Suid-Afrika bekend onder Nederlandse parlementslede

  • 0

Foto: Pixabay.com

Suid-Afrika is geen onbekende tema onder die 150 parlementslede wat pas in Nederland se Tweede Kamer verkies is nie.

Die regs-liberale VVD-party van premier Mark Rutte is die vierde keer agtereenvolgens sedert 2010 die sterkste regeringsparty. Die VVD is internasionaal ’n susterparty van die Demokratiese Alliansie (DA) en bied tydens die koronakrisis blykbaar ’n vaste baken vir kiesers. Die presiese getal setels van partye kan nog effens verander, maar die VVD kry sowat 35 setels.

.........

Baie ondersteuners van linkse partye het op 17 Maart takties gestem en liewer hulle stemme agter die links-liberale D66 konsolideer.

...........

Baie ondersteuners van linkse partye het op 17 Maart takties gestem en liewer hulle stemme agter die links-liberale D66 konsolideer. Die party voer onder Sigrid Kaag ’n promigrasie en pro-EU-beleid. D66 kon inderdaad met ’n eindversnelling die nasionalistiese Partij van de Vrijheid (PVV) se tweede plek oorneem. Met sy groei tot 23 setels sal die party waarskynlik weer deel van die regering wees. Pia Dijkstra, ’n D66-parlementslid wat in haar jong dae betrokke was by die ANC se Radio Freedom, was nie beskikbaar vir D66 se kandidatelys nie.

Die anti-Islam PVV van Geert Wilders het 17 setels gekry. Dit bly parlementêr die grootste bedreiging vir die hoofstroompartye. Van hulle het aangedui dat hulle nie die PVV in ’n koalisieregering wil betrek nie. Die PVV se steun beperk sulke partye dan tot koalisies met meer as drie partye in ’n gefragmenteerde politieke arena.

Die Christen-Demokratiese Appèl (CDA) het etlike setels verloor en met 15 setels geëindig. Suid-Afrikaners kan bly wees dat ‘n bekwame CDA-parlementslid soos Pieter Omtzigt wel herkies is. Omtzigt doen goeie werk rakende die internasionale beskerming van die regstaat en van klein groepe.

Parlementsmosie oor onteiening

Ongelukkig het sy kollega Martijn van Helvert waarskynlik sy setel verloor. Hy het in 2018 en 2019 ’n kernrol gespeel in die Nederlandse politiek rakende Suid-Afrika. Op 13 Maart 2018 het ek in Brussel ’n lesing oor plaasmoorde en die ANC se nuwe beleid van onteiening sonder vergoeding (OSV) gegee. Van Helvert se een beleidsmedewerker het my daar vir inligting genader.

Twee weke later het hy, ongetwyfeld ook met ander bronne, begin om skriftelike parlementsvrae oor OSV en plaasmoorde te stel. Opvolgvrae is ook in Junie en in Desember 2018 gestel. Van Helvert het voor die skriftelike vrae weer ontledings oor OSV en plaasmoorde van my en van Alana Bailey van AfriForum ontvang en aktief daarmee omgegaan.

Teen Augustus 2018 het die VVD-parlementslede Han ten Broeke en Helma Lodders ná die parlementsreses ook kritiese vrae begin stel oor die ANC se onteieningsbeleid. Teen middel-2019 het dit uitgeloop op ’n mosie deur Van Helvert en Kees van der Staaij wat die OSV-beleid as in stryd met internasionale menseregte bestempel het. Die VVD, PVV en CDA was onder die partye wie se steun meegebring het dat die Nederlandse parlement die mosie aanvaar. 

Tydens en na elke termyn is daar baie parlementslede wat die parlement verlaat. Dit gebeur as hulle partye setels verloor of parlementslede na ander openbare poste, denktenks of die sakelewe oorstap. Hierdie keer geld dit vir 40% of meer van die lede. Sowel Ten Broeke as Lodders is byvoorbeeld intussen uit die Tweede Kamer. Dit moet nog blyk wie onder die nuwe VVD-parlementslede die portefeulje van buitelandse sake sal hanteer.

Bande met Suid-Afrika

.........

