Die regering se voorneme om die gas-tot-brandstof-aanleg in Mosselbaai met Russiese hulp weer aan die gang te kry, is besig om die wind al hoe meer van voor kry.
Benewens omgewingsgroepe wat woedend is oor die tender wat aan ’n Russiese maatskappy toegeken is vir die projek, het die DA Woensdag aangekondig dat hulle die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) gaan gebruik om die rekords van besluite wat daarmee verband hou, te bekom.
Die kabinet het Maandag PetroSA se aanbeveling onderskryf om Gazprombank Africa as die beleggingsvennoot te kies vir die herinstelling van die aanleg se produksie. Die kabinet het gesê die besluit is afhanklik van ’n finale beleggingsbesluit wat teen April verwag word.
Gazprombank, Rusland se derde grootste uitlener volgens bates en die de facto- finansiële arm van Rusland se staatsbeheerde gasmaatskappy Gazprom, is deur Amerikaanse sanksies getref in die nasleep van Rusland se inval in Oekraïne byna twee jaar gelede.
Die Russiese staatsbeheerde gasmaatskappy besit ’n belang van sowat 42 persent in Gazprombank
Suid-Afrika ontken dat hy besig is om Russiese sanksies te ignoreer as daar voortgegaan word om met Gazprombank ’n vennootskap te sluit.
Die DA sê in ’n verklaring hulle is diep bekommerd oor die onlangse verwikkelinge rondom die PetroSA-Gazprombank-transaksie en die regering se vasberadenheid om 2 500 MW se nuwe kernkrag te bekom.
⚡The PetroSA/Gazprombank deal with Russia, is just another form of blatant state capture in our energy sector.
The DA will not allow the abuse of power and potential corruption by foreign powers and our government to go unchecked.https://t.co/EyaIwsSero
— Democratic Alliance (@Our_DA) December 12, 2023
Hulle wil toegang hê tot alle relevante dokumentasie, insluitend bodkriteria, puntetelling, uitvoerbaarheid en koste-voordeel-ontledings, en enige dokumentasie wat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se opskortende voorwaardes rakende die s34-bepaling aanspreek. “Ons doelwit is om deursigtigheid in die besluitnemingsproses te ondersoek en te verseker, en lig te werp op die motiverings agter hierdie ooreenkomste.”
Die DA se skaduminister van minerale bronne en energie, Kevin Mileham, sê dit is duidelik dat die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie, PetroSA en die ANC-regering druk om hierdie ooreenkomste voor die komende nasionale en provinsiale verkiesings te finaliseer.
Hy sê die haas laat vrae ontstaan oor die rasionaliteit van hierdie besluite, veral gegewe die potensiële impak op die land se nasionale veiligheid en ekonomie, en dat dit ’n deeglike ondersoek van die besluitnemingsproses noodsaak. “Ons glo dat enige mislukking of teenstrydighede wat gevind word, ’n hersiening en moontlike omkeer van hierdie besluite kan regverdig, soortgelyk aan wat met die vorige kernkragooreenkoms gebeur het.”
Verder wil hulle duidelikheid hê oor die betrokkenheid van staatsakteurs by die PetroSA-transaksie en bevraagteken die wysheid daarvan om Gazprombank as die voorkeurbeleggingsvennoot te kies.
“Hierdie besluit stel Suid-Afrika nie net bloot aan die risiko van sekondêre sanksies nie, maar weerspreek ook die advies van die Nasionale Tesourie. Die oënskynlike verontagsaming van hierdie oorwegings deur die PetroSA-direksie en die kabinet vereis ’n verduideliking.”
Mileham sê die onlangse ontwikkelings dui op potensiële staatskaping in die energiesektor, en sy party verwerp kategories enige vorm van onbehoorlike invloed, veral van buitelandse regerings. Die keuse van Gazprombank en die goedkeuring van ’n buitelandse regering in die kernsektor laat vrae ontstaan.
“Die DA is daartoe verbind om ons ekonomie en nasionale veiligheid te beskerm. Ons sal hierdie transaksies streng ondersoek en alle nodige maatreëls tref om aanspreeklikheid en deursigtigheid in besluitneming te verseker. Ons fokus is daarop om ’n veerkragtige ekonomie te bou en handelsooreenkomste te verseker wat volhoubare ekonomiese groei tot voordeel van alle Suid-Afrikaners ondersteun.”
PetroSA-amptenare het gesê hulle het regsadvies ingewin en glo nie dat hulle Westerse sanksies sou oortree indien die Gazprombank-transaksie weer sou voortgaan nie.
“Hierdie sanksies is nie op Suid-Afrika van toepassing nie,” het Sesakho Magadla, PetroSA se waarnemende bedryfshoof, aan ’n media-inligtingsessie gesê.