Terwyl die land swaar gebuk gaan onder beurtkrag en Eskom spartel en spook om die ligte aan te hou, loop substasies en kragbokse in dele van die land onder vandale deur.
Die bewaking van kragbokse en kragvoorsieningspunte in Krugersdorp, wat ten duurste deur ’n private sekuriteitsmaatskappy namens die Mogale City plaaslike munisipaliteit gedoen word om diefstal te probeer bekamp, plaas groot bykomende druk op belastingbetalers.
Mogale City se wankelrige finansiële status word verder onder druk geplaas deurdat hulle 700 kragpunte bewaak om diefstal van kragbokse en kragkabels en by minisubstasies te probeer voorkom.
Die VF Plus het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle is van mening dat die toevloei van haweloses wat in honderde klein tente op sypaadjies veral in die middedorp woon, ’n bydraende faktor tot hierdie soort misdaad kan wees. Baie van die tentbewoners het nou ook na verskillende woongebiede verhuis.
Maandagoggend (12 September) is twee kragbokse in Krugersdorp verwoes, waarna die middedorp sonder krag gelaat is.
Die sekuriteitsmaatskappy het ’n hawelose verdagte in hegtenis geneem. Die munisipaliteit het reeds met herstelwerk begin.
Die bewaking van kragbokse en kragvoorsieningspunte in Krugersdorp, wat ten duurste deur ʼn private sekuriteitsmaatskappy namens die Mogale City-plaaslike munisipaliteit gedoen word om diefstal te bekamp, plaas groot bykomende druk op belastingbetalers. https://t.co/GaFWUUhfmC
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) September 13, 2022
Verlede week is ’n kragboks in Noordheuwel verwoes. Inwoners van die woonbuurt was ’n dag sonder krag.
Lourens Gouws van die VF Plus sê inwoners van Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) word nie net een of twee keer per dag deur beurtkrag geraak nie, maar soms vir dae wanneer ’n kragboks verwoes word.
Die VF Plus doen ’n beroep op inwoners om aan te sluit by hul plaaslike buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums en selfs straatforums om die diefstal van infrastruktuur en by huise en ondernemings te help voorkom.
AfriForum se Vanderbijlpark-tak het ses substasies, oor ’n tydperk van drie weke, saam met Sekuriteit Sonder Grense beveilig deur alarmstelsels te installeer wat deur Sekuriteit Sonder Grense gemonitor gaan word.
𝗠𝗲𝗱𝗶𝗮𝘃𝗲𝗿𝗸𝗹𝗮𝗿𝗶𝗻𝗴
.@AfriForum se Vanderbijlpark-tak beveilig substasies https://t.co/h4nHjHMOBH— AfriForum (@afriforum) September 12, 2022
Dié besluit om alarmstelsels by hierdie substasies te laat installeer het gekom nadat daar verskeie kere by hierdie substasies ingebreek en kabels gesteel is. Dít veroorsaak dat die gemeenskap soms vir dae lank sonder krag moet klaarkom, sê AfriForum in ’n verklaring.
“Hierdie ses substasies is saam met verskeie rolspelers geïdentifiseer. AfriForum se Vanderbijlpark-tak hoop dat dit ’n verskil sal maak en dat diefstal en die sabotering van substasies op dié manier hokgeslaan sal word,” sê Stephanus Blignault, distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.
Mense wat by hierdie aktiewe tak wil aansluit, kan ’n e-pos aan vanderbijlpark@afriforumtak.co.za stuur.
Eskom het Maandag gesê die land kan in die volgende jaar vir minstens 49 weke fase 2-kragonderbrekings ervaar. Skaars ’n dag nadat Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, Maandag op ’n nuuskonferensie gesê het Eskom vra opreg om verskoning vir die situasie waarin die kragvoorsiener hom bevind en dat beurtkrag Dinsdagoggend tot fase 2 afgeskaal sou word en vir die res van die week op daardie vlak sal bly, is daar Dinsdagoggend weer fase 4-beurtkrag ingestel.
Dit is genoodsaak toe drie van die Kendal-kragstasie-eenhede (1 920 MW maksimum opwekkingskapasiteit) skielik onklaar geraak het. Dit het Eskom gedwing om Dinsdagoggend 10:00 tot Donderdagoggend met die implementering van fase 4-beurtkrag te begin.
A sudden tripping of three Kendal Power Station units (1 920MW maximum generating capacity) has forced the implementation of Stage 4 loadshedding starting at 10:00 THIS morning until 05:00 on Thursday morning. A full statement will be published shortly
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) September 13, 2022
Oberholzer het Maandag gewaarsku dat meer kragonderbrekings ingestel sal moet word indien beskikbare kapasiteit onder druk is. Hy het gesê totdat die kragvoorsier se nuwe projekte gerealiseer het, sal hulle moet staatmaak op die ou onbetroubare steenkoolvloot wat steeds agteruitgaan weens onvoldoende geleentheid om betroubare instandhouding te verrig.
Fase 4 sal na verwagting tot Donderdagoggend 05:00 duur. Daarna sal dit tot Vrydag om middernag na fase 2 verlaag word.
Eskom sê hulle moes Dinsdagoggend na fase 4-beurtkrag oorskakel toe ’n steenkoolvervoerband by Kendal gebreek het.
Die kragvoorsiener sê in ’n verklaring die vervoerband wat steenkool aan Kendal-kragstasie besorg, het in die vroeë oggendure onklaar geraak. “Om steenkool te bespaar, is die uitset van die kragopwekkers verminder. Dit het vereis dat brandstofolie gebruik word om die ketelverbranding te onderhou,” het Eskom gesê.
“Gevolglik moes die brandstofolie-aanleg wat die eenhede voorsien, sluit. Dit het gelei tot die uitval van die drie opwekkingseenhede. Die Kendal-eenhede sal na verwagting teen die naweek weer in diens wees.”