Suid-Afrika by Verenigde Nasies aangekla oor "rasmalheid"

  • 0

Die Suid-Afrikaanse regering is Maandag in Genève, Switserland by die Verenigde Nasies (VN) deur die vakbond Solidariteit aangekla oor wat Solidariteit rasmalheid noem.

Dit is die eerste keer dat die Suid-Afrikaanse regering formeel by die VN oor rassediskriminasie aangekla word ingevolge die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Rassediskriminasie (ICERD).

Die vakbond sê in ’n verklaring indien Solidariteit se klag slaag, dit die aangesig van die regering se rassebeleid vir altyd kan verander.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is dié klag ’n historiese klag. “Suid-Afrika is die mees rasgereguleerde land in die wêreld. Die regering het rasmal geword. Ras het die hoogste reg geword en dit word selfs verder gevoer as wat internasionale konvensies toelaat. Ons durf nie toelaat dat Suid-Afrika se rasmalheid genormaliseer word nie,” sê Hermann.

’n Afvaardiging van Solidariteit het op 24 September uit Suid-Afrika na verskeie Europese lande vertrek om daardie lande te probeer oorreed om die Suid-Afrikaanse regering onder druk te plaas.

Nederland en verskeie ander Europese parlemente gaan ook gevra word om politieke druk uit te oefen teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid en die korrupsie en misdaad in die land.

Hermann het Maandag op Twitter gesê: “Vandag is die groot dag. Massaklag word in Genève teen SA-regering by Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie ingedien. Dankie vir julle wat die klag steun.”

Daar was gemengde reaksie op Hermann se Twitterboodskap. Sommige het dit verwelkom, maar ander was skepties. “Ek wil ook asseblief by julle kom werk, ek kan doen met ’n verniet vakansie; my missie gaan wees om kwellende Afrikaner kwessies te bevorder op ’n strand in Griekeland met ’n Mojito in die hand. Na Ernst se fox nuus vakansie is enige iets moontlik!” het Emil Arthur geskryf in reaksie op Hermann se twiet.

Meer as 300 000 Suid-Afrikaners het volgens Solidariteit hul steun tot die klag toegevoeg, wat dit ook die grootse internasionale massaklag van sy soort maak. Freddie Engelbrecht, ’n voormalige adjunkstreekkommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste in die Wes-Kaap en ’n aktivis teen diskriminasie teenoor bruin werknemers in die Wes-Kaap, het formeel as vriend van Solidariteit se klagproses toegetree.

Die Suid-Afrikaanse regering het ICERD (in 1998) bekragtig. Dit beteken volgens Solidariteit dat plaaslike wetgewing by die konvensie aangepas moet word.

Die huidige klag volg ná ’n lang stryd wat Solidariteit al sedert 2016 by die VN oor die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid voer.

Solidariteit het in 2016 voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn na aanleiding van ’n skaduverslag wat Solidariteit by dié komitee ingedien het. ’n Skaduverslag is ’n kommentaar op die regering se gereelde amptelike verslag wat by die komitee ingedien moet word. CERD het daarna ’n aanbeveling gemaak waarin kritiek op die regering se rasseklassifikasie uitgespreek word. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het daarna ’n gelykheidsverslag gepubliseer en gesê die regering moet die Wet op Gelyke Indiensneming wysig om in ooreenstemming met die internasionale konvensie te wees. Die regering het egter geweier om die aanbevelings te implementeer.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit, bepaal die ICERD dat daar nie aparte regte vir aparte groepe mag wees nie. CERD en die SAMRK het kritiek teen die regering se rasseklassifikasie en absolute rassebenadering uitgespreek.

“Solidariteit het nou alle interne remedies uitgeput en kan nou ’n substantiewe klag by CERD indien. ’n Substantiewe klag is ’n regsproses en die klag gaan deur ’n paneel bestaande uit internasionale regskenners aangehoor word. Ons het ’n baie lang pad gestap, maar is nou in ’n baie sterk regsposisie,” het Van der Bijl gesê.

Volgens Solidariteit sal CERD se uitspraak bindend wees op Suid-Afrika en sal Suid-Afrika sy wette by internasionale konvensies moet aanpas. Indien Suid-Afrika weier om daaraan uitvoering te gee, kan die konvensies diplomatieke druk op Suid-Afrika plaas. ’n Positiewe uitspraak sal Solidariteit ook in ’n sterk posisie plaas om die aanbevelings deur middel van die Suid-Afrikaanse howe af te dwing en om die regering te dwing om wetgewing te verander.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top