As deel van die sewende Week van Nederlands het die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) ’n kortfilmkompetisie uitgeroep. Die wenners is op Saterdag 9 Oktober 2021 tydens ’n uitsending vanaf Studio SASNEV bekendgemaak.
Drie films het die kortlys gehaal:
- Ashurah Carr se Een tasje koffie
- Simoné Coetzee en Kaitlin Hurter se Wat betekent Nederlands voor mij?
- Christopher Williamson se Nederlands spreek my aan..
In hierdie video ontmoet ons die bestuur van die SAVN, ons sien al drie die kortfilms op die kortlys, ontmoet van die filmmakers en hoor ook wie die wenner was.
Dié kompetisie is moontlik gemaak deur ’n ruim bydrae van die Vlaamse verteenwoordiger in Suid-Afrika en geld wat deur die Taalunie bewillig is.
***
Hier onder is elkeen van die drie films, met ’n paar woorde van elke filmmaker waarin hulle hulself voorstel.
Ashurah Carr: “Ek is 'n twintigjarige derdejaarstudent wat baie belangstel in tale. Ek studeer tans die Nederlandse taal om in die toekoms 'n B2-sertifikaat te verwerf. Ek het dit baie geniet om my kortfilm te maak, want ek kon meer in aanraking kom met my kreatiewe kant en kon ook my eerste gedig saamstel.”
Simoné Coetzee: “Ek voltooi tans my honneurs in Afrikaans en Nederlands by Stellenbosch-universiteit. Ek skryf graag poësie, prosa en drama. Ek hoop om eendag in die filmbedryf te werk. Met ons kortfilm het ek net weer besef hoe lief ek is vir die skryf en bymekaarsit van ’n storie wat voor ’n mens se oë beweeg.”
Kaitlin Hurter: “Ek is ’n finalejaarstudent (BA Taal en Kultuur) aan die Universiteit Stellenbosch. Ek leef my passie en kreatiwiteit deur kuns, fotografie en videografie uit.”
Christopher Williamson: “Ek is ’n derdejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad, en is besig om my BA graad te voltooi. Ek hou baie van skryf en lees en wil eendag hierdie passie in die onderwys gebruik.”