maaltye kon kook nie.

Outa sê in ’n verklaring dieselfde krisis dreig wanneer tersiêre opleiding volgende jaar in Januarie en Februarie begin en wil weet waar al die studente gaan bly.

“Dit is hoogs onwaarskynlik dat daar genoeg beddens sal wees wat geakkrediteer is wanneer die universiteite en kolleges in Januarie 2024 begin. Dit beteken dat duisende studente weer die jaar sonder verblyf sal afskop,” sê Rudie Heyneke, ondersoekbestuurder van Outa.

Die vind van geskikte akkommodasie is ’n groot bekommernis vir NSFAS-begunstigdes, en baie studente het reeds kommer uitgespreek oor die beskikbaarheid van akkommodasie vir 2024.

Dit is Outa se siening dat die huidige ontwikkelende krisis direk aan NSFAS toegeskryf kan word omdat hulle onervare en onderbemande diensverskaffers aangestel het om studenteverblyf te inspekteer en te akkrediteer.

Volgens NSFAS se vereistes moet diensverskaffers wat verantwoordelik is vir akkreditasie, ’n beroepsgesondheid- en veiligheidsinspekteur, bouinspekteur, ingenieur en ’n elektrisiën in hul diens hê om inspeksies uit te voer.

Die meerderheid van die 39 diensverskaffers wat NSFAS aangestel het, voldoen volgens die verslag nie aan enige van hierdie vereistes nie.

Heyneke sê die krisis word vererger deur die Januarie-aankondiging van die regering dat verblyftoelaes tot R45 000 beperk word. Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, het ’n paar jaar gelede by die privaatsektor gepleit om studenteverblyf te ontwikkel om die ernstige tekort aan geskikte en bekostigbare verblyf naby kampusse te verlig. Ontwikkelaars moes voldoen aan die minimum standaarde en norme soos uiteengesit deur die departement.

Met die beperking op verblyftoelaes kan ontwikkelaars egter nie bekostig om hul verblyf aan NSFAS-studente te verhuur nie, aangesien die R45 000 per jaar nie hul koste dek nie. Verhoogde rentekoerse op lenings, inflasie en steeds stygende munisipale rekeninge sowel as bedryfskoste het groot verliese vir sommige van hierdie ontwikkelaars tot gevolg gehad. “Een ontwikkelaar het aan Outa verduidelik dat die departement hulle gevra het om 5-ster-akkommodasie te ontwikkel, maar is net bereid om 3-ster-pryse te betaal,” sê Heyneke.

Soos in die geval van studente wat nie ’n ander keuse gehad het as om vir die NSFAS-bankkaart te registreer om hul toelaes te kry nie, het akkommodasieverskaffers ook nie ’n keuse nie.

Benewens die verlaging van die verblyftoelae met R15 000 (van R60 000 in 2022), moet privaat akkommodasieverskaffers en instansies wat hul eie verblyf het, nou ook hul beddens op die NSFAS-studenteverblyfportaal registreer teen ’n koste van tussen R100 en R200 per bed as hulle in aanmerking wil kom vir die verblyftoelaag. Eers na betaling word gekyk of dit voldoen aan die minimum standaarde en norme van die Departement van Hoër Onderwys. Wanneer die akkommodasie goedgekeur is, word  ’n sertifikaat van voldoening uitgereik. Eers daarna kan akkommodasie wat deur die NSFAS betaal word, aan studente beskikbaar gestel word. NSFAS trek dan ’n verdere 5% van die huurbedrag af as ’n “lisensiefooi” vir die gebruik van die platform.

Outa het ’n beroep op die minister, NSFAS-direksie, universiteite, tegniese kolleges en akkommodasieverskaffers gedoen om voor die aanvang van die 2024 akademiese jaar dringend aan ’n oplossing te werk om volgende jaar dieselfde of selfs groter chaos te voorkom. “Ons land kan nie meer chaos bekostig nie, en arm studente verdien nie om behandel te word asof hulle nie saak maak nie,” sê Heyneke.

  • Die volledige verslag kan hier gelees word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top