Suid-Afrika aangewys as die vriendelikste land ter wêreld

  • 0

Suid-Afrika is in ’n onlangse meningspeiling aangewys as die vriendelikste land in die wêreld. ’n Yslike 97% Suid-Afrikaners wat aan die peiling deelgeneem het, stem saam met ander lande se mense dat ons die vriendelikste nasie ter wêreld is.

Die studie is deur die verhuisingsgroep Remlity gedoen om uit te vind watter van die wêreld se nasies die vriendelikste is. Remlity se studie het Suid-Afrika as pragtig en divers beskryf en as ’n uitsoekbestemming vir diegene wat wil hervestig.

Meer as 3 000 deelnemers regoor die wêreld is gevra om ’n reeks vrae te beantwoord gebaseer op die Groot 5 Persoonlikheidstoets. Die toets sluit vyf sleutelpunte in wat bekend staan ​​as die vyf-faktor-model van persoonlikheid of OCEAN model. ’n Groepering van vyf unieke eienskappe word gebruik om mense se persoonlikheid te bestudeer.

Suid-Afrika het die hoogste telling behaal op die Groot 5 Persoonlikheidstoets se “aangenaamheid”-eienskap met ’n indrukwekkende 34,63 uit 40.

Die top vyf vriendelikste lande in die wêreld is Suid-Afrika, Griekeland, Kroasië, Mexiko en Swede. België is 10de op die lys met 32,50 uit 40 en Nederland 16de met 32,27 uit 40.

Om die top 10 af ​​te rond is België uitgesonder as die tuiste van heerlike sjokolade, bier en pragtige argitektuur. Die land se vriendelike inwoners sal volgens die studie help om die skuif na België nog gladder te maak vir diegene wat daarheen verhuis.

Hoewel baie Suid-Afrikaners nie noodwendig sou saamstem nie, het die verslag die land se  “bekostigbare lewenskoste” uitgelig as ’n groot pluspunt wanneer verhuising oorweeg word.

Een van die groot voordele van lewe in Suid-Afrika is volgens die respondente veral die bekostigbare lewenskoste ten opsigte van behuising vergeleke met die meeste ander lande. Dit het ook ’n ongelooflike verskeidenheid wild, en ’n warm klimaat wat inwoners in staat stel om die uitgestrekte kuslyn te geniet en te verken.

Die land se inwoners is volgens die studie bekend daarvoor dat hulle warm en verwelkomend is, wat dit maklik maak vir reisigers en besoekers om op hul gemak te voel in Suid-Afrikaners se teenwoordigheid.

“Dit is nie ongewoon om deur beleefde vreemdelinge gegroet te word terwyl hulle in die straat stap nie. Suid-Afrikaners hou oor die algemeen daarvan om gesellig saam te verkeer en het ’n goeie humorsin en geniet dit om grappe te maak,” lui die bevindings.

’n Bykomende pluspunt is volgens die navorsing dat daar 11 amptelike tale is wat in Suid-Afrika gepraat word (Engels, Afrikaans en nege ander tale), wat beteken dat daar volop maniere is om met die plaaslike inwoners te kommunikeer en nuwe vriende te maak.

Meer as die helfte (57%) van mense het vir hul eie nasies as die vriendelikste land gestem. In Suid-Afrika se geval het 97% van die Suid-Afrikaners wat deelgeneem het, gesê dat hul eie land die vriendelikste nasie ter wêreld is.

Alhoewel sommige nasies dalk vriendeliker as ander lyk, is dit volgens die studie belangrik om die plaaslike gemeenskappe waarheen daar verhuis word se kulture en gebruike te leer ken om vriende te maak ongeag waarheen mens verhuis.

“Waar jy ook al ’n nuwe lewe begin, kan dit ’n rukkie neem, maar jy sal sekerlik eendersdenkende mense vind wat jou ervaring om in die buiteland te woon nog meer spesiaal sal maak,” aldus die verslag.

Die studie se resultate is bekom deur middel van die Prolific-opname waartydens 3 000 deelnemers van 27 lande regoor die wêreld getoets is op die “aangenaam”-eienskap van die Groot 5 Persoonlikheidstoets wat aan hulle ’n telling van tussen 1 en 40 gegee het ten opsigte van hoe “aangenaam” hulle is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top