Suid-Afrika, die land van kommissies?

  • 0

Ons land is met die jare heen al op velerlei en uiteenlopende wyses beskryf om spesifieke tydperke vas te vang of om die oorhoofse gemoedstoestand (opgewondenheid oor die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinnings, byvoorbeeld), politieke temperatuur (soos die onsekerheid nadat geen party ’n volstrekte meerderheid in die 2024-verkiesing kon behaal nie), of die voorkoms van bepaalde gebeurtenisse (staatskapingkorrupsie), soorte misdade (moordsyfers), of siektetoestande (MIV of Covid) aan te teken.

Sommige kere is die beskrywings ’n kompliment; ander kere ’n klad op die land se naam.

Hier is enkele voorbeelde: “Geknelde land”, behoort aan die Afrikaanse skrywer FA Venter; “beloved country” is deur ’n Engelse skrywer, Alan Paton, met ons gedeel. Ook, heel dikwels nog, veral wanneer ons deur een of ander politieke krisis getref word, word Jan Smuts se stelling afgestof dat Suid-Afrika ’n land is “waar die ergste nooit gebeur nie”; minder dikwels word die tweede deel bygevoeg – “en die beste ook nie” – omdat dit gewoon te sinies (en eintlik ook maar onakkuraat) is.

In die jare wat ons demokratiese bestel voorafgegaan het – sal ek dit die angsjare van afwagting noem? – het die Amerikaanse antropoloog Vincent Crapanzano die boek Waiting: the whites of South Africa geskryf. Hierin het hy bepaald die wit vrese beskryf oor die moontlike ekonomiese, lewenstyl-, identiteits- en status-ontneming wat hulle in die gesig sou staar, maar ook beskrywings van die afwagting by swart mense oor of die “nuwe Suid-Afrika” ’n wesentlike verskil aan hulle lewe sou maak. In die geval van bruin mense, het Crapanzano ’n onsekerheid bespeur oor of hulle beter behandeling sou kon verwag en of die toekoms dieselfde (of ’n erger) afskeep-posisie as voor 1994 sou inhou. En so kan ’n mens aangaan; overgesetsynde, “and so on and so forth”, om oudpresident Thabo Mbeki aan te haal.

Maar in die jare ná die land se politieke omwenteling was dit veral twee beskrywings wat die opskrifte gehaal het en die wêreld ingestuur is. Dit is aartsbiskop Desmond Tutu se “reënboognasie”-verwysing ter viering van die land se kultuur-diverse burgery en – danksy oudpresident Nelson Mandela se vergewensgesindheid – het ons ook dan vir die wêreld die verpersoonliking geword van ’n land van versoening.

Tussendeur het Mbeki ook sy eie – omstrede – frase geskep toe hy (destyds nog as adjunkpresident) Dickens se A tale of two cities aangepas het om Suid-Afrika te beskryf as “een land met twee nasies” in ’n debat in Mei 1998 oor versoening en nasiebou. Die een, aldus Mbeki, is “wit en relatief voorspoedig”; die tweede, groter een sou “swart en arm” wees. Maar dit was nie veronderstel om so uit te draai nie, het hy destyds gesê, aangesien ’n aansienlike deel van die versoenings- en nasiebouproses moes wees dat ’n duidelike verandering bewerkstellig moes word in die materiële omstandighede van die voorheen onderdruktes.

Dié “land van versoening” het juis daarom ’n ooreenkoms aangegaan tussen verteenwoordigers van die voormalige onderdrukkersklas en die voorheen onderdrukte klas. Dit was ’n ooreenkoms vir vrede; ’n wegbeweeg van vergelding; en om regstelling en bemagtiging vir die ontheemdes teweeg te bring. Wat wel addisioneel daartoe moes gebeur, is dat diegene wat vir die vergrype verantwoordelik was, verskoning moes vra én die waarheid oor die vergrype voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK / TRC) moes ontbloot. In ruil hiervoor sou die skuldiges dan om amnestie aansoek kon doen. Maar in die gevalle waar nie om amnestie aansoek gedoen is nie, of waar die beweerde oortreder nie die volle waarheid vertel het nie, moes die Nasionale Vervolgingsgesag strafregtelike klagte teen sodanige individue aanhangig maak.