Die sosiaal-demokratiese Partij van de Arbeid (PvdA) kon nege setels behaal. Die ANC is die PvdA se susterparty in Suid-Afrika. Die PvdA het steeds in die visevoorsitter van die Europese Kommissie, Frans Timmermans, ’n invloedryke stem. Die goed-ingeligte Timmermans ondersteun ook veeltaligheid en die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika.

............

Die sosiaal-demokratiese Partij van de Arbeid (PvdA) kon nege setels behaal. Die ANC is die PvdA se susterparty in Suid-Afrika. Die PvdA het steeds in die visevoorsitter van die Europese Kommissie, Frans Timmermans, ’n invloedryke stem. Die goed-ingeligte Timmermans ondersteun ook veeltaligheid en die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika.

Kees van der Staaij, die leier van die klein konserwatiewe Christelike party, die Staatkundig-Gereformeerde Party (SGP), is met nog twee partylede herkies. Van der Staaij is sedert 1998 in die parlement. Hy was waarskynlik die eerste parlementslid wat in die parlement kritiese vrae oor plaasmoorde en ander geweldsmisdaad in Suid-Afrika geopper het. Hy het, soos bo genoem, saam met Van Helvert suksesvolle mosies van kritiek op die ANC se onteieningsbeleid en op plaasmoorde in 2019 ingedien.

Martin Bosma van die PVV is ook herkies. Bosma het baie kennis oor die geskiedenis van Afrikaner-Nederlandse bande en is ’n uitgesproke ondersteuner van Afrikaners. Sy boek Minderheid in eigen land behandel die steun van sommige Nederlanders vir die ANC se uitdelgstryd teen die Inkatha-Zoeloes.

Etlike nuwe partye se kandidate het setels in die parlement gewen. Derk-Jan Eppink is vir die nuwe regs-nasionale party JA21 van Joost Eerdmans verkies. Eppink, voorheen in die VVD se regtervleuel, is goed bekend met kwessies rakende Suid-Afrika en die Europese Unie. JA21, wat drie setels gewen het, is ’n afsplitsing van Thierry Baudet se Forum vir Demokrasie (FvD), wat agt setels gewen het. Een van die FvD se suksesvolle kandidate was ’n Nederlander wat in Suid-Afrika grootgeword het, Simone Kerseboom.

Nuwe partye

’n Ander nuwe party in die parlement is Bij1, met Sylvana Simons, die Surinaams-gebore kandidaat, as enigste verteenwoordiger. Sy sien haar party as die politieke arm van die Black Lives Matter-beweging en het in 2017 ook die Marxisme Festival in Amsterdam toegespreek. Sy bou haar party op met steun van lede van die feministebeweging en die voormalige antiapartheidsbeweging (AABN).

Enkele oudlede van die AABN is ook te vind in adviesposisies in Groenlinks, wie se seteltal na agt verander het. Ander is nog onder die amptenary, by universiteite of in denktenks. Hulle is soms ontnugter oor die ANC se lot onder Zuma, maar meestal teenstanders van organisasies soos AfriForum.  Onder die jeugbewegings van partye soos die CDA, SGP en VVD, daarenteen, is daar meer begrip vir klein groepe se uitdagings in Suid-Afrika.

Sedert die afgelope parlementstermyn in 2017 begin het, is daar geen kritiese parlementsvrae oor die Zuma-bewind gestel deur parlementslede van D66, die PvdA, Groenlinks of die Sosialistiese Party nie. Nederlandse sake-, politieke en kultuurbelange in Suider-Afrika verg ’n gebalanseerde benadering, maar nie volstruispolitiek nie.

.........

Gebeure in Suid-Afrika sal nooit die hooffokus wees van Nederlandse beleid oor buitelandse sake nie. Die bedreigings vir die regstaat, klein groepe, eiendomsreg en menseregte in Suid-Afrika raak egter die belange van tienduisende burgers van Nederland in Suid-Afrika.

...........

Gebeure in Suid-Afrika sal nooit die hooffokus wees van Nederlandse beleid oor buitelandse sake nie. Die bedreigings vir die regstaat, klein groepe, eiendomsreg en menseregte in Suid-Afrika raak egter die belange van tienduisende burgers van Nederland in Suid-Afrika. Na die afgelope verkiesing is daar heelwat Nederlandse parlementslede wat hierdie temas in Suid-Afrika sal monitor.

Lees ook:

Westerse ontnugtering en die Nederlandse parlementsbesluit

 

 

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top