Meer as die helfte van alle Suid-Afrikaners meen dat die internet ’n positiewe invloed op hulle lewe het. Die meeste Suid-Afrikaners dink egter nie dit bevorder morele waardes nie.
Volgens die jongste navorsing deur die Pew Research Center sê 50% Suid-Afrikaners wat die internet gebruik dat die groter gebruik daarvan ’n goeie invloed op die land se politiek het. Almal is egter nie so oortuig daarvan dat die internet ’n positiewe invloed op morele waardes het nie. Slegs 47% van die Suid-Afrikaners wat aan die steekproef deelgeneem het, dink so.
Die Pew-navorsingsgroep het na die internetgewoontes van mense in ses sub-Sahara-lande in Afrika gekyk, naamlik Kenia, Nigerië, Ghana, Senegal, Tanzanië en Suid-Afrika.
Die navorsing het veral ten opsigte van opvoeding, die ekonomie en persoonlike verhoudings positiewe resultate opgelewer. Afrika se inwoners is oor die algemeen minder beïndruk met die invloed wat die internet op morele waardes het.
Nigeriërs was baie meer optimisties oor die internet as Suid-Afrikaners. Dié land se inwoners glo dit het ’n positiewe invloed op alle lewensterreine, en baie glo dat dit wondere verrig vir die gemeenskap.
Daarteenoor glo slegs 27% van Senegal se inwoners die internet is goed vir die gemeenskap se moraliteit.
Suid-Afrikaners plaas opvoeding heel bo aan die lys van die voordele wat die internet bied. Meer as 80% van die land se bevolking glo die internet is tot voordeel van ’n beter opvoeding.
Ondanks die talle voordele wat die internet bied, het die studie ook bevind dat daar ’n groot diskrepansie is tussen die gebruik van slimfone en basiese selfone onder die verskillende inkomstegroepe. Byna 70% Suid-Afrikaners in die hoërinkomstegroepe besit ’n slimfoon teenoor slegs 37% van die laerinkomstegroepe wat met slimfone kan spog.
Byna 90% van die laerinkomstegroep in Suid-Afrika het wel ’n basiese selfoon en 95% Suid-Afrikaners in die hoërinkomstegroep ook. Dit is aansienlik hoër as in die ander vyf lande wat deel was van die navorsing. Die gaping tussen die laer- en hoërinkomstegroepe is egter die grootste van almal in Suid-Afrika.
Wat ook opvallend was van die studie, is die tipe aktiwiteite waarvoor die meeste mense hulle selfone gebruik, hetsy dit slimfone of basiese selfone is. Slegs sowat ’n derde van sub-Sahara-Afrika se inwoners gebruik hul selfone om nuus en inligting te bekom. Die meeste mense verkies om dit vir sosiale media en vermaak in te span. Slegs 35% Suid-Afrikaners sê hulle gebruik hul selfone om op hoogte bly van die politieke nuus of om inligting oor pryse te bekom. Meer as die helfte van die mense in Suid-Afrika gebruik hulle selfone hoofsaaklik om gereeld op sosiale media te verkeer.
Sub-Sahara-Afrika se internetgebruik het die afgelope aantal jare dramaties toegeneem. Dit het volgens die studie egter ook tot ’n hele aantal probleme gelei, soos die verspreiding van fopnuus, politieke manipulasie en finansiëlebedrogskemas. Desondanks het die Pew-navorsingstudie bevind dat die meeste mense in sub-Sahara-Afrika positief voel oor die rol wat die internet in hulle onderskeie lande speel.
- Meer inligting oor die navorsing kan hier gelees word.