Nie veel het egter daarvan gekom nie; derhalwe het 25 families en oorlewendes van politieke misdade uit die apartheidsera in Januarie vanjaar ’n saak in die Hooggeregshof in Pretoria teen die regering aanhangig gemaak. Hulle eis “grondwetlike vergoeding” (constitutional damages) omdat hulle glo die feit dat weinig nog van die WVK-vervolgings gekom het, is ’n gruwelike mislukking aan die kant van die staat. Die saak lys Ramaphosa, die ministers van justisie en polisie, asook die hoof van die vervolgingsgesag en die nasionale polisiekommissaris as respondente; die klaers eis R167 miljoen rand, wat aangewend sal word vir verdere ondersoeke, litigasie, monumente en openbare opvoeding oor die historiese gebeure wat tot die saak aanleiding gegee het.

Dit is in werklikheid ’n morele aanklag teen die staat: Anders as elders, waar van die ergste menseregtevergrype van ons tyd geskied het, byvoorbeeld Rwanda en lande (soos Duitsland en Pole) wat by die Joodse menseslagting (Holocaust) betrek word, kom dit lank reeds voor asof Suid-Afrika sedert die afhandeling van die WVK se werk, ’n sluier oor die verlede wil trek. Of, soos ook vermoed word, dat daar gehoop word dat stilswye van die staat se kant die slagoffers aan die slaap sal sus oor hul ongeneesde wonde. Toe nou nie. En nou het Ramaphosa op die klag gereageer deur sy aankondiging dat ’n kommissie van ondersoek wel aangestel gaan word om vas te stel, soos die slagoffers eis, dat politieke inmenging die oorsaak is daarvan dat weinig vordering nog met sogenaamde WVK-sake gemaak is nie.

Ons land se geskiedenis met kommissies van ondersoek – uitgerekte sittings teen ongelooflike kostes, maar met weinig optrede nadat die kommissie se verslag afgehandel en aan die regering oorhandig is – maak Suid-Afrikaners egter baie skepties oor die president se aankondiging. Dit was vóór 1994 so en die gebruik duur ná 1994 voort. “Nóg ’n kommissie!” sug mense oor Ramaphosa se jongste aankondiging, terwyl die aanbevelings van die betreklik onlangse Zondo-kommissie na staatskaping nog nie eens uitgevoer is nie.

Die afhandeling van wat die klaers die “unfinished business of the TRC” noem, is onmisbaar vir Madiba se onvoltooide versoeningsprojek; ook die opbouproses waarna Mbeki verwys het. Die wonde van slagoffers is tog duidelik nog nie genees nie, kan almal duidelik sien: Die enigste sekerheid wat hulle het, is dat hul naasbestaandes gesterf het; die groot onsekerheid bly die omstandighede waaronder dit gebeur het.

En die dood behoort nie die laaste woord hieroor te wees nie, soos ’n mens leer uit ’n vertelling deur Charles Villa-Vicencio in die boek To remember and to heal – theological and psychological reflections on truth and reconciliation (met Russel Botman as een van die redakteurs, in 1996 uitgegee deur Human & Rousseau).

Die storie waarmee Villa-Vicencio sy bydrae tot die boek inlei handel oor ’n besoek aan die sogenaamde “Gate of Death” in Pole, deurpad na die Auschwitz 11-Birkenau-dodekamp. Hier vra ’n mede-reisiger uit Suid-Afrika, eerwaarde Gift Moerane, diep getref deur die besoek: “Is this the last word – death?” Villa-Vicencio bring die gedagte dan terug huis toe:

The memorials of death, the chauvinistic monuments of both colonial and apartheid rule that glorify the arrogance of those who violated the rights of others in the past, and the countless memories of suffering and death that make up the history of South Africa are numerous. They, too, speak of death.

Maar ook in ons geval, reflekteer Villa-Vicencio, behoort dit nie die slotsin van ’n verledensverhaal te wees nie. “Our dealing with the past must open the gate to new life in the future.”

Ons land sal egter slegs dié punt bereik wanneer die regering, nou 30 jaar nadat die WVK in die lewe geroep is, die afhandeling van die onafgehandelde besigheid van die WVK met dringendheid begin aanpak. Die spoke van die verlede moet immers nog behoorlik besweer (uitgedryf, tot ruste gebring) word.

’n Mens kan net hoop dat dit die president se beweegrede is vir die nuutste kommissie van ondersoek, wat hy gaan aanstel, want wil ons nou regtig hê dat die wêreld na ons kyk as die land van kommissies instel sonder praktiese uitkomste? Sonder praktiese uitkomste wat net dalk eendag nie te ver hiervandaan nie die pruttende pot van politieke onrustigheid kan laat oorkook ...

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top